3 vrae voor jy met jou kinders raas

0
89
dissipline

Jy het vir seker al jou humeur verloor. In ’n nie-so-vriendelike stemtoon het harde woorde jou kinders getref. Dink eers aan die volgende sake voor jy dissiplineer.

Jy het vir seker al jou humeur verloor. In ’n nie-so-vriendelike stemtoon het harde woorde jou kinders getref. Dink eers aan die volgende sake voor jy dissiplineer.

1. Waarom raas ek met my kinders?

Dis jou plig as ouer om jou kind te leer wat reg is… nie om jou as mens goed te laat lyk of voel nie. Dink mooi na oor hoekom jy jou kind wil straf. Raas ek met my kind omdat sy gedrag vir my ongemaklikheid en verleentheid veroorsaak het of omdat hy beginselloos opgetree het? Wil ek hom straf omdat hy my wil of ons gesin se waardes verontagsaam het?

Veronderstel jou kind onderbreek herhaaldelik jou gesprek met ’n ander volwassene. Jou motief behoort nie wraak te wees omdat jy geïrriteerd is nie. Dit moet eerder wees om hom te leer dat ’n mens uit respek nie ongeskik en onbedagsaam optree nie.

Indien jy net aan jouself dink, sal jy dalk sê: “Ek kan nie glo jy is so onbedagsaam nie. Ek is besig om met die tannie te praat en jy is ongeskik!” As jou motief reg is, eerder as selfsugtig, sal jy sê: “My liefie, dink jy dit is goeie maniere om my te onderbreek terwyl ek met iemand praat? Wat moet jy eerder doen?”

Leer jou kind byvoorbeeld om sy hand op joune te sit wanneer hy iets wil sê. Dan kan jy jou hand op syne sit as teken dat jy bewus is hy wil iets sê. Wanneer die oomblik hom voordoen, kan jy dan vir hom die geleentheid gee om te praat.

2. Is dit die regte tyd en plek?

Moenie jou kind ooit in die verleentheid probeer stel nie. Hy sal beter op jou opdragte reageer as hy nie skaam voel nie. Wanneer jy hom voor ander berispe, val die fokus nie meer op sy verkeerde optrede of die sonde in sy hart nie. Dit val nou op die vernedering wat hy onnodig ervaar.

Jou doel behoort te wees dat hy jammer moet voel oor wat hy gedoen het, nie om verleentheid te ervaar nie. Indien daar ander mense om julle is, sal dit meer vrugte afwerp om jou kind kalm na ’n ander vertrek te neem waar jy hom kan teregwys.

Die regte tyd en plek kan jou poging om dissipline toe te pas maak of breek. As jou kind dit as ’n persoonlike aanval beleef of dat jy hom voor ander wil terugkry, sal hy dalk eerder kwaad word as om jammer te wees oor wat hy gedoen het.

As dit werklik nie anders kan as om hom voor ander op sy verkeerde optrede te wys nie, doen dit op ’n ordentlike manier. Nie deur te skree nie.

3. Hoe klink my woorde en stemtoon?

Jy is net gereed om jou kind te straf wanneer jy met ’n normale stemtoon kan praat en jou woorde kan weeg. As jou kind verkeerd opgetree het, moet jy met hom praat, nie op hom skree nie. Skree kan nooit geregverdig word nie, ongeag die situasie. Wanneer jy skree, gebruik jy ook die meeste van die tyd afbrekende woorde ‒ woorde waaroor jy dalk later spyt sal wees.

Veronderstel dis winter en jy het vir jou kind gesê sy moet haar skoene aantrek voor sy uitgaan. Toe jy die vullissak buitentoe vat, sien jy egter hoe sy met blou-pers voete rondhardloop. Jy kan op haar skree en sê: “Ek het vir jou GESÊ om jou skoene aan te trek! Nou is jou voete half GEVRIES en KYK net hoe lyk jou broek! Jou pa werk SO HARD om hierdie klere te bekostig en DIS hoe jy jou waardering wys! Gaan BITTER VINNIG kamer toe. Vandag FOETER ek vir jou!”

Nee, sy het nie na jou geluister nie en sy was ongehoorsaam. Maar dink jy nie sy sal meer ontvanklik wees as jy liefde betoon en haar sagkens teregwys nie?

“Ek het jou gevra om jou skoene aan te trek voor jy uitgaan. Was jy gehoorsaam of nie?” As sy erken sy was ongehoorsaam, sê dan: “Nou ja, jy is my kind en ek is te lief vir jou om ongehoorsaamheid toe te laat. Gaan asseblief kamer toe, ek is nou daar.”

Vertaal en verwerk uit Disciplining Your Children Without Losing Your Cool (verwerk uit Don’t Make Me Count to Three deur Ginger Plowman).