33. Hoekom wil jy dit doen?

0
48
dieetwenke.jpg

Enige ma van ’n tweejarige woelwater sal jou vertel dat die woordjie “self” gereeld in die huis gebruik word. Tog verloor ons skynbaar daardie blindelingse vertroue in ons eie vermoëns om uitdagings te hanteer.

Is dit nie dalk tyd om die “ek kan self”-eiewilligheid as wapen in jou stryd teen die skaal te gebruik nie?

Jou verhouding met kos het lank gelede reeds begin vorm. Sommige van ons het geleer dat kos ’n troosmiddel en beloning is. Ander is weer van jongs af deur ’n kritiese ma beïnvloed wat dalk te veel klem op die uiterlike geplaas het. Dan moet ons ook nie van vergeet onsensitiewe aanmerkings van maats en familielede wat ons in skooljare moes aanhoor nie.

Stop die bus! Dit is tyd om die kringloop te verbreek en jou storie te herskryf.

Navorsing en praktiese ondervinding maak dit baie duidelik: ’n Besluit wat vanuit outonomiteit geneem word, is aansienlik meer suksesvol as ’n besluit wat vanuit outoriteit geneem word. Kortliks gestel: Jy sal meer sukses behaal om gewig te verloor as jy dit vir jouself doen eerder as wat ’n ondeurdagte opmerking van manlief of sosiale druk vanuit die media jou hoofmotivering is.

Wat is ’n goeie motivering vir gewigsverlies? Die voordele wat ’n gesonde gewig vir jou gesondheid inhou, is altyd ’n goeie beginpunt. Die fokus is op wat jou liggaam kan doen eerder as op hoe jy lyk. Wil jy weer saam met jou gesin ’n lang ent op die strand kan gaan stap sonder om halfpad tou op te gooi? Of saam met jou kinders of kleinkinders langbeen op die gras te sit en speel?

Wees dankbaar vir alles waartoe jou liggaam in staat is en maak dit jou missie om jou vervoermiddel hier op aarde in die beste toestand te hou – jou gees reis immers daarin!

DEEL
Vorige artikel‘n Rassistiese meme
Volgende artikel[VIDEO] Verander jou bekommernisse in hartsgesprekke
Hennie Stander
Hennie Stander is ’n prof in Grieks, maar wanneer hy preek en skryf, gebruik hy maklike Afrikaans. As predikant ken hy die vrae wat gelowiges kwel. As teoloog weet hy waar om na die antwoorde te gaan soek. Na die Here is sy vrou, kinders en kleinkinders sy grootste liefdes. En oor dit alles skryf hy al jare in boeke en sy baie bekende blog.