4 probleme wat getroude vroue verras

0
245
getroud.jpg

Baie vroue is verstom oor die realiteit van die huwelik ná die wittebrood. Hier is vier verrassende feite.

Ons weet die lewe is nie ’n sprokie nie; nogtans hoop ons steeds op ’n storieboekeinde waar man en vrou vir ewig en altyd gelukkig saambly. Soms is dit egter die mees onromantiese fasette van ’n verhouding wat jou die meeste oor jouself, jou man en die liefde leer.

Dit gaan soms baie vervelig wees

Op ’n goeie dag gaan jy wakker word, na die man langs jou kyk en besef die lewe saam met hom is nie so opwindend soos jy gedink het dit sou wees nie. Hy gaan jou beslis nie elke uur van die dag ekstaties gelukkig maak nie. Is dit regtig waartoe jy jou verbind het?

Dit is egter presies wat julle daardie dag aan mekaar belowe het, net tóé het jy nie geweet dat “deur dik en dun” nie net getoets word wanneer ’n tragedie julle tref nie. Dit word veral ook getoets deur die sleur van elke dag se saamwees. Dit is dan dat teleurstelling intree, selfs gevoelens van eensaamheid en rou.

Dis eers wanneer jy besef dat julle lewe saam soms baie vervelig kan wees dat jy gaan uitvind die werklikheid van ’n huwelik is baie meer vervullend as wat jy ooit sou kon droom. Hard, ja. Frustrerend, ja, maar vol van sy eie bekoring vir die reis wat julle saam aanpak.

Lees ook: As jy moeg word vir jou man

Die enigste een wat gaan verander, is jy

Ons het elkeen ons eie idee van hoe Mnr. Reg moet wees. En al weet ons dis nie regtig moontlik nie, probeer ons tog om Manlief te verander in die opvatting wat ons van die perfekte man het. In die regte lewe kan jy net een mens verander en dit is jouself. Dit is baie makliker om op jou reaksie op sy optrede te fokus as om sy jare lange idees en gewoontes te probeer verander.

“Ek het altyd kwaad geword as my man nie die vuilgoedsak uitvat as hy die kombuis skoonmaak nie,” vertel Christine de Klerk van Alberton. “Toe ek by my vriendinne hoor dat daar net ’n handjievol mans is wat met huistake help, het ek besef hoe gelukkig ek eintlik is. Deesdae kom ek by die huis en dink: Fantasties! Die kombuis is skoon. Al wat ek hoef te doen, is om die vullis uit te vat.”

Jy gaan jouself beslis beter leer ken

Almal het vrese en onsekerhede en deur die loop van jou huwelik gaan jy daarmee gekonfronteer word.

“Toe ons nog uitgegaan het,” vertel Elma Louw van Polokwane, “was die tekens reeds daar. Ek sou my man ‘toets’ deur te kyk of hy sy beloftes nakom. As hy gesê het hy sal agtuur bel en hy doen dit nie, was die gort gaar. My vrese het ook nie ná die troue verdwyn nie. Ek het begin om van elke molshoop ’n berg te maak.

“Dit was eers na intense selfondersoek dat ek besef het my onsekerhede het ’n lang geskiedenis. Dit het begin by beloftes wat deur my ouers gemaak is en nie nagekom is nie. Die konflik in ons huwelik het my gedwing om die gebrek aan vertroue uit my kinderjare te verwerk. Uiteindelik het ek nie net begrip vir my eie vrese gekry nie, maar was ek ook minder krities oor my man se foute.”

Soms gaan daar geen seks wees nie

Daar gaan tye wees wat jy nie in die bui vir seks is nie en soms gaan hy nie in die bui daarvoor wees nie. Sekslose tye is ’n natuurlike deel van ’n verhouding. Ten spyte van die media se uitbeelding het paartjies in die regte lewe nie so gereeld seks nie. In plaas van om te wonder oor hoeveel keer julle “veronderstel” is om intiem te wees, vind eerder julle eie ritme.

“Toe ons in ’n stadium lang tye nie seks gehad het nie, was ek baie bekommerd,” vertel Annelien Steyn van Bethlehem. “Dis eers toe ek nugter na ons leefstyl gekyk het dat ek perspektief gekry het. My man het pas by ’n nuwe plek begin werk. Hy moes dikwels laat werk en boonop het ons twee klein kindertjies gehad. Mettertyd het ons ander maniere gevind om fisieke kontak te hê. Soene, aanraking en massering kan wondere verrig om steeds naby aan mekaar te voel.”

’n Huwelik is nie net maanskyn en rose nie. Dis die harde realiteit van die lewe wat julle aan mekaar gaan bind tot die dood julle skei.

Lees meer: Pieter en Lotie Koen deel die 3 slaggate wat huwelike vernietig.

Geskryf, vertaal en verwerk deur Marlize Leyden na aanleiding van ’n artikel deur Ylonda Gault.