5 dinge wat hy móét hoor

0
13
5_dinge_wat_hy_moet_hoor.jpg

Soms vermoed jy hy is nie so gelukkig getroud as wat hy aanvanklik was nie.

Jy het jou man soos ’n koning laat voel toe julle pas getroud was. Nou voel hy moontlik afgeskeep omdat julle kinders, jou werk en ander verpligtinge jou tyd opneem. Deesdae voel dit vir hom asof hy net sowel ’n kombuis stoel kan wees.

’n Bietjie vertroeteling van jou kant af kan ’n reuse verskil maak in julle verhouding.

Dr. Callie Hugo, ’n sielkundige van Pretoria, sê dit is baie belangrik dat jy in jou man se emosionele bankrekening belê. As jy elke dag iets onttrek, maar niks terugsit nie, sal die bankrekening later leeg raak. As hy nie gereeld hoor wat hy vir jou beteken nie, gaan hy doodgewoon emosioneel bankrot raak in terme van julle verhouding.

Die lewe ís besig. Mense ry ses-uur al werk toe en kom eers sewe-uur vanaand by die huis, maak kos, en gaan slaap. Ons kan nie in die huwelik ingaan met net ons instinkte en reageer op mekaar se behoeftes nie. Ons moet bewustelik betrokke wees in ons huwelik en doelbewus die keuse maak om sinvol met mekaar te gesels.

Daar is vyf dinge wat elke man van sy vrou wil hoor en wat kan help om julle huwelik gesond en sterk te hou. Neem dus ’n wilsbesluit om hierdie goed gereeld vir jou man te sê, al is dit met jou lyftaal en gedrag:

1.“Praat met my – ek luister!”

In ons gejaagde wêreld het baie mense verleer om met mekaar te gesels, maar die bloed van enige verhouding is goeie kommunikasie. Veral mans lyk dikwels asof hulle nie wil praat nie maar hulle het dit nodig al sal hulle dit nooit erken nie. Eintlik wil hulle gehelp word om te praat – en dit kan net gebeur as hulle iemand het wat goed kan luister. Dít behels meelewing, empatie en om jou wêreld met ’n ander persoon te deel. As vrou is jy die veilige ruimte waar jou man van sy emosies ontslae kan raak as jy onvoorwaardelik luister en nie afgeskrik raak selfs deur woede nie. As hy nie ontlaai nie, lei dit tot opgekropte gevoelens wat julle huwelik kan affekteer. Baie van hierdie frustrasies het hulle oorsprong in die kinderjare, maar deur iemand te hê by wie hy kan aflaai, kan hy genesing vind.

[pagebreak]

2. Ek wil saam met jou dinge doen

As mans ervaar dat hulle primêre behoeftes binne die huweliksverhouding aangespreek en ernstig opgeneem word, kom hulle tuis in die verhouding. Dit is dus belangrik om te weet wat jou maat se behoeftes is en om dit na die beste van jou vermoë te help bevredig. As jy jou man heeltemal sou weghou van die goed waaraan hy behoefte het, kan hy begin om hierdie dinge buite die huwelik te soek. Kry gedeelde belangstellings; gaan saam met hom Loftus toe (al is rugby nie jou gunsteling nie) of kry interessante boeke wat julle albei geniet. So groei julle saam met mekaar.

3. Kom ons bring tyd saam deur

Mans sal nie hulle verbintenis verloor as hulle elke dag verras word nie. Dink aan 101 maniere om jou man gelukkig te maak. Van seksualiteit tot ’n briefie in sy aktetas. Dit is ongelooflik belangrik, want in die roetine-wêreld waarin ons vandag leef, soek baie mans bietjie afwisseling uit die roetine van die lewe – en dis soms waar dinge skeefloop. Verrassings of spesiale goedjies keer dat mense by mekaar verby leef. 

4. Wat maak jou ongelukkig?

Laat jou maat ’n lysie maak van goed wat hom frustreer, luister daarna en pas aan daarby, omdat jy sien dis vir hom belangrik. Die idee is nie om jouself in die proses te verloor of te benadeel nie, maar om moeite te doen om die verhouding te verbeter. Liefde is harde werk. Dit is ’n bereidheid om opofferings vir jou verhouding te maak sodat dit kan groei.

5. Dankie vir alles wat jy doen

Dit is belangrik om dankie te sê vir die klein dingetjies wat hy elke dag doen en wat meestal ongesiens verby gaan. “Dankie dat jy die kinders gaan aflaai het, dankie dat jy vanoggend vir my koffie in die bed gebring het, dankie dat jy die gloeilamp vervang het.” Dankie is ’n klein woordjie wat groot dinge in jou huwelik kan vermag.

Tyd om te sê wat saak maak

Waldemar en sy vrou Ira Blanckenberg, se program is baie vol, maar ten spyte daarvan, máák hulle tyd vir mekaar.

“Ons vind genoeg tyd saans en oor naweke om te gesels, en vir dringende sake máák mens eenvoudig tyd … al moet die kiddies spesiaal ’n DVD kyk of ekstra lank bad. Mens kan baie sê in min tyd … eerlikheid is die sleutel.”

Waldi sê: “Die grootste kompliment wat ek by Ira kry is dat ek ’n goeie pa is. Ek is nie altyd seker of ek dit verdien nie, maar dit maak my beslis gelukkig. Dit wat ek die heel graagste by Ira wil hoor is: 1. Ek is lief vir jou. 2. Hoe voel jy daaroor? 3. Dit is hoe ek voel oor … 4. Ek verstaan. 5. Ek verstaan nie, maar ek ondersteun jou in elk geval.”