5 dinge wat jou hare laat uitval

0
424
hare.jpg

Is daar meer hare op jou haarborsel as op jou kop? Hier is die top 5 redes waarom jou hare uitval.

ʼn Ekstra paar kilogram of ʼn nuwe lagplooitjie laat jou sug… Maar merk jy dat jou effe futlose haarstyl nou jou kopvel wys, of dat die paadjie in jou hare groter lyk? Jy raak paniekbevange!

Volgens Philip Kingsley, bekend as die haar-ghoeroe van internasionale sterre, is die sielkundige impak van haarverlies, enorm. Geen mens het dieselfde volume hare op 40 as op 20 jaar oud nie. Vroue voel egter minder vroulik en aantreklik as hulle nie meer daardie vol bos hare van hul jongdae het nie.

Wat is normale haarverlies en wat is te veel? Die meeste vroue verloor 50 tot ʼn 100 stringe hare per dag. So wanneer jy ʼn skielike verandering in jou haarverliespatroon merk, moet jy jouself eerste afvra waarom dit gebeur.

Die redes waarom jy deesdae soveel hare verloor

“Enige vrou se hare val uit, dis normaal,” sê Dr. Craig Ress, ’n haaroorplantingsjirurg van Hair Renewal. “As dit egter groot hoeveelhede hare raak, gaan kry hulp. Hoe gouer jy die probleem behandel, hoe groter is die kans dat jy haarverlies kan stopsit en selfs jou haargroei kan herstel na normaal.”

1. STRES Dr. Ress vertel dat die haarverlies epidemie moontlik daarmee te doen het dat vroue rolle vervul in voorheen manlike-gedomineerde posisies. Hiermee volg meer sielkundige druk, chemiese veranderinge in die liggaam en manlike liggaamstendense, soos om stelselmatig bles te word. Verwante uitwerkings van ʼn spanningsvolle leefstyl, soos gewigsverlies en die gebruik van antidepressante, kan ook veroorsaak dat jou hare uitval. Stresvolle episodes in jou lewe sal in jou hare opduik as kwaai haarverlies drie tot vier maande ná die gebeurtenis.

2. LAE YSTER Anemie as gevolg van ʼn tekort aan yster maak jou deurentyd moeg, laat jou bleek lyk en tam voel. En dit gaan gepaard met hare wat maklik uitval. Dit kan gewoonlik toegeskryf word aan swaar maandstondes. As jy dink dit is wat met jou fout is, laat jou ystervlakke toets en kry raad oor ysteraanvullings van jou dokter.

3. JOU SKILDKLIER Enige iets wat jou haargroeisiklusse beïnvloed, het natuurlik ook ʼn uitwerking op jou hare se volume. ʼn Skildklierprobleem sal jou moeg maak, gewig laat optel, terneergedruk laat voel en haarverlies veroorsaak. Die goeie nuus is dat ʼn skildklierprobleem maklik reggestel kan word. Jou dokter kan jou toets vir die probleem en bepaal wat die mees geskikte behandeling moet wees.

4. HORMONE Hormoonskommelinge vanweë swangerskap of menopouse is een van die grootste oorsake waarom ’n vrou se hare yl word. “Tydens menopouse neem die vroulike hormoon estrogeen af en die manlike hormone neem toe. Jy sal vind dat jou hare nie meer so lank word soos voorheen nie. Die toename in manlike hormone verminder nie die hoeveelheid hare op jou kop nie, dit maak hare net dunner en korter. So die nuwe haartjies wat uitgroei is fyner en swakker,” verduidelik Philip Kingsley.

5. CHEMIESE BEHANDELINGS Volgens Dr. Ress is ’n groot kwaaddoener chemiese behandelings soos die Brazilian tegniek om hare semi-permanent reguit te maak asook permanente haarkleurmiddels. Skadelike chemikalieë soos formaldehied sypel by jou haarfollikels in tydens die haarbehandelings wat jou haarwortels beskadig. Dit veroorsaak kort voor lank haarverlies. Gebruik liewer kleursjampoes wat jou haarskag met ʼn kleurlagie bedek eerder as om hare binne te dring. Warm haarysters is in ʼn mindere mate ʼn probleem. Die hitte veroorsaak dat jou hare breek, eerder as uitval.

Lees meer: Maak só om haarverlies te verminder

WEN ’N PERSOONLIKE KONSULTASIE MET ’N HAARDESKUNDIGE EN PRODUKTE!

Philip Kingsley Trichology Clinic bied gespesialiseerde behandeling aan mense met haar- en kopvel kondisies. Hulle behandel skilfers, dermatitis en verskillende vorms van haarverlies. As jy met so ʼn probleem sukkel, deel jou storie hier onder in ons kommentaar seksie. Jy kan ʼn konsultasie ter waarde van R1000 wen asook haarprodukte ter waarde van R500.

Kontak Dr Craig Ress by 0861 263 972 of besoek www.hairrenewal.co.za.
Om ’n afspraak te maak by die Philip Kingsley Trichology Clinic in Johannesburg skakel 083 268 3217 of e-pos sue@philipkingsley.co.za.