5 foute wat jy maak as jy hare was

0
21
harewas.jpg

Jy versorg jou hare deeglik tog lyk dit steeds sommige dae sleg. Hier is die vyf foute wat jy maak.

Hare was is so deel van jou roetine soos eet, slaap en na jou kinders omsien. Jy dink nie eers twee keer daaroor nie. Volgens die wêreld se voorste haarstiliste en mediese haarspesialiste (trigoloë) doen baie vroue hierdie eerste, basiese stap in haarsorg egter verkeerd. Kyk na die volgende foute en maak seker jou hare ly nie daaronder nie.

1 Jy borsel nie jou hare vooraf uit nie

“As jy lang of krullerige hare het, moet jy ’n wyetandkam gebruik om van koeke ontslae te raak voordat jy dit was.” So sê dr. John Gray, die haardeskundige van Procter & Gamble. Die bekroonde stilis Lee Stafford beaam: “Jy moet vooraf borsel.” Sodoende help jy keer dat jou hare koek terwyl jy dit was. Wanneer jy kam of borsel, begin by die punte en werk in seksies opwaarts in die rigting van die wortels.

2 Jy maak nie jou hare nat genoeg nie

“As jy jou hare oraloor sopnat maak, het jy minder sjampoe nodig. Te veel sjampoe gaan ook jou hare vaal maak en jy mors net die produk en jou geld.” Dit is die advies van die haardokter van Hollywood, Philip Kingsley. Verder moet die temperatuur van die water reg wees. Gebruik warm, nie vuurwarm, water nie. Té warm water sal jou kopvel stimuleer om meer olie te produseer en jou hare gouer vuil laat lyk.

3 Jy gebruik te min of te veel sjampoe

Druk die sjampoe in die holte van jou hand uit. Jy het ’n hoeveelheid so groot soos ’n R2-muntstuk nodig vir medium bob-lengte hare. Pas dit aan as jou snit langer of korter is: ’n R1-muntstuk- grootte vir kort hare en ’n R5-muntstuk vir hare wat onder jou skouers hang. Hou in gedagte dat salonsjampoe minder skuimende bestanddele bevat as sjampoes wat jy in kettingwinkels koop. Al het jy nie bolle skuim op jou kop nie, word jou hare steeds deeglik gereinig.

Lees ook: Die 4 gevaarlikste kosse vir jou vel

4 Jy was jou hare asof jy skottelgoed skrop

Noudat jy die sjampoe van die wortels na die punte versprei het, masseer jou kopvel met jou vingerpunte in klein sirkelbewegings. John sê verder jy moet die meeste van die massering naby jou wortels konsentreer. Jy weet dit lyk eerste olierig daar. As jy jou kopvel vir 30 sekondes masseer het, trek nou weer jou vingers van voor na agter deur. Dit voorkom koeke. Hierdie stap is veral noodsaaklik vir vroue met lang hare.

5 Jy spoel nie jou hare deeglik af nie

Sukkel jy soms met ’n onverklaarbaar droë kopvel wat nie op skilfersjampoe reageer nie? Dit mag wees dat jy die sjampoe oorwegend op een area konsentreer – gewoonlik voor, in die middel van jou kop – en dit nie deeglik uitspoel nie. Sjampoe van nou af van jou agterkop af vorentoe en spoel jou hare drie keer af. Volgens Philip is dit ’n mite dat jou hare meer blink as jy dit met koue water afspoel. “Opknapper laat hare blink, nie koue water nie,” sê hy.

Lees meer: Die top 6 naelmodes van 2014

Artikel deur Ryno Mulder