5 geheime: laat jou kind só luister

0
110
tieners_kommunikasie.jpg

Om te ontplof is soms al manier hoe jou tiener kommunikeer wanneer dinge warm raak. Hoe kry ’n mens dit reg om ’n beskaafde gesprek te hê en dat jou kind na jou luister?

Jy en jou tiener leef in verskillende wêrelde, met verskillende perspektiewe. Dit kan ’n enorme kommunikasiegaping veroorsaak. Tieners hanteer stres as gevolg hiervan op twee maniere: hulle kry óf stilstuipe óf ontplof. Hier is die geheime om hierdie situasies te ontlont.

5 geheime om beter te kommunikeer

1. Verstaan jou kind

DOEN DIT … Plaas jouself in jou kind se skoene. Jou dogter het byvoorbeeld nog nie vir môre se toets begin leer nie. Jy dink aan haar toekoms en sy is bekommerd oor die bakleiery met haar beste vriendin. Sê dan: “Ek weet ’n bakleiery is nie vir jou lekker nie, maar môre se toets is belangrik. Kom ons dink aan ’n manier hoe jy jou tyd kan indeel om alles gedoen te kry.”
MOENIE … sê: “Ek verstaan, maar … ” nie. Sy sal haarself wil verdedig en in elk geval nie luister nie.

2. Vergeet jou emosies

DOEN DIT … Hou jou emosies uit julle gesprekke. Moenie vir jou kind kwaad wees nie. Hy neem dalk die verkeerde besluit, maar het nog nie die vaardigheid om ’n beter een te neem nie. Besef dat jy hom moet lei om ’n beter keuse te maak. Dan sal jy minder emosioneel reageer wanneer julle kommunikeer.
MOENIE … jou tiener se woorde persoonlik opneem nie. Jou emosies sal die muur tussen julle net hoër bou.

3. Vra die regte vrae

DOEN DIT … Laat jou kind sien jy glo in hom. Wanneer hy besef hy kan dinge op sy eie uitwerk, sal dit ware vertroue tussen julle ontwikkel. Veronderstel jou kind staan elke oggend laat op, sê: “Seun, het jy enige voorstelle oor hoe jy betyds kan wees in die oggend?”
MOENIE … vrae vra wat sal veroorsaak dat jou kind homself moet verdedig nie, soos: “Hoekom staan jy nie betyds op nie? Wat is fout met jou?” Jy moet hom help om oplossings te vind.

4. Wees onafhanklik

DOEN DIT … As jou kind op jou skree, is dit sy probleem. Jóú probleem is om te besluit hoe jy gaan reageer. Neem beheer oor die situasie en sê: “In plaas van dat ek afhanklik is daarvan dat my kind moet ophou skree, gaan ek omdraai en wegloop.”
MOENIE … jou kind se samewerking, erkenning of goeie gedrag nodig hê nie. As jy dit nie kry nie, sal jy meer wil manipuleer en beheer. Jou tiener sal dan meer vyandig word.

5. Haal diep asem

DOEN DIT … Haal diep asem voor jy met jou tiener in gesprek tree. Jy hoef nie op jou kind se gedrag te reageer wanneer jy ontsteld is nie. Bly eerder stil.
MOENIE … met mekaar praat voordat julle nie albei afgekoel het nie. Julle sal net dinge vir mekaar sê wat kon gebly het.

Wanneer jy met jou kind praat en hy is ongeskik, onthou wie is die volwassene! Moenie onnodig by ’n bakleiery ingesleep word nie. En onthou: ’n Ouer wat luister, is ’n ouer na wie geluister word.

Tieners sê…

“My ma moenie aanneem sy weet wat ek wil sê of bedoel nie. Sy moet my eerder reguit vra.”
~ Annette (14)

“My ma hou van die woorde ‘nooit’ en ‘altyd’. Dis nie lekker as sy veralgemeen nie.”
~ Tinus (15)

“Ek sal daarvan hou as my ma ook om verskoning vra as sy verkeerd is en dit nie altyd net van my verwag nie.”
~ Darren (16)