5 leuens wat jy nóóit moet glo nie

0
266
leuens.jpg

Wanneer jy met ’n kind geseën word, het vriende en familie altyd hope raad oor hoe om hom groot te maak. Jy glo hierdie reëls en hou daaraan vas, sonder om te besef dis eintlik leuens …

Nog voor julle ouers word, vorm jy al ’n idee oor hoe jy jou kind gaan grootmaak. En as die pienkvoetjie eers daar is, kom die raad uit alle oorde: jou ma, pa, familie en vriende, en boeke deur sogenaamde kenners vertel jou wat om te doen en wat nie. Maar kort voor lank vind jy uit dat party van hierdie tegnieke glad nie werk nie. Hier is die topvyf leuens oor kind grootmaak.

Bou sy selfbeeld op; hy sal hom beter gedra

Al laat jy jou kind goed voel oor homself, gaan hy nie sommer sy gedrag verbeter nie. Annemarie het dit self ervaar toe haar seun se juffrou hom probeer opbou het deur goeie punte te gee vir gemiddelde werk. Hy het begin dink: Niemand verwag te veel van my nie. Ek hoef nie my beste te gee nie. Dit moet beteken ek is dom. Hy het al hoe slegter begin vaar.
WAARHIED: ’n Goeie selfbeeld word gevorm deur dinge te doen wat jou goeie beeld uitdra; selfrespek word gevorm deur dinge te doen wat jy kan respekteer. Leer jou kind hoe om reg op te tree vir ’n goeie selfbeeld.

Praat oor sy gevoelens as hy hom sleg gedra

’n Kind verstaan nie sommer sy gevoelens nie; daarom sal hy nie sy optrede beter kan hanteer nie. Lisa sê sy het hierdie fout gemaak. “As my dogtertjie kwaad geword en begin skree het, het ek altyd gevra: ‘Hoekom voel jy so?’ Ek kon dadelik sien hoe sy toeslaan.” Dis omdat sy nie weet hoe om haar gevoelens uit te druk nie. Sy is bloot kwaad, hou nie van iets nie of dink iets is onregverdig.
WAARHIED: Kinders hoef nie te verstaan hoekom hulle kwaad, ontsteld of vyandig voel nie. Hulle moet leer hoe om op te tree ongeag hoe hulle voel. Leer jou kind hoe om hulle gevoelens te hanteer, moet hulle nie daaroor uitvra nie.

Leer- of gedragsprobleme vra vir ander reëls

Ouers van hierdie kinders is geneig om die reëls nie so streng toe te pas nie. Sylvia vertel hoe hulle seun, wat terapie gekry het vir sy humeurprobleem, nie so swaar gestraf is soos sy boetie nie. Hulle het geglo “dis iets waarmee hy sukkel”. So het kinders met leerprobleme dalk ander akademiese verwagtings waaraan hulle moet voldoen, maar sosiale verwagtings bly vir almal dieselfde.
WAARHIED: Jou kind moet hou by die samelewing se norme rakende optrede, ongeag leer- of gedragsprobleme. Dis al hoe hy as volwassene gepas gaan optree.

Straf moet regtig ‘seermaak’ om te werk

Ouers maak die fout om te dink elke keer as hulle kind oortree, moet die straf groter wees en seerder maak. Rika vertel hoe sy haar dogter ’n maand lank gehok het nadat sy haar sussie gevloek het. Daarna was haar dogter “vry” – en het sy dit weer gedoen. Kinders verander nie sommer hulle gedrag om nie weer gestraf te word nie. Wie het nog net een keer ’n spoedboete gekry en daarna altyd by die spoedgrens gehou?
WAARHIED: Straf sonder om te leer, lei nie tot beter gedrag nie. Wanneer jou kind geleer word dat sy optrede sekere gevolge inhou, sal dit ’n leerervaring wees; nie bloot net ’n straf nie.

Tipiese tienergedrag is ’n fase wat sal verbygaan

Kobus sê hy het in dié slaggat getrap. Hy het geglo: “Dis nie so erg nie. Alle tieners drink die een of ander tyd of eksperimenteer met dwelms.” Deur dit te glo het hy eintlik vir sy seun toestemming gegee om dit te doen! Tieners “eksperimenteer” nie met dwelms nie; dan sou hulle met ’n wit jassie aan in ’n laboratorium gestaan het. Hulle gebruik dit! Geweld is ook nie ’n fase nie. As Boet nou leer dis reg om Sus rond te ruk en te pluk, gaan hy dit tien teen een ook met sy vrou doen.
WAARHIED: Leer jou kind om nie geweld, alkohol of dwelms te gebruik om van angs en frustrasie ontslae te raak nie. Leer hulle eerder hoe om die emosies te hanteer.

Wil jy jou kind reg grootmaak? Maak seker jy vergeet hierdie leuens. Hou vas aan die waarhede en bly op jou knieë. So maak jy selfstandige, goedgemanierde kinders groot.

Dink jy dit moet gewettig word dat kinders vanaf die ouderdom van 16 alkohol mag gebruik? Gesels saam by oulikema.co.za/forum.

Vertaal en verwerk ’n James Lehman artikel.