5 negatiewe mense wat jou vreugde steel

0
98
negetiewe_mense.png

Sonder dat jy dit agterkom, is daar mense wat die vreugde uit jou lewe neem. Hier is vyf negatiewe mense vir wie jy moet lig loop.

Sonder dat jy dit agterkom, is daar mense wat die vreugde uit jou lewe neem. Hier is vyf negatiewe mense vir wie jy moet lig loop.

1. Die Superpessimis

Dis die mens wat nooit ’n goeie woord te sê het nie. Sy sien alles vanuit ’n negatiewe hoek – en verkondig dit oral.

Jy dink die son skyn lieflik, maar al wat sy sien, is ’n donderstorm wat op pad is. Dit gaan haar rekenaar beskadig en dan sal sy dae moet wag vir ’n tegnikus. Hy gaan swak werk, sodat sy ’n nuwe rekenaar sal moet koop. En met die vrot ekonomie kos tegnologie ’n plaas se geld…

Sy bekommer haar sonder ophou. Vreemd genoeg, is sy self nie bewus van hoe sy klink nie. Dit is vir haar normaal om die doemprofeet te wees.

Sy maak jou sielsmoeg. Sy glo in die slegste – ook van jou. Jy vermy haar en hou maar jou vreugdes vir jouself. Net ingeval sy jou ook van die potensiële gevare oortuig!

2. Die Blaamontduiker

As jou tiener huil-gil: “Dit was nie ek nie!” kan jy dit verstaan. Maar grootmense wat alle verantwoordelikheid ontken, maak jou mal!

Iemand wat chronies sy aanspreeklikheid ontduik, moet natuurlik ander mense blameer. Dis altyd “jou” fout en “hulle” skuld. As hy ’n slegte dag beleef, is jy selfs daarvoor verantwoordelik. Of die regering of sy werkgewer. As hy laat is, is dit die druk verkeer of iets wat jy gedoen het.

Jy kan nie “wen” met so ’n persoon nie. Hy wil jou aftakel met sy konstante blaam-speletjie. Solank as wat hy sy foute van hom kan afskuif, sal hy nie verander nie. Sy ouers het hom “nou maar so grootgemaak”. Of die werkslading of die kollegas is onbillik…

Hoe dit ook sy: Dis ’n lafhartige poging om sy verantwoordelikheid vir sy eie geluk te ontduik.

3. Die Skinderbek

Hierdie persoon praat baie – en altyd oor ander mense. Sy is oorgretig om alles wat sy van mense weet, oor te vertel. Sy is net so gretig om soveel as moontlik bykomende inligting te bekom! Dit vertel sy dadelik vir die volgende gewillige oor.

Skinder is ’n verslawing, omdat dit die een met die inside information ’n gevoel van mag gee. Sy kan seermaak met haar woorde sonder enige bekommernis oor ander se gevoelens. Iemand se reputasie kan haar geen snars skeel nie. Sy het ’n ingeboude radar vir sappige stories, leuens, halwe waarhede en oordrewe sensasie.

As jy wonder of ’n gesprek die gif van skinder bevat, kan jy drie vrae vra: Is hierdie storie die waarheid? Is dit nodig dat ons hieroor gesels? Laat hierdie gesprek lig skyn in die donker wêreld?

4. Die Snob

“Ek is nogal verbaas dat jy jou kinders na dáárdie hoërskool stuur… Ek en Dokter het heeltemal te hoë vereistes vir die skool waarheen ons kinders gaan. Is jy seker julle skool het goeie atletiekafrigting? Die kinders moet leer kompeteer teen die beste skole, jy weet…”

Daar is mense om jou wat regtig dink hulle is beter as ander mense. Dalk val jy binne hulle vereistes en is hulle nie so arrogant teenoor jou nie. Maar let op hoe sy oor mense buite julle kringetjie praat. Sy en haar mense is altyd slimmer, suksesvoller en belangriker as die common ander.

Sy noem iemand maklik dom of simpel, maar duld nie enige kritiek nie. Sy veroordeel vinnig en in kras terme. Sy huiwer ook nie om ongeskik te wees teenoor kassiere, pompjoggies, motorwagte en kelners nie.

5. Die Slagoffer

Hier moet jy versigtig wees. Daar is mense wat regtig seergekry het en probeer opstaan en nuut begin. Vir hulle moet jy God se omgee aangee sodat hulle vrede en heling kan vind. Ware slagoffers verdien al die hulp wat hulle nodig het om weer oorwinnaars te word.

Die toksiese slagoffer is iemand wat oral en alewig voel dat sy te na gekom word. Almal maak altyd orals misbruik van haar. Niemand gee vir haar om nie al is haar probleme groter as enigiemand anders s’n. Haar stem het al ’n permanente kermende toonaard.

Aanvanklik is dit bloot irriterend, maar hoe meer jy bereid is om te luister en te simpatiseer, hoe meer word jy later die een wat oortree in haar oë. Hoe meer jy probeer help, hoe meer sal sy jou verwyt dat jy nie genoeg doen nie.