5 stappe om konflik te hanteer

0
280
wynand_en_cheree.jpg

By die Strydoms kan die vonke soms spat, maar Wynand en Chereé weet al hoe om te stry en vrede te maak.

1. Praat oor probleme, al is dit klein

Ons baklei selde, maar verskil soms oor alledaagse dinge soos geld, die kinders, ag, sommer die lewe. Wynand is iemand wat alles opkrop. Hy deel nie altyd sy emosies nie. Ek is iemand wat graag oor alles wil praat; hy praat as dit nodig is. So, die tye dat ons wel vassit, is as ons nie met mekaar praat oor die dinge wat in ons harte is nie. Die belangrikste is dat ons nie toelaat dat dit ’n groot probleem raak nie. Ons los dit gou-gou op.

2. Vermy konflik deur eerlik te wees

Ek kry partykeer die gevoel dat ek en Chereé so gemaklik met mekaar is dat ons soms dinge soek om oor te stry. Dan sit ek terug en besef nou is nie die regte tyd om oor onbenullighede happerig te raak nie. Gelukkig is ons nie bang om te erken as ons verkeerd is en om om verskoning te vra nie. Ons probeer eerder konflik vermy deur eerlik te gesels en saam besluite te neem.

3. Wees daar vir mekaar in moeilike tye

Ja, ek het drie jaar gelede ’n miskraam gehad en dit bly steeds deel van my realiteit en lewe. Wynand was baie sensitief. Hy was die hele tyd daar vir my en ek kon op sy skouer huil. Ons moes onmiddellik weer gaan optree; dit het seker gehelp dat ek besef het tyd stap aan. Soms wonder ons nog wat kon gewees het, maar ons het twee pragtige kinders wat ’n groot seën is.

4. Vind die dinge wat julle by mekaar bring

Ek en Chereé verskil baie van mekaar. Sy is ’n dromer en ek ’n realis. Ek is ’n introvert en sy is ’n ekstrovert. Sy is ’n Stormer en ek is ’n Blou Bul. So, ons kan seker voltyds na ons verskille kyk, maar ons het baie meer dinge gemeen. Musiek het ons bymekaar gebring en ons werk elke dag saam. Dis belangrik om op julle gemeenskaplike belangstellings te fokus. Ek dink omdat ons mekaar goed balanseer, is ons verhouding makliker.

5. Moenie kwaad gaan slaap nie

Dit is een van ons ongeskrewe reëls, maar ek kan onthou van een keer wat ons kwaad gaan slaap het. Ek kan nie onthou hoekom en wanneer nie, maar ek dink ons was albei maar hardkoppig, veral aan die begin van ons verhouding. Nou verstaan ons mekaar baie beter. Ek weet nou Chereé sal my nooit kan irriteer nie; ek is die tipiese happy go lucky ou. Maar soms voel ek dat sy haar te veel bekommer en moet vertrou dat alles sal uitwerk.

Luister na Chereé se liedjie 'n Roos te vroeg gepluk wat sy geskryf het na haar miskraam.