5 stappe tot ’n lewe vol wonderwerke

0
98
wonderwerk.jpg

Wonderwerke het nie net plaasgevind in die tyd toe Jesus op aarde was nie. Dit gebeur steeds elke dag. En ja, ook met jou. Al wat nodig is, is om anders na die lewe te kyk.

“’n Wonderwerk,” beskryf Belinda Bras-Nel, skrywer van My pad met engele, “is ’n verrassingsgeskenkie van God.”

Martha Beck gee wenke om die wonderwerke in jou lewe raak te sien. Ons het lesers gevra om dit in hulle eie lewe toe te pas. Hier is vyf aangrypende verhale …

1. Dink aan vyf belangrike mense in jou lewe wat nie familie is nie. Was daar ’n keer toe julle op ’n vreemde manier bymekaargebring is?

’n Teaterproduksie sonder geld

Lizz Meiring

lizz_meiring_0.jpgDis baie duur om verhoogstukke op te voer as jy nie ’n borgskap het nie. Met My Naam is Ellen Pakkies het mense my gewaarsku om nie die stuk op die planke te probeer bring nie. Niemand gaan na ’n storie kom kyk oor ’n ma wat haar tikverslaafde kind vermoor het nie. Dis te swaar en vreemd.

Ons het voortgegaan en sonder geld nagte deur gerepeteer. Elke medewerker het spontaan, sonder dat ek ’n woord oor ’n begroting gerep het, laat weet hulle wou geen betaling hê nie. Van Coenie de Villiers, wat die musiek geskryf het; Jennifer Jones, wat gesing het; Marius Brouwer, wat die musiekateljee besit; Coenraad Rall, wat die byklankeffekte geskep het en Jo Spies, wat die publisiteitsfoto’s geneem het – almal se bydrae was ’n hartsaak en niemand wou geld aanvaar nie.

Dis nou drie jaar later en ons kan nie voorbly met opvoerings nie. Van die eerste opvoering het dit plaaslik en oorsee vol sale en staande ovasies gelok. Maar belangriker: Ellen het fondse om haar werk onder tikverslaafdes en hulle gesinne te doen. As dít nie ’n wonderwerk is nie, weet ek nie.

2. Dink aan tye in jou loopbaan waar hulp op vreemde maniere gekom het

Warm sjokolade vir drie

Rita Pretorius

rita_pretorius.jpgEk werk nou al 34 jaar by Youth with a Mission. Omdat ons geen salaris kry nie, het ek oor die jare geleer dat God voorsien sonder dat jy vra of verwag.

In Nederland, het ek Maandagaande warm sjokolade uitgedeel aan prostitute. Ek het ’n paartjie ontmoet. Die man sou die registrasienommer van die motor wat sy vrou oplaai, neerskryf en sodra sy met die geld terugkom, sou hy dwelms gaan koop.

Een middag moes ek na YWAM se gebou in die rooiliggebied van Amsterdam gaan. Met die terugkom, sien ek die einste man en twee van sy kinders. Hy vra toe of ek nie vir die kinders warm sjokolade kan koop nie. Om vir hom te wys dat ek regtig nie ’n sent by my het nie, steek ek toe my hande in my sakke.

Ek het so sleg gevoel omdat ek nie iets vir die kinders kon gee nie. En sowaar, toe ek my hande weer in my sakke steek, is daar geld in. Ek kon vir al drie van hulle warm sjokolade kon koop met die presiese bedrag wat ek in my sak gekry het!
Vir mense wat glo, sal wonderwerke gebeur. Dit gaan oor ’n ingesteldheid.

[pagebreak]

3. As jy aan jou lewe terugdink, was daar ooit ’n gebeurtenis wat jou gehelp het om ’n krisis te oorleef?

Gered op die rotse

Laetitia

laetitia.jpgDit was die dag na Kersfees. My kinders was weg en ek het niemand gehad om mee te praat nie. Ek het nie ’n werk of ’n huwelik gehad nie. Ek wou weg kom na ’n beter lewe êrens.

Dit was ’n pragtige dag, een van daardie dae wat jou ’n knop in die keel gee, so mooi is dit. By Valsbaai, net voor Gordonsbaai, stop ek om vir oulaas na die see in al sy prag te kyk.

Dis toe dat ek die regaf kranse langs my opmerk – perfek vir ’n selfmoordpoging. Dit sou vinnig, maklik wees. Kaplaks, dood op die skerp rotse. Ek klim oor die heining wat die pad van die afgrond skei, en skielik blink iets in my oë …

Dis ’n koperbord, op die rotse gemonteer, met die woorde: “Hoe wonderlik is die Here wat hierdie gemaak het.”

Ek het afgeklim, en net daar op my knieë gesak en geweet dit was ’n Hoër ingryping. Ek glo vas dat God my daardie dag gered het.

3. Kindgrootmaak is nie speletjies nie. Het daar ooit hulp vir jou uit ’n onverwagte oord gekom?

Papajas vir aandete, middagete en ontbyt

Susan Lombard

susan_lombard.jpgEk was ʼn jaar oud toe my pa werk op ’n ander dorp gekry het. Hy het soontoe gegaan om huis te gaan soek terwyl my ma met my agtergebly het.

Een oggend was daar letterlik niks meer in die huis om te eet nie. Al wat oorgebly het, was God vir uitkoms te vra.

Buite staan ’n papajaboom wat nog nooit gedra het nie. Toe sy dié oggend by die deur uitstap, hang daar ’n vet, goudgeel papaja aan die boom waar daar die vorige dag niks was nie.

Vir die volgende paar dae was daar elke dag ’n papaja of twee aan die boom. Die dag toe my pa salaris kry, het die boom opgehou papajas dra en nooit weer gedra nie.

God was vir my ook daar. My oudste, Isabel, was as baba gereeld siek. In die eerste drie jaar van haar lewe was sy sewe keer in die hospitaal.

Teen haar vierde verjaarsdag was ek moedeloos. Een middag vra ’n wildvreemde man of hy vir Isabel kan bid. Nadat hy gebid het, kyk hy intens na my en sê: “Sy hoort nie hier nie.” Isabel is die volgende dag ontslaan, en is sedertdien blakend gesond!

[Pagebreak]

5. Dink aan enige buitengewone ervaring in jou lewe: ’n oproep van ’n vreemdeling of ’n droom wat later waar geword het.

Ek en my engel

Angelique Gerber

angelique_gerber.jpgEk het van kleins af ’n begeerte gehad om ’n regte engel te sien. In die kerk sou ek altyd my oë op skrefies trek en dan een soek. Eers op 18 het ek my hart vir die Here gegee. Ek het weer die Here gevra om tog net een keer ’n engel te sien.

Kort hierna antwoord ek op ’n dag die huistelefoon. Die man aan die ander kant vra of hy kan help. Op die een of ander manier het ons lyne gekruis. Net toe ons wil groet, sê die man vir my daar is iets wat hy voel hy vir my moet sê: “Die Here sê,” vervolg hy, “Hy weet wat jou hartsbegeerte is. Jy sal binnekort ’n engel sien.”

“Binnekort” was drie jaar later. Ek het reeds geslaap toe ek wakker word en hierdie wese langs my bed sien staan. Hy was massief, en ek het bang geword en vir die Here gevra om hom weg te neem.

Toe ek die volgende oggend vir my woonstelmaat vertel, antwoord sy, “Jy het ’n engel gesien.” Toe sy dit sê, het ek onthou van die belofte wat die Here drie jaar tevore deur ’n vreemdeling aan my gemaak het.

Die hele lewe is inderdaad ’n wonderwerk. Joune ook. Elke mens het haar eie storie van hoop, vreugde, verlies, pyn. Wees oop daarvoor sodat jy die wonderwerk van die lewe kan leef.