5 van die mooiste Kersstories

0
1306
kersfees.png

Hierdie tyd van die jaar bring baie herinneringe. Hier is flitsverhale wat spesiaal deur ons lesers geskryf is.

Kleintyd Kersdag op Vyeboom

Ek is vyf jaar oud. My twee boeties en ek moes sekerlik opgewonde gewees het oor hierdie Kersdag in 1963, maar ook teleurgesteld omdat geen geskenke by die voetenente van ons beddens was nie.

Ek onthou nie die felheid van teleurstelling nie, maar onthou dat ons na Pa en Ma in hulle kamer geroep is dié oggend. Pa lê nog in die bed en Ma sit by hom, met ons drie oudstes voor hulle. Ek weet dis nie soos altyd nie maar verstaan nie werklik hoekom hierdie dag anders is as ander Kersfeeste nie. Ek onthou onsekerheid, maar Mamma praat so mooi met ons dat ek nie bang is nie.

Ma verduidelik dat Kersvader hierdie jaar baie arm is en nie vir ons persente kon bring nie, maar dat Pappa en Mamma vir ons elkeen ʼn klein persentjie gekoop het, omdat hulle baie lief is vir ons.

Ek verwonder my vir ʼn paar oomblikke dat Kersvader geld nodig het, hy is dan Kersvader! Kan hy werklik so arm wees dat hy nie eens vir ons persentjies kan bring nie, ʼn vae gedagte oor ander kindertjies wat dan ook persentjies by Kersvader moet kry, maar Pa haal reeds ʼn bruin papiersakkie uit die bedkassie se laai en opgewonde vingers kielie oor my maag, so dat ek vergeet van Kersvader wat so arm is en al die ander kindertjies, want ons gaan tóg elkeen ietsie kry op hierdie Kersdag.

Ouboet kry eerste. ʼn Karretjie – nie van plastiek soos vandag nie. ʼn Ordentlike metaalkarretjie soos mens net in daardie jare kon kry. My liefling-boet – net ouer as ek, kry ook so ʼn lekker ysterkarretjie. Nou ek, derde in die ry en boonop ʼn meisiekind. Pa gee vir my so ʼn mooi wit, oopdakkarretjie, rooi sitplekke en ʼn silwer stuurwiel en panele. ʼn Jaguar het ek later gehoor. Sussie kry niks, want sy is nog te klein, sê Mamma.

Ons sê mooi dankie vir Pa en Ma en is tevrede kinders buite toe om onder die laning reuse jakarandas wat Oupa nog voor die opstal geplant het, te gaan speel in die twee-spoor paadjie met die lekker sand, wat dam toe gaan. In die sanderigheid bou die boeties ʼn dorp met plathand-strepe wat wit in die bruin sand uitstaan. Die sagte sand is koel in die skadu en net die boeties mag die dorp bou, want ek is te klein om te weet hoe die dorp moet lyk. Hulle vee die strate duidelik, merk waar die slaghuis is, die poskantoor, die polisiestasie, die handelshuis, die skool, en o ja, die landdroskantore. Al die belangrike plekke op die dorp wat ons weet Pa en Ma van tyd tot tyd besoek.

ʼn Effense argument ontstaan tussen die twee boeties oor wie die eienaar van watter besigheid in die dorp is. Liefling-boet is onversetlik dat die slaghuis aan hom behoort en ouboet moet naderhand bes gee, maar besluit dat die handelshuis dan aan hom behoort. Hulle stry so bietjie watter besigheid die meeste geld maak, maar vervaag die stry in die spelery. Ek mag nie ʼn besigheid kry nie want ek is ʼn meisiekind, maar ek mag in die dorp se strate met my kar ry. Ek wil ongelukkig wees oor hierdie reëling, maar besluit om maar te maak soos die boeties sê, want vandag kan ek darem minstens saam met hulle speel.

Ek onthou die koel skadu van die bome, die sonkolle wat dof tussen die digte blaredak van die jakarandas deurkom, die fyn takkies en blaartjies in die sand wat hulle hande wegvee met die ontstaan en ontwikkeling van ons dorpie, die gery met die karretjies, my boeties wat rygeluide met hulle monde en lippe maak, elkeen ʼn outoriteit op sy eie in ons almal se saamspeel.

Ek onthou die vreugdige tevredenheid in my hele lyf dat ek vandag so lekker saam met die boeties kan speel, want die “meisiekind” was baie dae nie by hulle spelery welkom nie. En dat Pa later kom kyk hoe ons speel en vandag kan ek weet dat hy gelukkig moes wees, omdat ons gelukkig en tevrede was.

Ek onthou die geborgenheid van Pappa en Mamma wat vir ons lief is, dat Kersvader ook arm kan wees, maar dat Pappa en Mamma vir ons geskenkies gekoop het. En ʼn vreemde warme gevoel waar my hart sit, hier waar ek saam met die boeties is, waarvoor ek nie toe woorde gehad het nie. Woorde wat nie altyd die belewenis van wees en is, kan weergee nie.

Wat ons daardie dag te ete gehad het as Kersmaal, kan ek glad nie onthou nie, maar weet ek dat daar wel iets sou wees wat anders was as elke gewone dag, want Ma kon iets spesiaals en lekkers uit die minimum maak.

Baie jare later het Pa meer as een keer gesê dat hy wens hy kon meer vir ons gegee het in die lewe, en het ons hom telkens verseker dat ons onsself tog ryk ag, omdat ons nooit honger was of koud geslaap het nie en dat Pa en Ma altyd daar vir ons was.

Jesus se liefde kom deur ons ouers na ons, baie keer nie maklik of sonder pyn nie, maar dit is daar, al sien ons dit eers baie jare later raak. En hoe gelukkig was ons nie. As ek vandag sien hoe kinders verwaarloos en sonder speel en waardes groot word, waardes wat ons samelewing vandag bloot net arm laat.

[pagebreak]

Oupa se grootste Kersgeskenk

Dis amper Kersfees en ʼn lieflike somersdag. Hierdie tyd van die jaar lyk alles om ʼn mens so mooi. Net af in die straat is daar ʼn huis met liggies bedek en as jy in die aande verby ry lyk dit soos iets uit ʼn sprokiesverhaal. Ons ry maar stadig verby sodat ons die liggies kan bewonder, maar diep binne ons is daar ʼn leemte. Niks kan ʼn seer hart beter maak nie. Al wat daardie donkerte ophelder is die Kersliggies.

My oupa is onlangs oorlede. Hy was nie siek nie, perdfris en gesond… Wel, eintlik het hy bietjie moeilik geloop, nie omdat iets fout was nie, maar dis seker wat ouderdom aan ʼn mens doen. Hy was vroeg die oggend winkel toe, want sonder sy koerant kon hy nie. As daar iemand was wat lief was vir lees, was dit hy. Ek dink as hy daardie koerant onderstebo kon lees, sou hy. Versigtig op by die trappe, maar nou nie te stadig nie, want net nou is Oupa se koerant uitverkoop. Betaal met die ou geldjie wat Ouma as sakgeld vir hom gegee het. Vriendelik groet hy die petroljoggie, en sonder om te kyk waar sy voet ’n tweede tree gee, rus sy kop op ʼn klipharde kussing.

Vir amper 3 maande lank was Oupa met ʼn gebreekte heup in die hospitaal. Almal weet wat sê hulle van oumense wat val. Dit is dan waar hulle agteruit gaan. Ek kon dit voor my oë sien gebeur. Elke dag het Oupa swakker geword. Hy kon skaars praat en ons kon nie verstaan of hy coke of water wou hê nie. Party woorde kon ons uitmaak. Jy moes maar mooi luister en oplet na daardie frons wanneer jy nou die pot heeltemal mis sit. Oupa kon niks meer vir homself doen nie. Hy kon nie opstaan nie, hy kon nie eers die trane van sy wange afvee wanneer ons vir hom gaan kuier het nie. Hy het altyd saggies gehuil, want ek dink hy het geweet dis nie meer lank nie.

Ek en my sussie het op ʼn dag vir hom gaan kuier. Hierdie keer kon jy mooi hoor wat hy sê, jy kon net nie mooi verstaan wat hy bedoel nie… Eers later toe ek besef wat hy sê, het my oë vol trane gevul. Sy woorde aan ons was eintlik so mooi. “Please take me home”, het hy saggies gesê “Grandpa, you can’t go home, you must stay here and get better”, het my sussie toe geantwoord. Met al sy krag tel hy sy hand op en wys na die hospitaaldak. Dalk is dit die lig bo sy kop wat hom só pla, maar sit ons dit af dan frons hy. Nee, dis nie die lig nie. Ons staan toe nader sodat ons kan uitmaak wat hy probeer sê, want skielik is oupa se stem weer weg. Hy fluister saggies: “Help me go upstairs.” Maar ons kan nie. Hierdie hospitaal het nie trappe nie en Oupa kan nie eers uit die bed uitklim nie, so hoe wil hy dan loop? Met trane in sy oë sê hy weer daardie woorde: “Please take me home, I’m tired. Help me go upstairs, where i can rest.” Dis waar ek die dieper betekenis van alles verstaan. Oupa wil hemel toe gaan. En kort daarna het Liewe Jesus vir Oupa by die trappe kom ophelp.

My oupa was eintlik baie spesiaal. Ek het dit nie altyd vir hom gesê nie, maar ek dink hy het dit geweet. Hy was vir my soos ʼn pa. Soos wat ʼn pa sy dogter dokter toe moet neem, soos wat ʼn pa in die warm bloedige son moes sit en wag, só het Oupa gemaak.

Hierdie Kersfees koop ek spesiaal vir Oupa ʼn geskenk. Ek dink hy gaan baie bly wees. Ek gaan vir hom sy koerant koop, want hy het nooit kans gekry om daardie dag syne te lees nie. Ek gaan op daardie trappie by die winkel sit en vir hom al die stories lees. Ek dink hy sal daarvan hou. Hy sal wil weet wat hulle deesdae van Zuma sê en hoe ongelooflik hoog die petrolprys is. Ek moet net nie vergeet om vir hom die lotto nommers te lees nie. Hy sal dit beslis wil weet.

Dis ons eerste Kersfees sonder Oupa en hierdie jaar kan ek nie eers vir hom die botel Amarula koop waarvoor hy so lief was nie. Nee, wag! Ek sal dit koop en dit sommer self drink (Ek hou nie eers van Amarula nie), maar ek sal ʼn glasie drink net omdat hy altyd aangebied het. Ai, Oupa hierdie jaar sluk ek maar als af. Dis vir al die kere wat ek nie saam jou ʼn glasie wou drink nie.

[pagebreak]

Ontdek weer die ware betekenis van Kersfees

Dit was 'n warm somersdag in Desember 2010. Die winkelsentrums was vol mense oppad om kersgeskenke te koop. Orals het kersversierings gehang en het kers musiek deur die gange weerklink, maar vir my en my man, Johan het dit nie soos Kersfees gevoel nie.

My man het einde Oktober 2010 gehoor sy werk kan nie meer hulle salarisse betaal nie, want daar is nie meer geld nie en die plek gaan toemaak. Dit was 'n groot skok. Ons het in Junie 2010 'n huis gekoop en het gedink dit is die begin van 'n nuwe hoofstuk in ons lewens. Min het ons geweet wat oor 'n paar maande sou gebeur. My man het na onderhoude toe gegaan terwyl ons die laaste spaargeld wat ons gehad het, gebruik het om al ons rekeninge en die noodsaaklikhede te betaal.

Dit was 'n moeilike tyd. Ons het net goed gekoop wat ons regtig nodig gehad het. Ons was op daardie stadium in ons vroeë dertigs. Omdat ek baie chroniese siektes gehad het kon ek nie voltyds gaan werk het nie. Ek het vertaalwerk op 'n vryskutbasis gedoen en elke sent wat ek verdien het, het gehelp om die gate toe te stop. Daarvoor was ek baie dankbaar, want elke bietjie help.

Desember het aangebreek en my man het werk gery, maar hy sou eers in Januarie 2011 begin en dan weer 'n salaris ontvang. Ons was baie depressief en het glad nie uitgesien na Kersfees nie. Om die heeltyd kersmusiek te hoor, versierings te sien, te luister na beplannings van etes en geskenke. Daar was vir ons meer belangrike goed om aan te dink. Ek en my man het in tradisionele huise grootgeword. Elke Kersfees het ons vroeg die oggend kerk bygewoon, geskenke uit gedeel en etes was voorberei.
Ons wou soos al die ander jare tog vir al die familie lede 'n geskenk koop. Ons net klein geskenke soos 'n paar kouse of 'n sepie bekostig.

Elke jaar op Kersdag maak ons beurte om by een van die ouers te gaan eet. In 2010 moes ons by my ouers gaan eet, maar ons het nie kans gesien vir al die mense wat lag en vreugdevol was nie. Ons het die uitnodiging van die hand gewys.

Ons het wel gedurende Kersdag na al die ouers en familielede toe gegaan en die geskenke gaan gee, maar dit het voorgekom of party 'n groter geskenk verwag het. Dit het ons omgekrap want van die familie het nie geweet waardeur ons regtig gaan nie en hulle het ook nie belang gestel nie. Ons het gedink al gee ons net iets dan sal dit goed wees, maar toe besef ons mense het vergeet waaroor gaan Kersfees regtig.

Gedurende Kersfees is dit belangrik om tyd saam met familie te spandeer. Deur tyd saam te spandeer, voel almal nader aan mekaar en geniet die feestyd meer. Deur liefde aan mekaar te wys, word bande sterker gesmee gedurende Kersfees.

Kersfees laat ons ook weer besef ons moet uitreik na mense wat in armoede leef. Deur 'n daad van liefde te betoon deur byvoorbeeld 'n geskenkie vir 'n karwag te gee wat altyd jou voertuig oppas. So sit jy 'n glimlag op 'n ander persoon se gesig en die persoon kan die ware betekenis van Kersfees ervaar.

Deur soos Jesus op te tree en jou te ontferm oor jou medemens in nood. Mattheus 5:14-16; “Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

Daardie aand toe ons by die huis kom, het ons 'n Kersfees fliek begin kyk. Ek het na ons kersfeesboom se liggies gekyk en die trane het oor my wange begin loop. Toe se ek vir my man, mense wil net groot geskenke hê, tafels wat kreun onder die kos. Die materiële waardes van Kersfees het die ware betekenis weggevat van mense en hulle het so weggesleur geraak dat hulle vergeet wie se dag dit is.

Dit is Jesus se dag. Hy is gebore en het gesterwe sodat ons die ewige lewe kan hê. Maar in die samelewing word die klem baie groot geplaas op geskenke, kersetes ensovoorts. Partykeer ruk die Here jou tot stilstand om jou wakker te laat skrik. Die Here het ons wakker geskrik toe ons deur die moeilike tyd gegaan het gedurende Kersfees. Ons het besef waaroor Kersfees werklik gaan en vandag onthou ons dit elke Kersfees. Ja, ons gee geskenke as ons wil en gaan na etes toe. Maar ons fokus nie heeltemal daarop nie. Ons fokus dat dit Jesus se dag is en ons verheerlik Hom. So het ons weer

ontdek wat die ware betekenis van Kersfees is, deur Jesus as die algehele fokus van Kersdag te maak.

[pagebreak]

Kersfees, Cream soda en baie liefde

Dis Kersfeesoggend 2009 in Jeffreysbaai. Die gewone Kersete is klaar voorberei, slaaie en nagereg. Die vleis is nog in die oond aan’t gaar word.

Die vorige aand het my een dogter, Wanda, en haar gesin vanaf Canon Rocks, waar hulle vakansie hou, by ons (my oudste seun, my jongste dogter en die uwe) aangesluit sodat ons Kersfees saam kon deurbring.

Omdat Wanda, haar man, en twee kinders nog nooit by Stormsriviermond was nie, het ons vooraf besluit om Kersoggend deur te ry soontoe. Gedagtig aan die groot eet wat die Kersmiddag voorlê, eet ons dus nie ontbyt nie en drink elkeen net ʼn koppie koffie.

Almal is al buite toe ek op die ingewing van die oomblik besluit om ʼn pak soutkoekies, roomkaas, ʼn mes, twee glase en Cream soda saam te neem, ingeval die kleinkinders later honger raak.

Ons het uiteindelik by Stormsriviermond aangekom. Wanda-hulle was inderdaad opgewonde en het hulle aan alles verkyk en foto’s geneem – vanwaar ons die oord binnegekom het, die natuur, die see en rotse, die chalets tot ons uiteindelik by die parkeerterrein van die piekniekplek kom.

Die uwe beweeg maar stadig en versigtig – steunend op Lukas, my oorlede man se kierie. Ek bly agter by die piekniekplek om sommer net die rustigheid en die mooi te geniet. Ek het pas, ʼn dag voordat ons gery het met vakansie, uit die bed uit opgestaan nadat ek vir ses weke moes plat lê na ʼn Pelvis-breuk.

Terwyl ek so kyk na die branders wat hoog aangerol kom en in skuimbolle vlak voor my oë breek teen die rotse flits taferele vanuit die verlede voor my oë verby. My eerste man, Kobie, het my die eerste keer laat kennismaak met Stormsriviermond. Ons was maar 12 jaar getroud toe hy skielik oorlede is en ek agtergebly het met vier jong seuntjies. En toe ek vyf jaar later met Lukas en sy vier dogters trou was dit onvermydelik dat ook hy moes kom kennis maak met hierdie pragtige plek.

Kobie het op 24 Desember verjaar en Lukas op 23 Desember, dus was Kersfees nog al die jare van my getroude lewe ʼn tyd van dubbelefeesvierings.

Die jaar 2009 was nie ʼn maklike een nie. Lukas was tot die uiterste toe siek weens nagevolge van Rumatoïede Artritis. En aan die begin van daardie jaar is ek ook met kanker gediagnoseer. Noodgedwonge moes ek hom in ʼn versorgingsoord laat opneem vir die tydperk van my operasie en herstel-fase, want hy kon homself nie meer versorg nie.

Vyf dae nadat ek uit die hospitaal ontslaan is, is hy oorlede. My eerste emosie was van dankbaarheid en lof aan die Here dat hy verlos was van sy uitmergelende pyn. Daarna het ek weke van bestraling ondergaan en ook dit het maar nagevolge gehad wat uiteindelik gelei het tot die Pelvis-breuk. Toe moes ek tot rus kom – ses weke lank.

Meteens ervaar ek Kobie en Lukas se nabyheid terwyl ek na die branders staar, so werklik dat ek aan hulle kon raak. Seker ook maar omdat ek in die stilligheid die afgelope dae maar knaend aan hulle gedink het omdat dit die herdenking van hulle verjaarsdae was.

Hulle is gelukkig en opgewonde om my by Stormsrivier te siene te kry en ʼn vrede daal oor my neer. Kersfees vrede. Die wonderoomblik word versteur toe ek die kinders hoor aankom. Die oomblik is verby.

Ja, daar was talle gelukkige Kersfees-tye in die verlede. Heerlike tye saam met ons groot familie. Te veel om een uit te sonder. Soveel mense saam met wie ek Kersfeestye beleef het, wat reeds heengegaan het – ouers, skoonouers, suster, swaer, vriende en ander familielede. Vir die kinders haal ek die paar goedjies uit die koelsak en plaas dit op die sement tafeltjie sonder ʼn tafeldoek en skielik is elkeen van ons lus vir daardie “fees”. Ons smeer soutkoekies met roomkaas en drink die bottel Cream soda leeg.

Toe alles klaar is besef ons met hoeveel moeite word dinge voorberei en hoe mens uiteindelik iets so eenvoudig baie meer geniet!