50, én?

So op die drumpel van my 50ste verjaardag duik die vraag al meer op: “Hoe voel dit om 50 te word?

O wat ‘n mylpaal!” Ek moet glimlag. O genade tog, ons mensdom!  Eers was die algemene mylpale volgens ouderdom 16, 21, 50, 75, 100. . . Deesdae is dit sommer elke 10 jaar van jou lewe! Hoe dwaas is ons nie. Elke dag van ons lewe is ‘n mylpaal en ‘n dag wat van ons  vra om die lewe en liefde te omarm in volheid, asof daar nie nog ‘n môre is nie, want die realiteit is presies dit:  die dood is een tree weg van ons elkeen, ongeag ons ouderdom, of wie en wat ons is.

Maar ja, kom ek vertel jou hoe ek voel noudat ek 50 word. Soos ‘n kind wat ‘n pak sjokolade gekry het!  Aanvanklik eet daai kind tog te plesierig daaraan. Daai stafies word ingeryg in daai lyfie, sonder om te skroom. Dan besef hy/sy skielik daar is nog net ‘n paar blokkies oor, en hy/sy begin elke blokkie intens proe. Netso, het ek my jare getel en besef ek het minder tyd oor om te lééf as wat ek tot dusver gelewe het.

Op 50 het ek beslis nie meer tyd of lus vir eindelose vergaderings, waar die reёls, regulasies, prosedures en interne prosedures bespreek word, wetende niks gaan daaraan gedoen word nie.

Nog minder het ek geduld om mense wat absurd is te verdra. Mense wie ten spyte van hul kronologiese ouderdom nog nie ‘grootgeword’ het nie. Mens kan beslis die lewe geniet op ‘n lig en lekker trant sonder om ligsinning te wees of so te leef.

My tyd is kort. Te kort. Ek wil die essensie van die lewe en liefde geniet. Ja, in gees en waarheid wil ek waarlik my lewe lééf!!! My gees is haastig oppad. Beslis haastiger as my liggaam. Ek wil die lekkergoed wat oor is in my lewenspakkie met oorgawe geniet.

O en natuurlik wil ek ook langs mense bly wat baie realistiese mense is, tog weet hul om oor hulle foute te lag, terwyl hulle ook nie grootkop rondloop en met hulle triomf spog nie. Doodgewone, eenvoud mense wat sonder pretensie leef en liefhet. Egte mense. Mense wat verantwoordelikheid vat vir hulle eie aksies. So, word menslike intergriteit verdedig in hierdie lewe, en leef ons waarlik in gees en waarheid. Dis die essensies wat die lewe waarlik nut gee.

Natuurlik wil ek my omring met my huis en hartmense. Mense wat weet hoe om harte aan te raak wat harde klappe van die lewe en liefde gekry het, tog het hulle geleer om te groei met die soete aanrakings van die siel.

Ja, ek is haastig. Haastig om met intensiteit te leef wat slegs volwassenheid kan teweegbring. Ek gaan niks nagereg mors nie! Inteendeel gaan die nagereg  eksoties wees, veel lekkerder as enige wat ek tot dusver geёet het.

Elke dag wil ek ten volle my skeppingsdoel uitleef: Om God te verheerlik in alles wat ek dink, doen, deel. Ja, oral waar ek gaan, ook daar is my God.

My doel is om my eindstreep hier op aarde te bereik, tevrede en vol vrede, met my geliefdes en my gewete. O dis so, ‘n skoon gewete is soos ‘n sagte kussing.  Ja, wanneer ek die wenstreep oorsteek, my aardse tent verruil vir  my ewige tuiste by God, ook daar sal Hy alreeds vir my wag om my tuis te verwelkom. Ja, ek en Hy weet nie net van mekaar nie, ons kén mekaar, persoonlik. O vreugde!

Is ek bang vir die dood? Nee gladnie!! Dis slegs een tree uit hierdie wêreld uit en ek is by my Vader, in Sy oop arms gevul met  Liefde en Lewe vir ewig. Regtig. Vir ewig. ‘n Ewigheid. Ek is gereed.

PS:  Dit weet ek nou. Ek kan dit nie mooier stel as in Engels nie: “The journey of life is not so much about becoming anything. It’s about unbecoming everything that is not true to who God created you to be in the first place.”

Vorige artikelLeef met Oorgawe
Volgende artikelOp soek na die undo knoppie
Blogger - Tania Delport
Tania Delport is terselfdertyd onkonvensioneel, passievol, vreesloos, kreatief, teen die grond neergegooi maar nie vernietig nie, vol blydskap en humor, Woord deurdrenk en geesvervuld, ‘n onvergeetlike persoonlikheid. Tania Delport se skryftalent is ‘n passie en natuurlike gawe van God maar ook stil-stil geïnspireer deur die welbekende skrywer Hennie Aucamp wat 20 Maart 2014 oorlede is. Sy het in die Stormberg hoogland in die Oos-Kaap grootgeword op die buurplaas vanwaar hy grootgeword het. Haar oom aan haar pa se kant was getroud met die suster van Hennie Aucamp, dus was hy deel van haar familie binnekring. Tania Delport is in haar finale seisoen van liefde en lewe. Haar prioriteit is haar man Pieter. Sy is toegewyd en gaan haar gawes met veral vroue deel. Tania Delport se G-I-L in die nag het L-I-G in die dag geword want God is Liefde. Haar lewe het vlerke gekry. Dis tyd vir joune! Besoek gerus haar web tuiste https://eet8eet.co.za