50. Kry die volle beeld

dieetwenke.jpg

Is ’n ligter gewig noodwendig ’n teken van gesondheid? Dit is miskien motiverend, maar ’n ligter gewig is moontlik die gevolg van spier- en waterverlies.

Die meeste skale kan dit nie meet nie en gee soms ’n misleidende beeld van wat gesond is. Ons beskou dit as maerder word, maar wat sê dit regtig?

Die samestelling van jou liggaam is ’n beter aanduiding vir kundiges om jou gesondheidsrisiko’s te bepaal. So word vetpersentasie, spierpersentasie, waterretensie, beendigtheid en selfs jou mineraalvlakke gemeet.

’n Groter middelmaat en baie visserale vet (die vet om jou organe) is nog faktore wat die kans op leefstylsiektes, soos diabetes en hartsiektes, kan verhoog.

Natuurlik gaan jy meer weeg as jy meer vette stoor of water terughou, maar omdat spiere meer weeg as vet, skep die balans in liggaamsamestelling ’n beter geheelbeeld van jou gesondheid.

Daar is baie faktore wat ons totale gewig uitmaak, maar net so baie wat ons gewig beïnvloed. Omgewingsfaktore (veral stres), genetika, dieet en oefening dra by tot ons gewig.

Ons algemene gesondheid word bepaal deur die manier waarop ons liggaam die omgewing ervaar en die voedsel gebruik wat ons inneem. Sommige faktore kan ons beheer, soos dieet en oefening, maar ander nie, soos ons genetiese neigings vir siektes.

Hierdie faktore, saam met jou mediese geskiedenis, bloedtoetse, kliniese tekens en assessering van jou leefstyl, skep ’n volledige prentjie van jou gesondheid.

Is dit omdat “maer” die teenoorgestelde van “vet” is dat ons dink maerder beteken om vet te verloor? Ons kyk so maklik vas teen ons gewig, maar die antwoorde lê in baie meer as die syfers op die skaal.