51. Gee die skaal die trekpas

dieetwenke.jpg

Ek het nog nooit ’n skaal besit nie, maar toe ek getroud is, het ’n skaal saam met die man gekom.

My man weeg homself gereeld en dit was die dophou van sy gewig wat hom gemotiveer het om weer te oefen, gesonder te eet en al sy “wittebroodsjaargewig” te verloor.

Vir my het skaal dophou die teenoorgestelde uitwerking gehad. Soos die skaal swaarder geword of gestagneer het, het my moed bly sak! Nou, hoe bou jy ʼn gesonde verhouding met jou skaal? Hier is my voorstelle.

Gaan spreek ’n dieetkundige. Sy kan jou help om te bepaal wat ’n gesonde gewigsomvang vir jou lengte is. Memoriseer die omvang en probeer daarby hou, maar moenie ’n obsessie daaroor hê nie.

Moenie moed verloor nie. Goeie dinge neem tyd. Stel vir jouself klein, haalbare doelwitte. Moenie lewe in die uiterstes nie, deur byvoorbeeld voedselgroepe uit te skakel nie.

Breek een vir een met jou slegte gewoontes en maak dit ’n leefstyl. Begin deur jou een of twee keer ’n maand te weeg.

Die feit dat jy hard probeer om gesonder te leef en dan resultate op die skaal sien, sal die motivering wees wat jy nodig het. Ongelukkig neem dit die skaal soms ’n rukkie om op te vang by die sentimeters; daarom die volgende punt.

Kyk hoe styf jou klere pas. Dit is ’n goeie manier om jouself dop te hou. Indien jou langbroeke skielik stywer sit, weet jy dis tyd om weer beter lewenskeuses te maak.

Daar is min dinge so bevredigend soos om jou somersrok aan te trek en te besef die ritssluiter gaan uiteindelik weer tot heel bo!

My belangrikste advies aan jou: Vergeet heeltemal van die skaal. Bou eerder ’n verhouding met gesonde kos en goeie oefening. Dit sal vir seker die skaal eendag sy kilo’s laat terugsluk.