6 maniere om as mens te groei

0
107
groei.jpg

Die pad na ’n beter jy hoef nie soos ’n doolhof te lyk nie. Soms maak een klein dingetjie ’n groot verskil.

Emosioneel

So kosbaar as wat emosies is, kan die verkeerde gevoelens oneindig baie skade doen. In plaas van om die negatiewe emosies te probeer vermy (wat in elk geval dikwels die teenoorgestelde uitwerking het), sorg dat jy goeie dosisse positiewe emosies inkry. Humor is oral en vrylik beskikbaar. Kyk ’n snaakse fliek of ’n video op YouTube. Die Anne Hirsch Show en Suzelle DIY is groot treffers op YouTube. Of geniet ’n paar episodes van The Big Bang Theory! Nie alleen sal jy meer van jouself hou nie, maar ander mense sal dit ook geniet om saam met jou te lag.

Intellektueel

Ons hoor dikwels “jy is nooit te oud om te leer nie”. En dit is die waarheid. Voor jy egter bedank en die universiteit se registrasievorm nadertrek (hoe lekker klink dit nie nou nie) – daar is ander maniere om “slimmer” te word. In die inligting-oorlaaide wêreld waarin ons leef, is interessante nuus en uitvindings oorvloedig beskikbaar. Vind elke week iets uit wat jy nie geweet het nie en vertel dit dan vir iemand anders. Kyk na ’n praatjie op Ted soos Julian Baggini: Is there a real you?, lees koerant of teken in op ’n aktuele nuusbrief. Soms kan dit iets eenvoudigs wees, soos ’n interessante resep; ander kere dalk ’n nuwe tipe medisyne of die effek van ryp op sement – dis reg, dink buite die boks!

Fisies

Jy móét beweeg. Dit is seker lankal nie meer nodig om die belangrikheid daarvan te onderstreep nie. Die grootste probleem is dikwels dat jy nie sukkel om te begin nie, maar dis die aanhou wat swaar raak. Kombineer jou “beweeg-program” met iets waarvan jy hou. Speel ’n paar middae saam met jou kinders op die gras. Woon nou en dan ’n avontuur boot camp by – dis soos ’n klimraam vir grootmense en vet pret! Of laai ’n paar calisthenics (ligte gimnastiek) video’s van die internet af – jy het geen toerusting nodig nie en kan dit binne ’n paar minute by die huis doen.

Geestelik

Jy voel dalk dat jy geestelik jou limiet bereik het. Jy bid elke dag, lees Bybel, gaan kerk toe… wat meer kan jy doen? Dalk moet jy jou geestelike resep effens aanpas en nie jaar in en jaar uit dieselfde patroon volg nie. ’n Goeie idee is om elke jaar die geestelike topverkoperboek te lees, soos Timothy Keller se Prayer of Jesus Calling deur Sarah Young. Of laai die Bybel-app op jou slimfoon af en volg ’n program oor iets spesifieks, soos hartseer, vasbyt of vergifnis.

Professioneel

Moet nooit stagneer in jou werk of loopbaan nie. Sommige maatskappye bied interne opleiding aan, so, woon dit by wanneer jy kan. Maar niks keer jou om self ook ’n paar vaardighede aan te leer nie. Op die internet is daar verskeie plekke waar jy aanlyn aanbiedings kan deurwerk en so jou CV en toekoms verbeter. Probeer lynda.com of ecpd.co.za. Dis boonop gerieflik, want jy kan dit in jou eie tyd en teen jou eie pas voltooi. Dit is ook altyd ’n goeie idee om met mense wat dieselfde werk as jy doen te gesels en wenke uit te ruil.

Sosiaal

Verbeter jou sosiale vaardighede deur soms ’n uitnodiging te aanvaar wat jy gewoonlik van die hand sou wys, soos om te gaan tennis speel of ’n kunsfliek te gaan kyk. Al hou jy nie daarvan nie, dan weet jy dit ten minste! Die kans is altyd daar dat jy ’n nuwe stokperdjie kan ontdek of interessante mense kan ontmoet. Moet dus nie uit die staanspoor sommer nee sê nie. Terwyl jy nou op ’n ontdekkingsreis is na ’n beter weergawe van jouself, moet jy seker maak dat jy nie êrens langs die pad iets belangriks misloop nie – soos ’n heerlike kuier!