63. Rooster, stoom, posjeer

dieetwenke.jpg

Gaarmaakmetodes wat min of geen suiker en olie of vet gebruik, kraai koning in die kombuis! Rooster, stoom, bak of posjeer in plaas van om in diep vet te braai. Geur in plaas van versoet.

• Gebruik olies met die minste versadigde vette, transvette en cholesterol, soos kanola-, sonneblom- en olyfolie.

• Roerbraai fyngekapte groente en vleis in ’n wok of swaarboomkastrol met ’n klein hoeveelheid wyn, groenteaftreksel of olie.

• Rooster of bak vleis, vis of pluimvee op ’n rak. Bestryk dit gereeld met suurlemoensap, tamatiesap of wyn.

• Posjeer vis of hoender in ’n klein bietjie water tot gaar, laat afkoel en snipper of vlok in ’n slaai.

• Stoom groente om die smaak te behou.

• Bêre die suikerpot en eksperimenteer met kaneel, gemmer, amandel en appelsous.

• Raak kreatief met souse, want sommige winkelsouse het ’n vetinhoud van meer as 50%.

• Gebruik olyfolie, asyn, sitrussap en gerasperde suurlemoenskil oor slaaie. Kikker die sous op met fyngekapte vars basilieblare of roosmaryn.

• Maak jou eie hoemoes van kekerertjies, olyfolie, suurlemoensap en knoffel. Gebruik in pasta, op brood of as ’n gesonde doopsous.

• Tzatziki (jogurt, komkommer, suurlemoensap, knoffel en kruie na smaak) is ’n ideale sous vir die somer saam met hoender of groente.

• Maak jou eie pesto met vars kruie, knoffel, suurlemoensap, neute en parmesaankaas. Vervang vol vet, skakel suiker uit en sit vesel by.

• Vervang ’n koppie room met ’n koppie vetvrye ingedampte melk of ’n halwe koppie jogurt of maaskaas.

• Gebruik sagte margarien in plaas van botter en laevetmaaskaas in plaas van suurroom.

• Probeer om die helfte minder suiker te gebruik.