66. Aandete voor sesuur

0
47
dieetwenke.jpg

Jy het seker ook al die gesegde gehoor: “Eet gereeld, maar net nie na sesuur saans nie.” Dis mos die gevreesde laat aandete wat ons metabolisme tot stilstand roep! Maar maak dit werklik saak hoeveel keer ’n dag ons eet en is daar ’n spertyd vir aandete?

Hoewel daar studies is wat bewys het dat as aandete uit meer as ’n derde van jou daaglikse energiebehoeftes bestaan, dit jou kans vergroot om oorgewig te raak, is daar tot dusver nie genoegsame bewyse dat ’n mens aandete voor ’n spesifieke tyd moet eet nie.

Daar is wel bewyse dat dit voordelig is as jou ontbyt voldoende koolhidrate en proteïene bevat. Tydens ’n 2011-studie is daar bevind dat die groep proefpersone wat so ’n ontbyt geëet het, na 32 weke steeds gewig verloor het, terwyl die ander groep wat ’n ontbyt met beperkte koolhidrate geëet het, al die gewig weer bygekry het wat hulle na 16 weke verloor het.

Die eerste groep het nie net hulle teikengewig behou nie, maar hulle vastende bloedsuiker was feitlik normaal, hulle het minder honger gevoel en minder na soet en vetterige kos gesmag.

Maak dit rêrig saak hoe gereeld ’n mens eet? Word jou metabolisme vinniger as jy gereeld eet? Die beskikbare navorsing toon dat die aantal maaltye ’n dag nie ’n beduidende rol in metabolisme of gewigsverlies speel nie.

Die fokus moet eerder geplaas word op wat, hoeveel en hoekom jy eet. Eers daarna kan jy kyk na wanneer jy eet.

So, haal jou oë af van die horlosie en kook na hartelus, sonder om skuldig te voel oor hoe laat dit is.
’n Vol maag kan egter veroorsaak dat jy nie lekker slaap nie. Hier moet jy maar self kyk hoe jou liggaam op ’n laat aandete reageer.