7 dinge wat jou kind graag wil hê

0
543
Kinders.jpg

Die grootste geskenk wat jy vir jou kind kan gee is nie iets wat met geskenkpapier toegedraai word nie.

As jy na jou kind se emosionele behoeftes omsien, is hy of sy minder afhanklik van die groep en meer bestand teen die aanslae van die lewe. Hulle word dan verantwoordelike volwassenes met selfvertroue. Vergeet van materiële geskenke; gee liewer vir jou kind die volgende hartsgeskenke.

1. Laat hulle veilig voel

As jy as ouer sukkel met verslawing, woede-uitbarstings of depressie, voel jou kind maklik verstoot. Jou kinders verstaan ook nie altyd dat jy soms besig moet wees met rekeninge, bekommerd is oor ’n siek familielid of kwaad is vir Pappa nie. Hulle voel eenvoudig die afwesigheid van ’n betroubare volwassene wat omgee.

Jou kind het ’n huis nodig waar konflik vinnig en met respek afgehandel word. Ook een waar jou gedrag voorspelbaar is. Vertroue blom in huise waar kinders weet hulle kan enige tyd liefde en ondersteuning by Pa en Ma kry.

2. Kinders smag na aanvaarding

Jou kind wil weet dat jy hom na waarde ag, ten spyte van sy bakore, swak rapport en teruggetrokkenheid. Hy wil weet jy aanvaar hom net soos hy is. Jy is die eerste spieël waarin jou kind kyk. Jou gesig weerspieël sy waarde ‒ of die gebrek daaraan.

As jy met respek en geduld reageer, sal hy homself in ’n positiewe lig sien. Die teendeel is egter waar wanneer jy hom altyd kritiseer en met hom raas. Die resultaat is gewoonlik ’n swak selfbeeld.

3. Gee jou kind erkenning

Dis vir jou kind ’n verskriklike ding as hy voel hy is ’n mislukking in jou oë. Hoewel jou kind se optrede dikwels die teenoorgestelde te kenne gee, wil hy jou graag tevrede stel. Hy wil jou hoor sê: “Ek is trots op jou. Goeie werk!”

Indien jy nie vir jou kind die nodige erkenning gee nie, verloor hy hoop om enigsins by enigiemand erkenning te kry. Hy word gewoonlik sinies en glo later hy is nie goed genoeg nie. Hy word ’n volwassene wat onproduktief leef en swak presteer by die werk.

4. Jy moet grense stel

Jou kind het regverdige en duidelike reëls nodig. Sonder reëls voel sy sonder hoop, doelloos en bang. As sy nie liefdevol gedissiplineer word nie, dink sy jy beskerm en versorg haar nie. Soms is ’n kind juis “stout” om haar behoefte aan struktuur en veiligheid te laat hoor in ’n deurmekaar en onvoorspelbare omgewing.

Jou kind kan maklik gegrief voel as jy nie grense stel nie. Sy wil hê julle as ouers moet lief genoeg vir haar wees om nee te sê en dit te bedoel. Sy moet jou kan respekteer en vertrou.

5. Jou kind wil jou nabyheid aanvoel

Om jou kind ’n drukkie te gee en vas te hou skep herinneringe van sekuriteit wat ’n leeftyd hou. Dis ook die kragtigste manier om jou kind van jou liefde te verseker. Jou arms en hande laat haar verstaan dat jy haar altyd sal beskerm en troos. Jou nabyheid wys haar ook dat jy haar waardevol genoeg ag om vas te hou. Jou nabyheid sê: “Ek het jou so lief dat ek jou altyd sal vashou. Jy is veilig by my.”

6. Gee altyd die nodige ondersteuning

Net soos jy jou kind fisies ondersteun wanneer hy leer loop, het hy emosionele ondersteuning nodig wanneer hy as tiener die toekoms onseker tegemoetgaan. Jou tiener wil hê jy moet luister, raad gee en bemoedig.

Tieners streef na onafhanklikheid, iets waarteen jy nooit moet baklei nie. Gee jou kind eerder die vryheid om hierdie onafhanklikheid te toets, te misluk en sukses te behaal. Stel egter steeds grense wat hom teen ernstige seerkry beskerm. Hy moet weet jy is altyd daar om raad te gee, maar slegs wanneer hy daarvoor vra.

7. ’n Mens spel liefde T-Y-D

’n Goeie ouer-kind-verhouding vereis gefokusde aandag (kwaliteit) en baie tyd saam (kwantiteit). Jou kind wil nie net weet jy is teenwoordig nie; hy wil weet jy geniet dit om by hom te wees. Jaag hom, kielie en terg hom, lag saam.

Die probleem is nie ons gebrek aan tyd nie, maar hoe ons ons tyd deurbring. Hoewel baie ouers voel hulle moet lang ure werk om kos op die tafel te sit, wys navorsing dat die meeste van ons werk om die nuutste “goed” in die motorhuis te hê. Onthou: Jy het ’n keuse. Jy kies immers jou werk en hoe uitdagend dit is. Jy stem ook in tot oortyd. Om jou kind se onthalwe moet jy reg kies.

Vertaal en verwerk uit die artikel Building the Foundation van Wes Fleming.