7 gewoontes wat julle verhouding sal versterk

0
169
beter_huwelik.jpg

Sit hierdie maand ’n week opsy en fokus op die sewe gewoontes wat verhoudingskenner Jennifer Good uiteensit. Laat Manlief dit saam met jou doen, en gesels oor die gevolgtrekkings waartoe julle oor julleself en mekaar gekom het.

Dag 1: Wees stil en luister

Dis so maklik om jou sê te sê en basta met die res. Ander van ons sit weer woorde in ons maats se monde, en luister nooit wat hulle werklik vir ons probeer sê nie. As jou man en jou verhouding vir jou belangrik is, is dit noodsaaklik dat jy begin stilbly en luister.

Fokus vandag daarop om regtig te hóór wat jou man vir jou sê. Vir huwelikskenner dr. Floris Knouwds is dit belangrik dat jy vir jou man moet wys dat jy na hom luister. Gebruik jou lyftaal. “Wanneer jy met aandag na iemand kyk, wys dit dat jy belangstel. Leun ’n bietjie vooroor wanneer jou man jou iets vertel; dit sal dadelik lyk of jy meer geïnteresseerd is.”

Jennifer beklemtoon dat dit uiters belangrik is om werklik te luister na wat jou maat vir jou wil sê. Wanneer jy nie kan hoor wat hy vir jou wil sê nie, sal jy nooit verstaan wat hy regtig van jou nodig het nie.

Dag 2: Verstaan en moenie oordeel nie

Jou maat is nie noodwendig presies wie jy wil hê hy moet wees nie, maar meeste van die tyd is hy presies wie jy nodig het. Koester hierdie gedagte wanneer dinge moeilik gaan.

Volgens Floris trou die meeste mense omdat hulle iemand wil hê wat in hulle emosionele behoeftes kan voorsien, iemand met wie hulle hulle drome kan deel en hulle sal ondersteun. Ongelukkig verstaan egpare mekaar dikwels nie omdat hulle verskillende betekenisse aan woorde heg, soos liefde, vriendskap of vryheid. Daarom moet jy verstaan presies wat jou maat kommunikeer.

Jennifer vertel dat paartjies probleme het om die ander persoon toe te laat om van hulle te verskil. Hulle kan egter ooreenkom om nie saam te stem nie en leer om mekaar se verskille te respekteer.

Dag 3: Wees eerlik met jouself en jou maat

Nou is dit tyd om selfondersoek te doen. Hoe eerlik is jy oor jou rol in hierdie verhouding? Is jy regtig die beste vennoot vir hom wat jy kan wees? Miskien is jy ’n bietjie té krities of miskien druk jy nie jou behoeftes duidelik genoeg uit nie. Weet jy wat het hy van jou nodig? Wend jy ’n poging aan om hom te ondersteun? As jy weet wat jou rol in die verhouding is en hoe jy kan verbeter om ook die beste vrou vir hom te wees, kan baie struikelblokke uit die weg geruim word.

[pagebreak]

Dag 4: Vergewe en vergeet

As jy ’n ruk lank in ’n verhouding is, is dit onvermydelik dat daar al talle situasies was wat jou idee van ’n perfekte verhouding geskend het. Die enigste manier om terug te keer na hierdie “ideaal” is om te vergewe – nie net jou maat nie, maar ook jouself.

Om nie te vergewe nie hou jou vasgebind aan die verlede en belemmer jou toekoms. Gaan vandag deur al wrokke wat jy teen jouself of jou man koester en werk daaraan om daarvan ontslae te raak. Vergewe én vergeet!

Dag 5: Wees dankbaar en waardeer jou maat

Slegs deur geen wrokke te koester nie, kan jou oë oopgaan vir dit wat jy wel in jou man het. Jy kan egter nie dankbaar wees as julle voortdurend negatief met mekaar praat nie. “Veral waar mense al lank getroud is, kom hulle nie eers agter wanneer die manier waarop hulle met mekaar praat, glad nie opbouend is nie,” verduidelik Floris. “Maar kyk watter effek jou woorde op jou maat het en dink aan maniere om dit te verander sodat julle julle verhouding kan versterk.”

Begin konsentreer op alles waarvoor jy dankbaar is, alles wat hy vir jou doen en vir jou is, en jy sal verbaas wees om te sien hoe jou houding gaan verander.

Dag 6: Prys en komplimenteer

Na dankbaarheid kom prys. Gebruik al die gevoelens van dankbaarheid wat jy gister gevoel het en doen iets daarmee. Soek klein dingetjies omtrent jou man wat jy waardeer en maak seker hy weet dat hy goeie werk doen. Jy sal dalk ook weer dinge begin raaksien wat jy lankal as vanselfsprekend begin aanvaar het.

Mense reageer baie beter op positiewe terugvoer as op kritiek op hulle foute. Gee ’n slag iets moois terug aan jou man. Hy verdien dit!

Dag 7: Die regte houding kan jou huwelik red

As jy dankbaar is en jou man prys vir al sy goeie dade en eienskappe, raak dit nogal moeilik om ’n negatiewe houding te hê. Soms kruip negatiwiteit egter wel in. Spits jou vandag daarop toe om te tel hoeveel keer jy iets negatiefs dink of sê. Jy kan ’n baie beter reaksie kry deur ’n negatiewe gedagte op ’n meer positiewe manier oor te dra. Onthou dit ook wanneer jy jouself kritiseer.

As jy werklik na jou man luister en hom verstaan, kan jy met hom en met jouself eerlik wees oor enigiets. Deur jou dankbaarheid te wys oor die diep verbintenis wat julle met mekaar het, raak dit net natuurlik om jou man die lof te gee wat hy verdien.

Verwerk en vertaal uit Jennifer Good se 7 day relationship challenge.