7 goeie gewoontes vir jou gees

0
89
goeie_gewoontes.jpg

’n Mens hou dikwels aan om iets te doen wat jy weet sleg is vir jou. Dit voel onmoontlik om slegte gewoontes deur goeies te vervang.

Jy weet jy slaap te min, maar jy bly voor die TV sit. Jy wissel nog ’n paar keer van kanaal. Jy wil tog nie ’n interessante episode van ’n kosprogram of ’n herhaling van jou gunstelingsepie misloop nie. Of jy weet jy het werklik nie nog ’n paar sandale nodig nie. Jou kredietkaart is al oor sy limiet, maar ai, hoe kan jy die versoeking weerstaan?

Om jou gewoontes te verander raak soms so frustrerend dat jy oortuig is dat jy nooit sukses sal smaak nie; tog is die potensiaal om te verander altyd in jou. Jy moet net op die regte plek na energie, aanmoediging en raad gaan soek: in die evangelie. Dié goeie boodskap sal jou bemagtig om te verander. Jy sal enigiets kan omswaai van ongesond na gesond, van negatief na positief, van sleg na goed.

1. Hou op om op die verkeerde plekke hulp te soek

Jy mors jou tyd en energie deur op ander mense staat te maak. As jy al jou vertroue in mense stel, gaan jy teleurgestel word, want hulle is self feilbaar.

Jy kan nie jouself help deur wilskrag of taktieke nie. Aanvaar dat jy nie oor alles beskik wat nodig is om jouself te “red” nie. Hou ook op om van ander mense te verwag om jou probleme op te los. Net God kan jou verander – en Hy doen dit deur sy boodskap en sy Gees.

2. Gee jou hele menswees oor aan wat jy glo

Om te wil verander kan jou gedagtes heeltemal oorheers. Fokus liewer op wat jy nog kan doen om jou geloof uit te leef. Vind nuwe maniere om dit sentraal te stel in jou dagprogram.

Dan is dit nie meer jy wat moet verander nie, maar ander gewoontes wat deel word van jou lewe. Om aan God oorgegee te leef maak jou besig met goeie en gesonde dinge. Dan is daar nie meer plek vir onvanpaste gewoontes nie.

3. Sê oor en oor jy is jammer oor sonde

Om voortdurend anders te leef, moet jy nie net een keer erken dat jy verkeerde dinge doen nie. Verandering vra dat jy by herhaling spyt sal wees oor wat jy nog verkeerd doen.

Jy kan eers wegstap van iets af as jy dit op die naam kan noem. Dit maak seer om so eerlik te wees, maar vergifnis bring genesing. Hoe meer spyt jy het en hoe meer jy vir vergifnis vra, hoe meer kan jy verander.

Lees ook: Kan goeie dade jou hel toe stuur?

4. Werk elke dag hard om die goeie te kies

Jy ontvang hemelse hulp om dit reg te kry, maar jy moet self ook energie insit om oor en oor beter keuses te maak. Besluite wat ’n mens neem, begin altyd in jou gedagtes; maak daarom elke dag seker dat jou gedagtes besig is met die waarhede van die evangelie.

Dink so dikwels as wat jy kan oor al die mooi dinge waarop jou geloof gebou is. Lees oor temas soos liefde, hoop, versorging, omgee, versoening, die ewige lewe en vergifnis. Dis jou beste wapen teen gedagtes (en keuses) wat groei uit wellus, bitterheid of terneergedruktheid.

5. Geniet die blessings van ’n vrou wat glo

Jy is nie sommer net enige gewone vrou nie. Jy is lid van God se familie. Jy mag ’n naby verhouding met die Skepper van die heelal hê. Hy is jou Vader – en dis die grootste geskenk wat enigiemand ooit kan ontvang.

Slegte gewoontes kan jou laat vergeet jy is ’n geseënde vrou. Vra gereeld in gebed dat hierdie waarheid in jou gedagtes ingebrand sal bly. Dit sal jou die selfvertroue gee wat jy nodig het om dinge in jou daaglikse roetine te verander.

6. Hanteer jou angs en bekommernis met wysheid

Dit is sinneloos om bang te wees vir iets wat niks in jou lewe beter maak nie. Dit lei boonop jou aandag af van geloofswaarhede. Jy weet jy hoef niks te vrees nie en dan voel jy skuldig as jy tog bekommernisse het. Dit laat jou soos ’n mislukking as gelowige vrou voel. Jou twyfel of jy ooit sal kan verander, word groter en groter.

Dit druis lynreg teen die evangelie in! Jy moet glo dat jy oor niks hoef te stres nie. Slegs as daar rustigheid in jou gemoed is, kan transformasie plaasvind.

7. Maak seker jou verhoudings verander ook

Doen alles in jou vermoë om in vrede met ander mense te leef. Gaan praat met almal met wie jy moeilike verhoudings het en probeer die issues oplos. Doen dit sonder verwyte. Wys jy probeer opreg om versoen te raak en jy wil regtig die ander persoon met liefde en respek behandel.

As jy iemand moet vergewe, doen dit. Vra ook om vergifnis waar jy teen iemand oortree het. Jou eie gesonde veranderings moet wys in gesonde verhoudings.

Vertaal en verwerk uit How the Gospel Can Help You Change deur Matt Chandler en Michael Snetzer.