7 Mites wat jou huwelik kan verwoes

0
692
huwelik.jpg

Jy het geglo julle gaan vir altyd en altyd gelukkig wees. Toe gebeur dit nie. Sekere dinge wat jy oor die huwelik geglo het, was nie so waterdig waar nie. Dit was eintlik net mites.

Jy het geglo julle gaan vir altyd en altyd gelukkig wees. Toe gebeur dit nie. Sekere dinge wat jy oor die huwelik geglo het, was nie so waterdig waar nie. Dit was eintlik net mites.

As iemand oor en oor dieselfde ding vir jou sê, begin jy dit later glo en daarvolgens optree. Dis hoe ’n mite ook werk. Dis ’n manier van dink en doen wat al so by jou ingeprent is dat jy dit as die waarheid aanvaar. Dit gebeur ook maklik in jou huwelik. Jy glo byvoorbeeld dat konflik die einde van ’n huwelik beteken. Elke keer as jy en jou man dan vassit, dink jy dis verby. Maar moenie dat ongegronde opvattings jou huwelik bedreig nie. Wees bewus daarvan en verander jou manier van dink. Hier is die sewe mites waarvoor jy versigtig moet wees.

#1 Konflik beteken my huwelik is tot mislukking gedoem

Niemand hou van konflik nie, veral nie met jou die persoon naaste aan jou nie. Ongelukkig is struweling baie skelm. Dit het die nare manier om ongenooid op te daag. Dan is dit baie maklik om in ’n negatiewe patroon van rusies te verval. Later baklei julle sommer oor nietighede en raak dit moeilik om die gewoonte te verbreek. Ongesonde en geniepsige konflik kan wel ’n huwelik vernietig, maar keer liewer voor dit te laat is. Julle kan dit verander as julle besef dis net ’n lelike gewoonte. Praat weer mooi met mekaar, en kyk watter verskil dit maak.

Onthou egter dat konflik normaal is. Dit gebeur in enige huwelik, maar dit moet nie afbrekend wees nie en moet reg hanteer word. Gesonde konflik kan ook die lug suiwer. Dit kan dinge uit die weg ruim wat lankal tussen jou en jou man gebroei het. Daarna kan julle aanbeweeg. As julle dus nou en dan vassit, dis nie die einde van die wêreld óf die huwelik nie. Bly net by die reëls van skoon baklei en beskou dit as ’n kans om verskille op te klaar.

#2 As ek altyd daarvoor moet vra, beteken dit min

Klink dit vir jou bekend: “As jy regtig lief is vir my, hoef ek dit nie te sê nie. Jy ken my mos teen hierdie tyd. Hoekom moet ek elke keer vra?” Hoe kan hy dan nog nie weet wat jou behoeftes is nie? Hy is sommer aspris en vermakerig. Verkeerd. Die enigste manier hoe jy ’n behoefte behoorlik kan kommunikeer, is om te vra daarvoor. “Is jy nog lief vir my? Jy sê dit nooit meer nie …” Jy wil nie noodwendig weet hoe lief jou man vir jou is nie, jy soek net bevestiging. So, vra maar as jy iets nodig het.

Natuurlik hou ons daarvan om verras te word, maar soms is dit egter nodig om vir iets te vra wat jy regtig nodig het. Praat met mekaar. Niemand kan gedagtes lees nie, al is julle hóé na aan mekaar.

#3 Die belangrikste is om gelukkig te wees

Jy hoor dit baie in flieks: “Ek is net nie meer gelukkig nie, en ek verdien geluk.” In die regte lewe is dit gewoonlik die woorde net voor ’n egskeiding: “Hy maak my nie meer gelukkig nie.” Jy voel jy is nie heeltyd honderd persent gelukkig nie, so, daar moet iemand anders wees wat beter sal wees vir jou.

Dis gewoon nie realisties om te dink dat die huwelik jou permanent gelukkig moet hou nie. Jy kan ook nie van een mens verwag om vir jou geluk verantwoordelik te wees nie. Geluk is eerder ’n neweproduk van die regte dinge wat gedoen en gesê word in ’n verhouding. Uithou en aanhou is die geheim vir geluk op die lange duur. Dit beteken jy moet vasbyt, al voel jy soms moedeloos. Natuurlik wil jy gelukkig wees, maar moenie geluk die beslissende faktor maak as jy na jou huwelik kyk nie. Wees realisties oor wat jy verwag en weet ook hoe om jou eie geluk te skep.

#4 ’n Huwelik gaan oor die vervulling van behoeftes

Baie huwelike vandag is “verbruikershuwelike”. Almal dink hulle behoeftes is die belangrikste, en as dit nie vervul word nie, dan vat hulle hulle goed en loop. Ja, daar is behoeftes wat binne ’n huwelik vervul moet word, maar baie paartjies meen hulle huweliksmaat moet na al hulle behoeftes omsien. Eintlik is dit net ’n vorm van selfsug.

Moenie altyd alles van jou man verwag nie. Die feit is dat niemand in staat is om iemand ander se behoeftes ten volle te bevredig nie. Jy stel hoë en onrealistiese verwagtings waaraan jou man moet voldoen. Moenie dat hierdie mite jou huweliksgeluk ondermyn nie. Draai dit liewer om. Gee jý ’n bietjie meer as wat van jou verwag word. Kyk of jy jou man se behoeftes kan raaksien en reageer daarop. Jy sal hom baie gelukkig maak én dit sal terugkom na jou toe. So bou julle ’n nuwe kultuur in julle verhouding wat almal tot voordeel sal strek.

#5 My man is nie my sielsgenoot nie

Die mite van “sielsgenote” het stewig wortelgeskiet by ons. Almal soek of wag vir hulle sielsgenoot. Is daar ooit so iets? En as daar is, hoe gaan jy weet dis “die een”? Miskien dink jy vir ’n rukkie dit is, maar dit is nie volhoubaar nie. As die wittebroodfase verby is en die werklikheid skop in, is dit maklik om te dink jy het ’n fout gemaak. Jy is oortuig jy het met die verkeerde persoon getrou en begin dan soek na jou werklike “sielsgenoot”.

Maar dit is bloot nie waar dat daar net een persoon op hierdie aarde is wat jou vir ewig gelukkig sal kan maak nie. Jy het egter wel ’n sielsgenoot, maar dit is nie iets wat jy sommer net kry nie. Dit is iets wat jy word. Wat jy en jou man saam-saam word, na vele sakke sout saam opeet. Na opdraandes en afdraandes, gedeelde emosies en lewenslesse. ’n Huwelik gaan oor wat julle uiteindelik word, nie oor waar julle gaan arriveer nie. Maak van mekaar sielsgenote.

#6 Ek kan en gaan my man verander

As jy met iemand trou, is daar natuurlik dingetjies wat jou irriteer. Maar jy weet mos hy gaan verander, want hy is dan so lief vir jou … Dan vind jy uit hy gaan nié verander nie, en wat gebeur? Die enkele klein jakkalsies word ’n hele trop. Jy kon dit aan die begin nog hanteer dat hy sy koerante die hele vloer vol rondstrooi, maar nou maak dit jou rasend. Jy besluit jy gaan hom verander! Al wat gewoonlik gebeur, is hoe meer jy probeer, hoe meer skop hy daarteen.

Jy kan nie iemand anders verander nie. Nooit nie. Wat jy wel kan doen, is om te leer om hom te verstaan en hom te aanvaar soos hy is. Natuurlik moet albei bereid wees om sekere dinge te verander wat julle huwelik en mekaar benadeel, maar dis belangriker om te besef dat jy jouself kan verander. Sodra jy dit verstaan en begin doen, raak jy van baie frustrasies ontslae. Ontspan ook maar ’n bietjie en dink of daardie klein dingetjies regtig so erg is. Ignoreer dit gerus en konsentreer op sy goeie punte.

#7 My houding het niks met die saak te doen nie

Jy en jou man het ’n bietjie koppe gestamp, maar jou houding het mos niks met julle probleem te doen nie … Is jy seker? Jy slaan dalk die bal ver mis. Houdings beïnvloed hoe ons mekaar beskou en hanteer. Hoe ons mekaar behandel en op mekaar reageer is die gevolg van die gesindheid wat ons teenoor mekaar het.

Houdings is baie belangrik, veral in ’n intieme verhouding soos die huwelik. As jy jou ingesteldheid verander, kan jy positiewe verandering in jou man teweegbring. Begin by jouself. Gaan kyk mooi wat jou rol in julle verhouding is. Jy kom dalk meer aggressief oor as wat jy bedoel. Gaan staan nou en dan voor die spieël en gesels met jou “man”. Dalk skrik jy!

As dinge tussen jou en jou man nie lekker is nie, gaan kyk ’n bietjie of een van hierdie mites nie dalk nesgeskrop het in julle verhouding nie. Praat dan met jou man daaroor. As julle eers insien dat so ’n mite julle gemeenskaplike vyand is, kan julle dit uit die nes skop. En seker maak dit bly uit.