70 x 7

Hoeveel keer moet ek nou die ander wang draai, Here? Hoeveel keer moet ek toelaat dat die ene vir my lieg? Hoeveel keer moet die trane van vernedering en die uitgooi op die straat, aanhou?

Jesus se antwoord is, Carte Blanché. Oop tjekboek. Die deur van vergifnis se skarniere is vas geroes, dit kan nie toemaak nie.

Ek dink aan ’n vriendin wat rou teen die klippe lê. Ek wonder of die ander party ooit kan verstaan watter skade hulle doen. Ja, dit was nie intensioneel nie. Ons het nie daarvoor gekies nie. Dit was niks ernstig nie. En tog lê alle vertroue in skerwe gesaai oor die klippe. Die heilige verhouding, die selfbeeld, die lus om te lewe, alles lê saam met die vertroue in stukkies. Alles in stukkies gebreek.

En nou praat Jesus van moenie tel hoeveel keer jy vergewe nie!

Om eerlik te wees, dink ek nie ons mense is bekwaam genoeg om die opdrag van Jesus uit te voer nie. Ek dink ons is effe te lig in die broek. En in ’n mate dink ek dat Jesus wil hê dat ons eers hier moet uitkom om dit te besef, want ons het hiermee verseker hulp nodig. Op ’n manier moet die Heilige Gees hier kom help, moet ons ruimte maak vir God om bietjie hand by te sit, want my ontwerp as mens het seergekry in die tuin.

Ek hoor presies wat Jesus sê. My vriendin ook. Maar ons lees dit almal met ons eie bril op en sien en hoor anders. Al wat oor is, is dat ons kan bid, dalk nie nou vir krag vir vergifnis nie, maar eerder dat die Heilige Gees ons versigtig op die pad sal kom tel. En saam met die Heilige Gees dan een maal vergewe, dan twee maal, dan drie maal, dan vier maal, dan vyf maal, dan ses maal, dan sewe maal en so aan – tot ons by die 70’s kom.