77. Bly sosiaal en slank

dieetwenke.jpg

Vir baie vroue kan sosiale geleenthede soos dieet-oortredings voel en hulle laat vrees vir die skaal. Tog kan jy gereeld kuier en steeds jou gewig in toom hou.

Beperk jou porsies. Wanneer jy ’n ete bywoon, skep jou bord minstens halfvol met groente of slaai. Dit bevat min energie en baie vesel, en sal keer dat jy jou aan die ander kos vergryp. Probeer om ’n versnapering, soos slaai, vrugte of jogurt, voor ’n kuier te eet om ooreet te voorkom.

By ’n restaurant kan jy beplan om die helfte van jou ete as wegneemete te neem of die kos met iemand te deel. By ’n teeparty, eet twee of drie klein tertjies of een sny koek in plaas van om aanhoudend te peusel.

Moenie jou kilojoules drink nie. Een glas gaskoeldrank of vrugtesap kan tot agt teelepels suiker bevat. Vervang koeldrank met water of suikervrye opsies. Een glas rooiwyn, whisky, brandewyn met ys of ’n suikervrye Coke is ’n beter keuse. Vervang gegeurde melkkoffies, wat vol suiker en vet is, met gewone koffie of ’n klein cappuccino.

Fokus op die aktiwiteite en mense eerder as die kos. Probeer om tydens ’n kuier nie heeltyd langs die versnaperings te sit nie. Fokus op die gaste en probeer om interessante gesprekke aan te knoop. Bied jou hulp aan en neem deel aan die aktiwiteite wat aangebied word.

Eet stadig. Kos kan ’n manier wees om verveeldheid en ongemak te systap. Probeer om nadat jy reeds opgeskep het, weg te beweeg van die kostafel af. Eet stadig en neem die geure, teksture en smaak van die kos in.

Organiseer aktiewe aktiwiteite. ’n Stap- of drafgroep is een manier om jou vriendekring te verbreed, oefening te kry en gesond te bly.