79. Hoe vinnig kan ek gewig verloor?

dieetwenke.jpg

Daar is gesonde en ongesonde maniere om gewig te verloor. Gesonde gewigsverlies gebeur ongelukkig nie oornag nie. Dink aan hoe lank dit jou geneem het om die gewig aan te sit en kyk dan jou weer na doelwit.

Gesonde gewigsverlies kan enigiets tussen 500 gram en 1 kilogram ’n week beteken. Dit hang natuurlik ook af van hoeveel jy het om te verloor!

Indien jy omtrent 30% van jou liggaamsmassa moet verloor, kan dit effens vinniger gaan aan die begin. Mik dan vir sowat 1,5 kg ’n week. Met die hulp van ’n dieetkundige kan jy selfs ’n bietjie vinniger verloor, maar moet liefs nie probeer om dit alleen reg te kry nie.

As jy om en by 10 kg oortollige vetjies het, is ’n realistiese mylpaal om dit in drie maande te verloor. Die eerste twee tot drie weke kan jou gewig effens vinniger afkom, maar dit sal stabiliseer en ’n gemiddeld van tussen 500 g en 1 kg per week oor die drie maande bereik. Sodoende sal dit ook vir jou makliker wees om die gewig af te hou.

Ongesonde gewigsverlies beteken meer as 2 kg ’n week. Hierdie manier is nie volhoubaar nie, en sodra jy terugkeer na jou normale eetgewoontes, loop jy ’n groot risiko om alles wat jy verloor het plus rente weer aan te sit!
Daar is nie ’n kortpad met gewigsverlies nie. Dit verg deursettingsvermoë, ’n verandering in jou eetgewoontes en ’n meer aktiewe leefstyl.

Onthou altyd dat sodra jy 10% van jou liggaamsmassa verloor het, jy dit vir ten minste ses maande moet afhou om permanente verslanking te verseker. Dis hoekom dit belangrik is dat jou verslankingsdieet volhoubaar, gesond en lekker moet wees om te volg. Maak dit ’n leefwyse in plaas van ’n dieet.