8 dinge wat jou man REGTIG nodig het …

0
728
wat_jou_man_regtig_wil_he.jpg

Hier is ’n nuwe strategie om jou man om jou pinkie te draai: Deur jou behoeftes opsy te skuif en te fokus op wat hý wil hê, gaan hy jou gee wat jý wil hê.

Prof. Ben Page van die Universiteit van Stellenbosch se fakulteit gesondheidswetenskappe vertel dat mans en vroue se breine letterlik fisiek verskil. “Ons is al van die oertyd af geprogrammeer om te doen wat ons bedoel was om te doen. Mans kyk na die wêreld deur ’n testosteroonbril, want hulle moes as jagters kos voorsien, dit wil sê, vir die gesin sorg. Vroue is meer emosioneel, want hulle moes na die kinders omsien.”

Gelukkig is mans nie heeltemal so kompleks soos ons nie. Ons het ’n man se grootste begeertes tot 8 verminder om jou te help …

1. Hy wil wys dat hy sterk is

Dis te danke aan hoë testosteroonvlakke dat mans so ingestel is op prestasie. Van kleins af fantaseer hulle daaroor om gevegte te wen en sportspanne te lei.

Ongelukkig maak die ekonomie en ’n ingewikkelde politieke klimaat dit al moeiliker vir mans om te presteer en hulleself te bewys. Sy behoefte aan jou aanvaarding is nou soveel groter.

Wat jy kan doen: Gaan saam met hom op ’n avontuur

Selfs al kan jy nie deelneem nie, kan jy hom heelhartig ondersteun om op ’n avontuur te gaan. Marais se vrou, Ester, is nie die buitelugtipe nie. Sy groot passie is om met sy viertrekvoertuig Afrika in te jaag. Sy het hom aangemoedig om vanjaar ’n viertrekroete saam met sy vriende aan te pak. Sy gaan nie saam nie, maar sy help om al die administratiewe reëlings te tref.

2. Hy wil sy belangstellings met jou deel

Deur in sy stokperdjies en belangstellings te deel, sê jy eintlik: “Ek hou van jou en ek gee om.” As jy moeite doen om deel van sy belangstellingswêreld te word, gaan julle ’n nuwe vlak van intimiteit betree.

Wat jy kan doen: Begin saam ’n nuwe stokperdjie

Iets so eenvoudig soos kosmaak kan ook in ’n stokperdjie verander waaraan julle albei deelneem. Na 25 jaar se getroude lewe was Leandra al moeg kos gemaak terwyl haar man, Rico, mal was oor die MasterChef-televisieprogram. Sy het besluit om hulle saam in te skryf vir kooklesse. Deesdae kook en onthaal hulle graag saam.

3. Help hom om jou lief te hê

Anders as jou vriendinne, wil jou man nie baie praat nie. Dit laat jou dink hy wil niks met jou deel nie.

[pagebreak]

Mans wys nie noodwendig liefde deur hulle woorde nie. Hulle grootste liefdestaal is dié van dade. As hy projekte saam met jou doen en jou probeer beskerm, kan jy maar weet hy is gek oor jou.

Wat jy kan doen: Aanvaar sy manier van liefhê

Hy maak dalk elke aand twee maal seker dat al die deure en hekke mooi toe is voor julle gaan slaap. Jy dink hy is paranoïes. Vir hom is dit sy manier om julle te beskerm en sy liefde vir jou te wys.

4. Hy wil hê jy moet hom bewonder

’n Man het maar ’n klein ego. Een van sy grootste behoeftes is om te hoor dat jy hom bewonder.

Wat jy kan doen: Maak ’n groot ophef van sy sterk punte

Miskien is jy bekommerd oor sy besluit om uit sy werk te bedank en sy eie onderneming te begin. Vergeet van jou vrees; ondersteun hom en kommunikeer voor ander hoeveel vertroue jy in hom het. Dit sal hom aanmoedig om ’n sukses van sy onderneming te maak.

Nanette het doelbewus besluit om op Johan se positiewe eienskappe te fokus. Sy meen hy gee te maklik geld uit. Sy het besluit om ’n groot ophef daarvan te maak as hy spaar. Later het hy sommer self begin om sy sente ’n keer of drie om te draai.

5. Hy smag na nabyheid en kommunikasie

Ja, jou man het ook ’n behoefte aan kommunikasie en intimiteit. En nee, ons praat nie net van seks nie.

Seuns leer van kleins af om volgens ’n stel reëls te leef: speel om te wen en moenie jou emosies wys nie – op die sportveld, speelgrond en later ook in die werksomgewing. Wanneer hy trou, is die reëls van sy huwelik nie voorspelbaar nie. Skielik word daar verwag dat hy sy gevoelens moet wys – iets wat taboe is op enige ander terrein van sy lewe.

Wat jy kan doen: Kommunikeer op sy manier

Na 20 jaar se getroude lewe, gesels Zelda en Aldo gereeld oor hulle fisieke verhouding. Oor wat werk en nie werk nie, wat lekker is of nie. Net soos jy nieseksuele aanraking wil hê, so is seks vir hom ’n manier om te kommunikeer.

6. Hy wil ’n doel op aarde hê

Sielkundiges meen dat dit wat mense aanvuur en aanmoedig – naas biologiese behoeftes – die behoefte aan ’n lewe vol betekenis is. Niemand wil net rondswerf sonder ’n doel nie. Of dit nou by jou werk of by die huis is, as jy voel dat jy iets beteken, is jou gevoel van eiewaarde groter. Moenie die waarde van jou of jou man se bydrae tot die samelewing onderskat nie.

[pagebreak]

Wat jy kan doen: Help hom om sy doel te vervul

Moedig jou man aan om sy rol as pa, man, sakeman en Christen na die beste van sy vermoë te vervul.

Janette weet dat Jaco sy doel op aarde aan hulle kinders koppel. Sy maak seker dat hy gereeld tyd alleen saam met hulle deurbring sodat die verhouding met hulle pa nog hegter kan word.

7. Hy wil weet dat julle in dieselfde span is

Hy smag na kameraadskap, en nie net die soort wat hy by sy vriende kry nie. Hy wil die versekering hê dat jy aan sy kant is. Altyd. Hy wil voel dat hy nie alleen is nie.

Wat jy kan doen: Verseker hom dat jy daar is vir hom

As jy in die gewoonte geraak het om altyd net negatief van en met jou man te praat, sal jy dringend die kringloop moet verbreek. Maak seker minstens nege uit elke tien opmerkings is positief.

Hettie glo daaraan dat sy by vriende en familie altyd aan haar man se kant moet wees. Selfs al verskil sy van dit wat hy voor ander mense sê, sal sy later wanneer hulle alleen is, dit met hom bespreek.

8. Hy wil seks hê – en baie daarvan

Wanneer julle op ’n fisieke vlak kliek, kan jy weet dat dinge in die res van julle verhouding goed gaan. Mans hanteer ook spanning beter wanneer hulle fisieke behoefte vervul word.

Wat jy kan doen: Sê ja

Na jare se verveling en roetine en ’n man wat selde indien ooit sy waardering of bewondering uitspreek, was seks die laaste ding waarvoor Antoinette lus was.

Antoinette het besef dat net ’n wonderwerk weer vir haar en Nico in die slaapkamer bymekaar kon bring. Sy het besluit om haar eie issues opsy te skuif en met nuwe oë na Nico te kyk. Mettertyd het sy hom weer bewonder en van voor af op hom verlief geraak. “Daardie verliefdheid was die vonk wat ons seksuele verhouding nodig gehad het.” In dié proses het Nico haar ook van voor af begin waardeer.

Dit voel onregverdig om jou maat te gee wat hy die graagste wil hê terwyl jou eie behoeftes geïgnoreer word. As jy wel so ’n klein bietjie van ’n man se kop verstaan, sal jy weet dat hierdie strategie uiteindelik in ’n wen-wen-situasie kan verander. Gee hom wat hy wil hê en hy gee jou wat jy wil hê.