8 groot Kersfees-kopsere opgelos

0
485
kersfees.jpg

Lynette Beer, verhoudingskenner en motiveringspreker, gee raad om die kopsere van Kersfees te vermy.

Kersfees maak my depressief. Almal is vrolik en kuier saam en ek is steeds alleen en sonder rigting.

Niemand is daarvoor verantwoordelik om jou te vermaak nie. Jy sal jou ingesteldheid moet verander en die vrolikheid en samesyn moet geniet! Niemand hou daarvan om ’n lekker tyd met ’n morbiede persoon te deel nie. Hoe gaan jy voel as jy later glad nie meer uitgenooi word nie?

Jy leef nie net vir jouself nie, maar ook vir die mense rondom jou. Besluit om ter wille van hulle vrolik en gesellig te wees. Jy sal verbaas wees oor hoe lekker alles raak as jy jou houding verander. Beplan spesiale goed om tot Kersfees se lekker atmosfeer by te dra.

As jy werklik depressief is, moet jy die regte mediese hulp kry. Gaan sit ook by die voete van die Een oor wie die Kerstyd gaan. Vra Sy hulp om die oorsprong van jou slegte gevoel vir jou te wys sodat jy werklike, ewige genesing kan ontvang. Die waarheid maak jou vry. Dalk het daar iets in die verlede gebeur wat Kersfees vir jou bederf het. Dis nie altyd maklik om vorige seerkry te konfronteer nie, maar dis beslis die moeite werd.

Ek is mal oor al die Kersversierings en Kersliedjies. Is dit verkeerd? My vriendin sê dis kunsmatig en onvanpas.

Dat Kersfees kunsmatig en onvanpas is, is slegs ’n opinie. En dit is moontlik nie jou ervaring nie – so, geniet alles waarop jy van kindsbeen af versot is. Speel jou Kersmusiek, tooi jou Kersboom oordadig en doen jou bes om ’n bydrae te maak tot die hele kosbare atmosfeer rondom Kersfees.

Dit is immers op die Christelike kalender ’n verjaardagviering. Ons weet dat Jesus nie op 25 Desember gebore is nie, maar enige datum is gepas om Jesus te vier. Ja, ons weet daar is mense wat probleme het met die hele Kersboomgedoente en datums en dat dit eintlik van nie-Christelike oorsprong is. Maar ons is Christene en ons vier die geboorte van die beste wat God vir ons gestuur het. Wat die niegelowiges doen, gaan ons nie aan nie en behoort nie eers deel van ons gedagtes te wees nie. Ons het diepgewortelde tradisies oor Kersfees, en as jy een van die gelukkiges is wat dit met vreugde vier, doen so voort!

Hoe hou ’n mens jou familie gelukkig oor Kerstyd? Jy kan tog nie by almal kuier nie?

’n Mens kan net doen wat moontlik is. Die onmoontlike word deur Iemand anders gedoen! Die heel beste wat jy kan doen, is om beurte te maak en al om die ander Kersfees by ’n ander deel van die familie te kuier. Of julle kan onderhandel met die gesin wat die meeste ruimte het.

Moenie dat enige persoon of gesin julle laat sleg voel omdat julle nie noodwendig hierdie jaar by hulle gaan uitkom nie. Neem vooraf ’n besluit hoe julle die tyd gaan deurbring en laat weet almal met wie dit iets te doen het. Wees maar liefdevol en diplomaties, want ma’s en skoonma’s kan nogal besitlik raak oor Kersfees.

Dalk probeer hulle ’n bietjie druk uitoefen of speel hulle op julle gevoelens. Moenie gemanipuleer word nadat julle besluit het nie. As ander besef julle staan by julle besluite, sal hierdie en die volgende Kersfeeste makliker wees.

Kersfees maak ons bankrot. Die kinders wil alles hê wat hulle sien en my man gee links en regs geld uit.

Hou ’n gesinsvergadering. Maak dit amptelik en laat een van die ouer kinders “notule” hou van die besluite wat geneem word. Verduidelik vir die kinders dat Kersfees nie ’n tyd is om aan jouself te dink nie. Dis is ’n tyd waarin ons die goeie gesindheid wat God aan mense bewys het, weer onthou.

Daarom is dit goed om jou omgee vir ander te wys, maar dit hoef jou nie bankrot te maak nie. Stel ’n begroting op en hou daarby – jou man natuurlik ook!

’n Pragtige idee is om die kinders te motiveer om twee skoenbokse (een vir ’n seuntjie en een vir ’n dogtertjie) met geskenkies te vul en dit aan kinders te gee wat miskien niks geskenke sou ontvang het nie. Miskien kan julle as gesin ’n paar inkopiesakke vol noodsaaklike kositems pak en dit dan uitdeel.

Dit sal hopelik jou kinders se gesindheid verander; dit sal trouens selfs vir hulle lekker raak om Kersfees aan ander mense te dink. Leer hulle dat selfsug nêrens tuishoort nie.

Dis die eerste Kersfees sonder ons pa. Ek sien nie kans vir al die trane en hartseer nie…

Eerder as om die trane en herinneringe te probeer vermy, maak dit ’n dag van mooi dinge onthou. Maak die een wat sedert die vorige Kersfees weg is, steeds deel van julle Kersfees. Die trane en die pynlike gemis gaan daar wees – wend dit positief aan. Praat oor hom en deel julle herinneringe. Maak die goeie tye van saamlag en vrolik wees spontaan deel van julle dag. Laat die trane gerus vloei, troos mekaar en geniet die res van die Kersfees sonder skuldgevoelens.

Wat julle ook al doen, moenie Kersfees en die geskenkies en viering kanselleer nie. Maak dit ’n besondere herinneringsdag en sluit die afwesige persoon steeds by die viering in. Dis nie nodig dat dit ’n somber tyd van rou moet wees nie. Die een wat weg is, sou dit beslis so wou hê. Probeer die atmosfeer lig en vrolik hou ter wille van die kinders. Selfs al was jy nie lus om Kersfees te vier nie, doen dit nogtans. Jy sal bly wees jy het.

Ek moet Kersfees werk. Al weer. Wat kan ek doen om deel te voel van die feestelikheid?

Die datum waarop jy en jou gesin Kersfees vier, hoef nie 25 Desember te wees nie. As jy moet werk, besluit op watter dag julle Kersfees gaan vier. Wanneer die kinders groot is en terugdink aan die heerlike Kersfeeste wat julle as gesin saam gehad het, gaan dit glad nie saak maak dat julle dit ’n week vroeër gehou het nie.

Doen jou bes om dit vir jou gesin ’n ware Kersfees te maak. Moet niks afskeep nie! Maak dit eerder ekstra spesiaal omdat julle die dag waarop almal dit vier, gaan misloop. Daar is lande waar hulle Kersfees in Julie vier omdat daar dan sneeu is. Kersfees in Julie is al ’n baie gewilde feestelikheid in byvoorbeeld Australië.

Is dit oukei om my kinders aan Kersvader te laat glo? Of moet hulle weet dis sommer bog?

Tensy julle in die middel van die Amasone woon, ver van alle kontak met mense, dink ek nie jy gaan Kersvader suksesvol uit jou kinders se lewe hou nie. Ag, en hulle word tog so vinnig groot en weet dan alte gou dit was sommer speel-speel en Kersvader was Oupa of oom Jan.

Kersvader kom saam met ons moedersmelk ons lewe in en buitendien is hy onskadelik. Mites en fabels kan hier geen kwaad doen nie, want jou kinders is nie daaraan blootgestel nie. Dit is alles deel van die wonderlike erfenis waarmee ons grootgeword het en ek hoop nie ou Vader Kersfees gaan binnekort sneuwel nie! Hy is ’n geliefde en onskuldige en baie belangrike deel van kinders se kleintyd. Baie gouer as wat jy graag wil hê dit moet gebeur, sal hulle agterkom die Tandmuis en Vader Kersfees was sommer kinderpret wat hulle ouers gebruik het om mooi herinneringe vir hulle oudag te skep.

Onwaar, ja, maar bog? Nee.

Ek wil hierdie Kersfees iets doen wat regtig ’n verskil maak, maar wat?

Waarom gesels julle nie met julle vriende en beplan saam iets moois nie?

Ek ken twee vroue wat harlekynneuse en pruike opsit en dan saam met bejaardes prettige liedjies sing terwyl een hulle met haar trekklavier begelei. Jy en jou vriendinne kan kolwyntjies bak, dit feestelik versier en by plekke gaan uitdeel waar lekkernye en mooi dinge skaars is. Die moontlikhede is eindeloos – al wat kort, is die welwillendheid en entoesiasme en siedaar, iets baie moois is besig om te gebeur. Ek is seker dit gaan ’n tradisie in julle vriendekring word.

Neem net ’n slag die fokus van jouself af; dink aan ander wat minder bevoorreg as jy is en reik na hulle uit. Dit kan ’n baie verrykende en vervullende projek word. Kry die notaboeke gereed, nooi jou vriende en hou ’n dinkskrum. Ek is seker julle gaan met wonderlike idees vorendag kom.

En as julle dit gedoen het, stuur foto’s vir FINESSE en moedig ander aan om soortgelyke projekte in hulle omgewing van stapel te stuur of daarby betrokke te raak.