8 unieke, heerlike koekresepte

0
225
sjokolade_koek.png

Stel jou bakvernuf op die proef met die agt uitsonderlike koekresepte. Gewone sjokoladekoke? Wat wou!

Appelliefie-en-grenadella-pavlova

Genoeg vir 4-6
Tyd: 1 uur

BESTANDDELE
4 groot eierwitte, by kamertemperatuur
210 g strooisuiker
5 ml appelasyn
5 ml mielieblom
10 ml vanielje-ekstrak
250 ml vars room
appelliefies
kiwivrug, in skyfies gesny
110 g-blik grenadellamoes
vars kruisement, vir garnering
 

grenadella_pavlova.jpg

METODE
1. Stel die oond op 140 °C. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit waarop jy ’n 30 cm-sirkel getrek het.
2. Gebruik slegs skoon, droë kombuisgereedskap. Klits die eierwitte met ’n elektriese klitser tot sagte punte vorm.
3. Strooi 5 ml suiker op ’n slag oor die eierwit totdat al die suiker gebruik is. Die eierwit behoort stywe, blink punte te hê. Sprinkel die appelasyn en mielieblom oor die meringue en vou dit liggies met ’n slaplemmes in. Voeg 5 ml vanielje by en vou in.
4. Versprei die mengsel eweredig binne die sirkel op die bakpapier. Maak seker dat die kante effens hoër is sodat ’n holte in die middel vorm.
5. Bak op die middelste oondrak totdat dit ’n bleek eierdopkleur is, ongeveer 15 20 minute.
6. Skakel die oond af en los die deur op ’n skrefie oop sodat die meringue heeltemal kan afkoel. Dit sal effens kraak terwyl dit afkoel.
7. Lig die meringue versigtig van die bakpapier af en plaas dit op ’n opdienbord.
8. Klop die room en 5 ml vanielje-ekstrak tot sagte punte vorm en smeer dit liggies bo-oor die meringue.
9. Rangskik die vrugte bo-op, giet grenadellamoes oor en garneer met vars kruisement.

Deur Anna Montali, bygestaan deur Nomvuselelo Mncube. Foto deur Karl Rogers.

[pagebreak]

Witsjokolade-en-koejawelkoek

Genoeg vir 1 koek
Tyd: 1 uur

BESTANDDELE

Koejawelpuree
750 ml water
450 g suiker
knippie sout
10 ml vanielje-ekstrak
1 kg vars koejawels, geskil en in kwarte gesny

Koek
125 g wit sjokolade, gesmelt
125 ml warm water
125 g botter
230 g strooisuiker
2 ekstragroot eiers
150 ml suurroom
200 g koekmeel, gesif
80 g bruismeel, gesif
knippie sout

Koekvulsel en bolaag
380 g botter
koejawelpuree en -stroop
witsjokoladeskaafsels
 

witsjokolade_koek_met_koeja.jpg

METODE
1. Vir die koejawelpuree: Kook die water, voeg die suiker en sout by en roer totdat die suiker opgelos is. Kook vir 2 minute.
2. Voeg die vanielje-ekstrak en koejawels by. Hou aan kook totdat die koejawels sag is, ongeveer 15 20 minute. Laat dit heeltemal afkoel. Hou die stroop eenkant.
3. Maak die koejawels fyn met genoeg stroop om ’n dik puree te vorm. Druk dit deur ’n fyn sif en hou eenkant. Stel die oond op 200 °C.
4. Bespuit en voer twee 20 cm-koekpanne met bakpapier uit.
5. Plaas die sjokolade in ’n mengbak en voeg die water by. Roer deeglik en laat staan om af te koel.
6. Klits die botter en strooisuiker tot lig en donsig. Voeg die eiers een-een by en klits elke keer deeglik.
7. Klits die sjokolademengsel, suurroom, koekmeel, bruismeel en sout by.
8. Verdeel die beslag tussen die panne en maak gelyk met ’n slaplemmes. Verlaag die oondtemperatuur tot 180 °C. Bak tot ferm, ongeveer 15 20 minute. Laat dit heeltemal afkoel.
9. Vir die vulsel: Klop die botter tot lig en donsig. Voeg die koejawelpuree en genoeg stroop by om ’n emulsie te vorm.
10. Om die koek te maak: Plaas een koeklaag op ’n koekstaander en bedek goed met die oorblywende koejawelstroop. Smeer die helfte van die vulsel oor. Herhaal.
11. Versier met witsjokoladeskaafsels.

Deur Ingrid Casson. Foto deur Greame Borchers.

[pagebreak]

Melkkoek met aarbeie en meringue

Genoeg vir 1 koek
Tyd: 2 uur 15 minute

BESTANDDELE

Vir die koek
6 groot eiers, geskei
230 g strooisuiker
125 ml melk
15 ml vanielje-ekstrak
300 g koekmeel, gesif
10 ml bakpoeier
2,5 ml kremetart
een 385 g-blik kondensmelk
een 380 g-blik ingedampte melk
300 ml vars room

Meringue-bolaag
300 g strooisuiker
80 ml water
4 groot eierwitte
2,5 ml kremetart
 

aarbei_meringue.jpg

METODE
1. Stel die oond op 170 °C. Smeer twee 22 cm diep koekpanne en voer die bodem met bakpapier uit.
2. Klits die eiergele met 200 g van die strooisuiker tot liggeel, dik en romerig. Vou die melk, 5 ml van die vanielje-ekstrak, meel en bakpoeier in en meng goed.
3. Klop die eierwitte in ’n ander bak tot skuimerig, voeg die kremetart by en hou aan klop tot sagte punte vorm. Voeg die res van die suiker geleidelik by en hou aan klop totdat dit stywe blink punte vorm. Dit moet nie te styf en droog word nie.
4. Klits ’n lepel vol van die eierwit in die koekmengsel in en vou dan die res liggies in tot goed gemeng.
5. Gooi die beslag in die koekpanne en bak op die middelste oondrak totdat ’n toetspen skoon uitkom, ongeveer 30 40 minute. Die bokant moet ’n diep goudbruin kleur wees.
6. Laat dit heeltemal afkoel op ’n draadrak voordat jy elke koek in drie lae sny. Plaas die lae op groot borde waarvan die rand wat hoog genoeg is om die melkmengsel wat oorloop, op te vang. Steek gaatjies in al die koeklae.
7. Meng die kondensmelk en ingedampte melk met die room en oorblywende vanielje en gooi ’n klein hoeveelheid oor elke laag. Laat dit intrek. Herhaal totdat die hele mengsel ingetrek het. Skep enige oortollige mengsel wat in die bord afloop weer bo-oor die koek. Dit kan tot ’n uur neem vir die melkmengsel om in te trek en die tempo van absorpsie sal afneem namate die koek versadig raak.
8. Vir die meringue: Meng die strooisuiker en water in ’n klein kastrol oor hoë hitte en roer totdat die suiker opgelos is. Laat die stroop kook sonder om te roer totdat dit die sagtebalstadium bereik, ongeveer 8 minute. Om te toets of dit reg is, gooi ’n klein bietjie van die suikermengsel met ’n lepel in ’n bakkie met koue water; dit behoort ’n sagte balletjie te vorm.
9. Klop intussen die eierwitte tot skuimerig. Voeg dan die kremetart by en klop totdat sagte punte vorm. Voeg die kokende stroop stadig in ’n dun stroompie by.
10. Hou aan klop tot die mengsel baie dik is, en koel genoeg om aan te raak, ongeveer ’n uur. Die hitte van die suiker sal die eierwit laat gaar word, wat dan ’n sagte meringue sal vorm. 11. Sit een laag koek op ’n koekstaander en smeer van die meringue bo-oor. Hou aan om lae te maak tot al die bestanddele opgebruik is.
12. Sit die koek net so voor, of met vars bessies, mango, piesang of liggies geposjeerde pitvrugte.

Deur Ingrid Casson. Foto deur Greame Borchers.

[pagebreak]

Grenadellabotterkoeke

Genoeg vir 6 klein koekies
Tyd: 1 uur 10 minute

BESTANDDELE

200 g botter
200 ml strooisuiker
5 ml vanielje-essens
4 eiers, liggies geklits
200 ml bruismeel, gesif

Vir die grenadellabotter
310 ml suiker
100 g botter
60 ml grenadellamoes
3 eiers, liggies geklits
 

grenadella_koek.jpg

METODE
1. Stel die oond op 180 °C. Smeer ses 7 cm x 9 cm hartvormige koekpannetjies.
2. Room die botter en strooisuiker tot lig en donsig. Voeg die vanielje by.
3. Voeg die eiers geleidelik by die mengsel terwyl jy klits. Voeg die bruismeel by en meng deur.
4. Skep die mengsel in die voorbereide panne en bak ongeveer 20 minute totdat ’n toetspen skoon uitkom en die koeke goudbruin is. Keer uit op ’n draadrak en laat afkoel.
5. Vir die grenadellabotter: Meng die suiker, botter, grenadellamoes en eiers in ’n dubbelkoker en verhit terwyl jy aanhoudend roer, tot al die bestanddele gesmelt en gemeng het.
6. Laat die mengsel kook tot dit dik word en roer af en toe. Dit neem ongeveer 45 minute.
7. Sny elke koek oop en smeer die grenadellabotter in die opening. Strooi versiersuiker bo-oor.

[pagebreak]

Amandelkoek met suurlemoenstroop

Genoeg vir 8-10
Tyd: 1 uur

BESTANDDELE

Vir die koek
300 ml bruismeel
250 ml strooisuiker
100 g fyn amandels
250 g botter, gesmelt
sap en skil van 1 suurlemoen
3 eiers
125 ml melk
125 ml Griekse jogurt, vir opdiening
heuning, vir opdiening

Vir die suurlemoenstroop
250 ml witsuiker
30 ml suurlemoensap
330 ml water
 

amandel_koek.jpg

METODE
1. Stel die oond op 180 °C. Voer ’n ronde 22 cm-koekpan met bakpapier uit.
2. Meng die meel, strooisuiker en amandels in ’n groot bak. Voeg die gesmelte botter, suurlemoensap en -skil, eiers en melk by. Meng goed en skep dit in die voorbereide pan.
3. Bak 45 50 minute of totdat ’n toetspen skoon uitkom.
4. Vir die stroop: Meng al die bestanddele in ’n kastrol, bring tot kookpunt en laat kook vir 5 minute of totdat die vloeistof verminder en verdik het. Laat afkoel.
5. Steek die koek vol gaatjies en gooi die stroop oor. Skep jogurt en heuning oor voor opdiening.

Deur Leila Saffarian. Foto deur Roelene Prinsloo.

[pagebreak]

Mascarpone-en-bessiekoekstruif

Genoeg vir 12
Tyd: 30 minute plus stoltyd

BESTANDDELE

250 ml mascarponekaas
250 ml room
45 ml strooisuiker
5 ml vanielje-essens
30 vingerbeskuitjies
250 ml dessertwyn
250 g aarbeie, opgesny + ekstra
250 g bloubessies + ekstra
100 g okkerneute, gerooster en gekap

Vir die chantillyroom
250 ml room
15 ml versiersuiker
5 ml vanielje-essens
 

mascarpone_koek.jpg

METODE
1. Voer ’n 7 cm x 32 cm broodpan met bakpapier uit; die papier moet oor die kante hang.
2. Klits die mascarpone, room, strooisuiker en vanielje saam in ’n bak totdat dit sagte punte vorm. Plaas eenkant.
3. Doop nege vingerbeskuitjies een-een vinnig in die wyn en pak dit onder in die pan. Smeer die helfte van die mascarponemengsel bo-oor. Bedek met die helfte van die bessies en die helfte van die okkerneute. Herhaal die lae met al die oorblywende bestanddele en eindig met ’n laag vingerkoekies.
4. Bedek met kleefplastiek, plaas op ’n bakplaat en maak dit effens plat sonder om dit heeltemal plat te druk. Plaas oornag in die yskas.
5. Vir die chantillyroom: Klits die room, suiker en vanielje totdat sagte punte vorm.
6. Keer die koekstruif uit op ’n opdienbord, skep die room oor en sit voor met ekstra bessies.

Deur Margie Els-Burger. Foto deur Greame Wyllie.

[pagebreak]

Pynappel-en-piesangkoek

Genoeg vir 12
Tyd: 45 minute

BESTANDDELE

Vir die koek
750 ml koekmeel
5 ml koeksoda
5 ml fyn kaneel
5 ml sout
500 ml suiker
4 eiers, liggies geklits
375 ml kookolie
350 g pynappel, geskil en gerasper
6 piesangs, fyngemaak
5 ml vanielje-essens

Vir die versiersuiker
250 g roomkaas
250 g sagte botter
500 ml versiersuiker, gesif
5 ml vanielje-essens
 

pynappel_koek.jpg

METODE
1. Stel die oond 180 °C. Voer twee 23 cm-koekpanne met bakpapier uit.
2. Sif die meel, koeksoda, kaneel en sout saam in ’n groot mengbak. Voeg die suiker by en maak ’n holte in die middel. Voeg die eiers en olie by en meng goed.
3. Roer die pynappel, piesang en vanielje in. Gooi die mengsel in die voorbereide koekpanne en bak 25-30 minute. Laat die koeke vir 5 minute in die panne afkoel en keer dan op draadrakke uit. Laat heeltemal afkoel.
4. Vir die versiersuiker: Klits die roomkaas en botter tot lig en donsig. Voeg die versiersuiker en vanielje by en meng goed. Plaas vir 20 minute in die yskas om effens te stol.
5. Plaas die twee koeke bo-oop mekaar met ’n laag versiersuiker tussenin. Bedek dan die hele koek met versiersuiker.
6. Rangskik piesang- en pynappelskyfies bo-op indien verkies.

Deur Mart-marié van den Berg. Foto deur Dylan Swart.