8 vrae waaroor elke ma wonder

0
354
ma.jpg

Ma-wees is moeilik! Opvoedkundige sielkundige Jana van Jaarsveld antwoord 8 vrae waaroor elke ma wonder.

Ma-wees is moeilik! Opvoedkundige sielkundige Jana van Jaarsveld antwoord 8 vrae waaroor elke ma wonder.

1. Ek doen my bes om nie een van my kinders voor te trek nie, maar is dit regtig moontlik?

Nee. Dit is nie moontlik om ewe veel van jou kinders te hou nie, want elke kind het ’n unieke geaardheid. Daarom kan jy moontlik met een kind beter oor die weg kom as met ’n ander een. Dit beteken egter nie dat jy nie lief is vir die kind met wie jy dalk meer dikwels kop stamp nie.

Dit is dikwels juis die kind wat baie soos jy is met wie jy die meeste vassit. Daardie karaktereienskappe in jouself of jou man waarvan jy nie hou nie, is dié wat jou omkrap. Selfs al reageer jy nie altyd nie, irriteer dit jou. Dan voel jy skuldig, want jy dink jy is dalk minder lief vir daardie spesifieke kind, maar dis nie die geval nie.

Net soos jy nie met almal in die wêreld ewe goed oor die weg kom nie, gebeur dit binne ’n gesin ook. Dis normaal! Maar in plaas van om dit te ignoreer en te maak asof dit nie bestaan nie, kan jy en jou kind beide dit gebruik as ’n manier om te leer hoe om verskillende geaardhede te hanteer en waardeer.

2. Moet ek met my kind baklei as sy nie twee keer ’n dag tande borsel nie? Hoeveel reëls is nodig?

Dit is nodig dat daar roetine en dissipline vir kinders moet wees, maar dit moet haalbaar wees. Moenie ’n lys van 30 reëls opstel waarby jy en die kinders moet hou nie. Omdat dit so baie is, maak dit die lewe vir julle almal moeilik. Wat help dit jy dink al hierdie reëls uit en nie jy of die kinders kan daarby hou nie? Dit gaan verwarring veroorsaak omdat jy die een dag oor iets raas en die volgende dag nie.

Maak eerder net ’n paar reëls en hou daarby. Die reëls moet haalbaar wees waarby kinders van daardie ouderdom kan hou. Om voor skool en voor slaaptyd tande te borsel is ’n goeie en maklike reël. Maak dit ’n vereiste dat die kinders hulle vuil klere in ’n wasgoedmandjie moet gooi en dat hulle self na ete hulle borde moet terugvat kombuis toe. As hulle dit nie doen nie, kry hulle raas en is daar gevolge. Elke keer. As jy realistiese reëls het, gee jy hulle struktuur sonder om aan die einde van ’n dag totaal uitgeput te wees.

3. Ek wil altyd weet waar my kind is en wat sy doen, want ek gee om! Of is ek oorbeskermend?

Ongelukkig is die wêreld nie meer lief en dierbaar nie. Jy móét weet waar jou kind is. Enige ma se angsvlak sal die hoogte inskiet as sy nie weet waar haar kind is nie. Maar terselfdertyd moet tieners sekere mylpale bereik – hulle moet leer om te sosialiseer en hulle eie plek in die wêreld te kry. En al hoe hulle dit kan doen, is om in die wêreld tussen mense te beweeg.

’n Goue middeweg tussen jou vrees en jou tiener se behoefte om onafhanklik te wees, is weereens om reëls te hê. Besluit byvoorbeeld saam dat sy mag uitgaan, maar dat jy haar op ’n sekere tyd gaan bel om te hoor of sy oukei is, en dan móét sy antwoord. Verduidelik vir haar dat jy bekommerd is oor haar veiligheid, maar dat jy ook verstaan dat sy moet begin leer om selfstandig te wees en dinge te waag. Jy probeer haar nie inperk nie; jy wil bloot weet dat sy veilig is. Sy moet jou angs ook verstaan en akkommodeer.

4. Gaan dit my skuld wees as ek nie ʼn superkind grootmaak nie? Hoe doen ander ma’s dit?

Die samelewing en die media skep die idee dat jou kind so vroeg moontlik aan soveel dinge moontlik blootgestel moet word. Dit is nie noodwendig die beste vir jou kind nie. Kinders het sekere ontwikkelingsfases en jy kan hulle nie aan goed blootstel waarvoor hulle nog nie gereed is nie. As jou kind reg is vir iets, ontwikkel dit! Bly weg van goed waarvoor hy nog nie reg is nie. Jy gaan meer kwaad doen as goed.

Babas begin byvoorbeeld op ongeveer ses maande kruip. Dit help nie jy probeer om hom in daardie stadium te leer praat nie. Sy brein is nog nie reg daarvoor nie. Natuurlik is ’n kind se kans om te presteer beter as hy van kleins af aan opvoedkundige speelgoed en programme blootgestel word, maar kinders wat byvoorbeeld vroeg leer lees of skryf, is nie noodwendig slimmer of meer talentvol nie. Om gedurig jou kind met al wat ’n opvoedkundige speelding is “af te rig”, skep onnodige spanning. Hou eerder die belangrike ontwikkelingsfases in gedagte, sonder om oorboord te gaan.

5. Wanneer gaan my kinders agterkom ek het nie ’n idee wat ek doen nie? Wat op aarde is ’n “goeie ma”?

’n Goeie ma kyk na die wêreld deur haar kind se oë. Sy ken haar kind. Jy kan sommer dadelik uit jou kind se stemtoon of gesigsuitdrukking aflei wat hy wil hê. Jy weet ook wat hy wanneer gaan nodig hê, en is voorbereid daarop. In ’n vreemde situasie gaan hy dalk vir jóú nodig hê – wees dan daar. Vertrou ook jou instink. Daardie eerste gedagte wat by jou opkom, is baiekeer die regte een. Moenie daaroor twyfel nie. As jy dink jou kind is siek of ongelukkig, reageer daarop; jy is heel moontlik reg.

Wees ook sensitief vir die emosie agter jou kind se gedrag. Gestel jou tiener kom by die huis en gooi sy tas neer, moenie met hom raas oor sy optrede nie, sê eenvoudig: “Ek kan sien iets het jou kwaad gemaak en dat jy baie gefrustreerd is.” So maak jy die deur oop om daaroor te praat, en voel hy nie verwerp omdat hy “negatiewe emosies” getoon het nie. Jy kan later, tydens ’n ander geleentheid, met hom praat oor maniere om frustrasie te hanteer. Gee op daardie oomblik aandag aan wat hom nou frustreer.

6. Wat het ek vandag gedoen wat my kind eendag in terapie gaan vertel? En hoe voorkom ek dit volgende keer?

Jy kom op ’n dag vroeg by die skool en sien jou kind sit alleen op die speelterrein. Onmiddellik dink jy jou kind is ’n introvert en dat sy dit by jou geërf het. Jy voel skuldig omdat sy nie maatjies het nie en vir die res van haar lewe (soos jy) alleen gaan wees en uitgesluit gaan voel.

Moenie te gou gevolgtrekkings maak nie. Miskien het sy net ’n bietjie me time nodig gehad en het sy gekies om alleen te wees. Dit is heeltemal normaal vir haar. As jy nou ’n bohaai daaroor gaan maak, gaan sy dalk dink sy moet altyd ’n honderd maatjies hê anders is haar ma ontevrede.

Die fout wat jy maak, is dat jy goed uit jou oogpunt bekyk, en nie uit jou kind s’n nie. Jy maak jou kind se emosies joune. Jy beleef dit as ’n grootmens terwyl dit heel moontlik glad nie is hoe jou kind daaroor voel nie. Laat haar toe om haar eie emosies te voel.

7. Ek voel so jammer vir my seun wat sonder sy pa moet grootword. Sal ek van hom ’n man kan maak?

Ja, jy kan, maar dis belangrik om te weet dat jy nie ’n pa is nie. Jy hoef ook nie in te staan vir een nie. Dis nie jou werk om ’n pa te wees nie, en jy kan nie. Jou werk is om ’n ma te wees en die rol van ’n ma te vervul.

Wat jy wel moet doen, is om gesonde en voor die hand liggende alternatiewe te kry vir die pa wat jou kind nie het nie. Dit kan sy oupa, ’n oom of ’n goeie vriendin se man wees. Jy kan by mense gaan kuier wat kinders van dieselfde ouderdom het en waar daar ’n betrokke pa is.

Maak seker jy het ’n betroubare ondersteuningstelsel wat verstaan dat jou seun ’n behoefte aan ’n pa het, iemand vir wie jy kan vra om ’n bietjie tyd saam met jou seun te spandeer waartydens hulle tipiese manne-goed doen. As daar ’n jagnaweek of ’n pa-en-seun-aktiwiteit is, vra iemand om saam met jou seun te gaan.

8. Grens dit aan kinderarbeid as ek my oudste kind vra om doeke en bottels vir die baba te help aandra?

Baie ma’s verval maklik in die gewoonte om die oudste kind verantwoordelik te maak vir die jonger kinders. En dit is nie die oudste kind se werk nie. Jy sal vinnig sê: “Gaan haal gou vir my ’n doek” of: “Daar huil die baba. Bring vir my sy bottel”.

Dit is nie noodwendig verkeerd nie, maar dit kan nie ál manier wees hoe jy met jou oudste kind kommunikeer nie. Daar moet tye wees wanneer sy ook net ’n kind by jou kan wees. Maak doelbewus tyd vir haar, anders word sy bloot jou helper en niks meer nie.

Oudste kinders word baiekeer met ’n misplaaste verantwoordelikheidsin en skuldgevoelens groot. Dit kan gebeur dat jy sê: “Gaan kyk gou dat jou boetie nie val nie, hy’s by die trap af.” Wat as boetie dan val en seerkry? Dan kan jou oudste dink sy het nie mooi genoeg gekyk nie, want boetie het geval en nou gaan Mamma kwaad wees. Onthou om nie jou oudste kind in die rol van ’n ouer te druk as dinge begin dol gaan nie.