87. Gesond in die feestyd

0
85
dieetwenke.jpg

Jy hoef nie droëbek te bly sit as almal aan lekkernye weglê nie. Kies net die gesonde opsies soos hier onder uiteengesit. Die gesonde keuses volg na die pyltjies.

Hoenderpastei met room en blaardeeg → Oondgeroosterde hoender of kalkoen.

Skaapvleis of ribbetjies en geglasuurde varkboud → Geroosterde beesvleis of varkvleis met mosterdsous of appelpuree.

Geroomde aartappeldis of gevulde aartappels → Gebruik jongaartappeltjies en voeg roerbraai-uie en spinasie by. ’n Mengsel van laevetkaas en parmesaankaas kan bo-oor gesmelt word.

Pampoenkoekies met karamelsous of soetpatats → Oondgeroosterde pampoenskywe met kaneelsuiker. Versoet oondgebakte patats met lemoensap en kaneel.

Groente met ’n witsous of kaassous → Geroosterde groentekebabs of broccoli met kasjoeneute.

Peppermint Crisp-tert, malvapoeding met vla of roomys, vrugtekoek of Kerspoeding → Melktert, kitspoedings of crème caramel, gemaak met vetvrye melk; geposjeerde pere in rooiwynsous.

Koekstruif gemaak met sponskoek of rolkoek, ingelegde en geglasuurde vrugte, kondensmelk, volroomvla, jellie en room → Koekstruif, maar gebruik eerder sponsbeskuitjies, vars vrugte of vrugte ingelê in vrugtesap, laevet- of tuisgemaakte vla, laesuikerjellie en laevetroom of ingedampte melk.

Doopsouse met room en suurroom as basis → Doopsouse van hoemoes, tamatiesalsa, vetvrye maaskaas of ongegeurde Griekse jogurt vir tzatziki (bevat ook komkommer).

Skemerkelkies is ’n kombinasie van alkohol, koeldrank en vrugtesap, wat alles tesame baie suiker bevat. Kies eerder die volgende drankies: Mojito bevat rum, suurlemoensap, sodawater en suiker (sê dat jy minder suiker wil hê); Bloody Mary: vodka en tamatiesap; of ’n Margarita: tequila met suurlemoen- of lemmetjiesap.