Aanneem staan vir Altyd

Jare gelede, op my agtiende verjaarsdag vra ek my ouers:  Soos wie lyk ek?

Ek wou net weet. Net ‘n ietsie.  ‘n Trek. ‘n Oorskulp.  My krulhare. ‘n Geboortevlek.  Ek is ‘n aangenome kind. ‘n Blerrie bevoorregte kind as jy my vra.  Ek weet dit al vandat ek verstand gekry het, maar soos jy ouer raak begin jy tog vrae vra.

Daar was ‘n aansoekvorm, en jare se wag. Nie nege maande van voorberei, die kinderkamer vol wolkies verf, kombersies koop en solank doeke versamel nie.  Geen ‘coochie coo’ oor ‘n groeiende bababoep nie. Ek was iemand se droom, se begeerte en se lewensveranderende telefoonoproep.  “Mevrou Lötter, julle kan maar julle babadogter kom haal”  ‘n Oorstelpte Ma-wat-al-vir-vyf-jaar-wag bel haar niksvermoedende man met haar eie telefoonoproep:  “ONS KAN ONS BABA GAAN HAAL!”

Die Pa-ook–al–vir-vyf-jaar-in-afwagting antwoord:  “Ons kan nie.  Ek het NOU ‘n huis en ‘n kar gekoop! Bedank die baba! (My reaksie toe ek die einste stukkie storie jare later hoor het ek net beantwoord met ‘n rol van die oë.) Wat ‘n lekker wete dat ons vir mekaar bestem was. Soms is blote liefde dikker as bloed. Almal in hierdie gebroke wêreld wil iewers behoort. Nie alleen op ‘n boekrak, maar regtig egtig behoort.

Daarom is daar gesinne en families. Jy is deel van jou mense, jou dam se ganse. Tog sien jy op sosiale media so baie alleenheid.  Ek dink regtig mense is baie alleen, en so op soek na aanvaarding, liefde en bou hul eie ‘aanvaardingsgesin’ op hierdie publieke platvorm.  ‘Likes’ raak ‘n drukkie en ‘comments’ ‘n kuier oor koffie… Daar is gekraakte gesinne en die liefde, respek en geduld sypel deur daardie krake.  Die trane ook.  Hoe baie keer hoor jy nie “charity begins at home”.

Alles begin by jou huis. Jou hele dag se trant word gevorm die oggend voor jy jou blink gepoleerde skoentjies by jou voordeur uitsit. Die stof is afgeskud by jou huismense, en die blink skitter in ander se oê. Solank HULLE net nie die ‘stof’ sien of daarvan begin nies nie.   Jou gesin is die fondasie vir alles.  Waarom is ons tog so kortaf en ongeduldig met hulle.  Die beste woorde wat ek onlangs gehoor het, het min of meer so gelui:

“Daar is seker fout by my maar ek wil liewer gewild wees by my gesin as by die wêreld”.

Dit het my so geraak, en dit is so waar.  As jou kinderjare minder goed was, liefdeloos was, is dit jou kans om jou eie gesin en kinders se fondasie sterk te begin en op te bou met bakstene van liefde.  Ek hou baie van die woorde ‘safe haven’.  Wees die tuisteskepper van ‘n ‘safe haven’ vir jou ganse.  Al het jy nie al die geld in die wêreld om jou huis te maak soos jy dit graag sou wou hê.  Dit is iets waarmee ek soms worstel.  Die nooit genoeg geld hê om dinge te kan doen nie.  Altyd net dit MAAK in ‘n maand. Maak-maak maak ons dit, maar ai, ‘n lekseltjie verf om die mure net weer nuwe lewe te gee.  Nuwe gordyne.  So in my drome met my-hand-onder-ken, berispe die Here my tog.

“‘n House is not a home…….” lees ek (toevallig…) raak.  Aanvaarding, liefde, respek, lag, veilig voel. DIT is tuiste.  Ek het my tuiste een en veertig jaar gelede gekry. Ek bou voort aan my eie een vandag.  So.  Met afgeskeepte mure, ou gordyne is ons blyplek tog ‘n klein stukkie hemel as jy met jou skoene met die wêreldse stof by jou voordeur instap. Wat het jy gedoen met jou eens mooi blink skoene vir die dag?  Het jy iemand laat glimlag?  Het jy vir iemand ‘n fisiese drukkie gegee in plaas van ‘n virtuele een?  Het jy jou beste gegee by jou werk?  Voel jy trots?  Dan is dit waardige stof.

Ek het toe nooit uitgevind of my biologiese ma of pa ‘n geboortevlek het wat soos myne lyk, kompleet nes ‘n klein vissie in my regtersy, maar ek het die bevestiging gekry dat ek my eie liefdeslyn grootmaak en die wêreld kan instuur, want my driejarige het presies dieselfde vissie, dit is net ‘n klein vissie en in haar linkersy.  Niemand het ‘n idee hoe spesiaal daardie ‘stamp of approval’ vanaf die Here vir my is nie.  Laat daar deernis in julle are vloei.  Help om die krake met liefdes-‘ polyfilla’ op te vul.  Jy is geliefd liewe mens… Glo dit.