Aanvullings en oefening hou siekwees weg

1680

Die aktrise Reine Swart (27) vermy gluten, drink aanvullings en doen gereeld oefening om haar immuunstelsel sterk te hou, want daar is nie tyd vir siekwees nie.

Vrugte en proteïen-smoothies vir spiere en energie

Wanneer ek aan ’n vollengtefilm werk, is die dae lank en bedrywig, en dan is ’n voedsame ontbyt noodsaaklik. Met ontbytpap of ’n gladdejantjie (smoothie) begin die dag reg. ’n Gladdejantjie met weiproteïen laat jou liggaam lenige spiere bou (nie groot spiere soos ’n liggaamsbouer nie). Piesang vir ekstra energie werk goed saam daarmee en grondboontjiebotter gee ’n lekker smaak en nog ’n skoot proteïen.

Op stel kry ons middagete. Daar is gelukkig altyd ’n verskeidenheid kos om uit te kies, wat dit moontlik maak om by vleis en slaai, en soms groente, te hou.

Toe ek ’n kind was, was daar selde lekkernye in ons huis. Ons peuselhappies was vrugte en dit is nou nog so. Vrugte – veral perskes en aarbeie – gee my gesonde energie. Ek en my man eet ook gereeld broccoli en slaai. Dit laat ’n mens vars voel. Verder volg ek nie enige uiterste dieetriglyne nie en glo matigheid is goed. As ek lus is vir ’n roomys of iets soets, dan sal ek dit eet.

Gluten maak my siek, daarom vermy ek dit

Gluten knou gewoonlik my immuunstelsel en weerstand teen siektes. Toe ek 20 jaar oud was, is ek dokter toe vir ’n algemene ondersoek. Ek het gedurig opgeblaas gevoel en hoofpyne gekry. Hy het aanbeveel dat ek gluten vir ’n paar weke uitskakel om te sien of my gesondheid gaan verbeter. Dit het. My simptome was baie minder – die opgeblaasde gevoel en hoofpyne was iets van die verlede.

Nou is alles wat gluten bevat taboe, alhoewel dit soms moeilik is om nee te sê vir ’n lekker pizza. Om glutenvry te eet verg beslis ’n bietjie meer kreatiwiteit wat kos betref. As ek steeds hamburgers wil eet, moet ek die rolletjies net vervang met groot sampioene of slaaiblare, en dis boonop lekker!

Omdat pasta ’n gerieflike, bekostigbare ete is, het ek geleer om glutenvrye pasta te maak. Eiervrug is byvoorbeeld ’n goeie plaasvervanger vir pasta. ’n Mens kan ’n heerlike eiervrug-lasagne daarmee maak, natuurlik met lekker baie kaas – ek is gek oor kaas.

Oefeninge en aanvullings gee siekte ’n kishou

Gereelde oefening hou my liggaam sterk om siekte te kan beveg. Dit laat ’n mens goed voel, gee jou energie en help jou om goed te slaap, wat ook belangrik is om jou immuunstelsel op te bou.

Sowat drie keer ’n week gaan oefen ek by die gimnasium, met Cross Fit-tipe oefeninge soos burpees, opstote en hurkspronge. My man, Xander, is die Cross Fit-kenner, en ek volg hom net. Dis ’n dinamiese soort oefening wat ook help om lenige spiere te bou, en dit maak ’n mens fiks. Ons doen dit vir onsself en nie om aan kompetisies deel te neem nie, want daardie mense is op heeltemal ’n ander vlak.

Aanvullings soggens – vitamiene B en C, CLA en omega 3-vetsure – hou ook my immuunstelsel sterk. Dit gee ’n mens meer energie, versterk jou weerstand teen siektes en maak jou brein ook flink. In die winter voeg ek vitamien D by, want Portland kry baie min son in die winter.

Weiproteïen soos dié van Solal (R286,95 by Dis-Chem) kan as ’n poeier by gladdejantjies gevoeg word.