Aarbeie met chantilly-room

0
280
aarbeie.png

Met al die kuiers om die draai, is dit net reg dat jou gaste se monde water vir die aarbeie en chantilly-room.

Genoeg vir 8
Tyd: 1½ uur + afkoeltyd

BESTANDDELE
Vir die pavlova
8 eierwitte
500 ml strooisuiker
30 ml mielieblom
10 ml wit asyn
100 g fyn amandels
100 g gevlokte amandels

Vir die Chantilly-room
500-750 ml room
10 ml vanieljegeursel
15 ml versiersuiker + ekstra
2 handevol aarbeie, middeldeur gesny

METODE
1 Stel die oond op 150 °C. Voer drie bakplate uit met bakpapier. Trek ’n sirkel 18 cm in deursnee op elke bakplaat.
2 Vir die pavlova: Klits die eierwitte met ’n elektriese klitser tot sagte punte vorm. Voeg die strooisuiker geleidelik by terwyl jy aanhoudend klits tot die mengsel glansend en styf is.
Sif die mielieblom oor, voeg die asyn by en vou deur. Vou dan die fyn amandels in.
3 Verdeel die mengsel tussen die sirkels op die voorbereide bakplate en maak die oppervlakke glad. Sprinkel die gevlokte amandels oor. Plaas in die oond, verminder die hitte tot 120 °C en bak 1 uur. Skakel die oond af en laat die meringue in die oond afkoel. Verwyder die bakpapier versigtig en plaas een skyf op ’n opdienbord.
4 Vir die Chantilly-room: Klop die room en vanieljegeurstel tot sagte punte vorm. Meng die versiersuiker deur. Skep een derde van die room oor die eerste skyf meringue. Plaas die volgende skyf bo-op en herhaal die lae. Eindig met ’n laag room.
5 Pak die aarbeie bo-op en besprinkel met ekstra versiersuiker.

Artikel: Margie Els-Burger bygestaan deur Nomvuselelo Mncube
Foto’s: Roelene Prinsloo