Adam Tas: Ek wil mense se lewens raak

0
466
adam_tas.jpg

Vir Adam Tas is sukses nie geld of beroemdheid nie, maar hoeveel mense se harte hy kan aanraak.

Musiek was nie my loopbaankeuse nie; dit het amper per ongeluk gebeur

My eerste gewaarwording van musiek was toe ek drie jaar oud was, by die voete van Koos du Plessis. Letterlik. Dit was kort voor sy dood, êrens by ’n huiskonsert, dink ek. Ek was die tjokkertjie wat met groot oë reg voor hom gesit het. Dit was die eerste keer dat ek iemand sien musiek maak het. ’n Ou wat kitaar speel en sing. Dit was fassinerend. Ek het daardie aand nogal gedink ek wil nie meer ’n brandweerman word nie. Ek wil eendag soos dié oom wees.

Toe ek ’n bietjie ouer word, het ek orrelles begin neem (my ma het ’n orrel gehad), maar dit het nie lank gehou nie. Die orrel-tannie het my vingers blou geslaan, want ek het nie hard genoeg geoefen nie. Ek kan nog ’n bietjie orrel speel, maar my vingers begin sommer vanself pyn!

Daarna was musiek ’n klein deeltjie van my lewe. My ma-hulle het graag Neil Diamond en ander goeie musiek in die huis gespeel. Ek was mal oor Pink Floyd, maar my fokus het na rugby toe verskuif. Dit was in elk geval ’n goeie manier om ’n energieke, rebelse tiener uit die kwaad te hou.

My plan was om eendag vir die Blou Bulle uit te draf, maar op 17 kelder die “geluk by die ongeluk” my rugbydrome. Na ’n ernstige fietsongeluk moes ek maande lank in die bed lê. Dit was erg vervelig; toe vra ek my ma om vir my ’n kitaar te koop. En so, in die bed, het ek myself leer kitaar speel.

Ongelukkig het ek dit heeltemal verkeerd gedoen, want die bladmusiek het net kolletjies gehad om die akkoorde aan te dui, nie nommers vir die regte vingerposisies nie. Ek speel vandag steeds kitaar met die verkeerde vingers. Dit klink dalk dieselfde as ander ouens, maar dit lyk baie anders!

Die fietsongeluk het my geleer dat daar partykeer dinge gebeur om jou weg te ruk van die paadjie waarop jy nié moet wees nie. Dan begin jy die pad stap waarop jy eintlik moet wees.

My leuse is dat jy twee keer so hard soos jou grootste teenstander moet werk.

Dít het ek geleer toe ek vir die eerste keer, ook op 17, voor ’n klomp mense in ’n kroeg opgetree het. Die probleem was dat ek teen daardie tyd al ’n bietjie kon kitaar speel, maar ek kon nie mooi sing nie. Die mense het my uitgejou.

Dit was aaklig. Ek het bloedrooi gebloos en net daar besluit: nóóit weer nie. Ek gaan oefen tot ek goed genoeg is. Dis seker iets wat ek by my pa geleer het; hy sien vir alles kans. Ek het dieselfde uitkyk, dieselfde hardkoppige streep. As jy sê ek kan dit nie doen nie, gaan ek juis hard werk en jou wys ek kan.

Die volgende paar maande het ek myself in ’n werkkamer bo ons motorhuis toegesluit… ’n plek waar ek kon oefen… en óéfen. Ek het myself geleer het om goed kitaar te speel, te sing en liedjies te skryf.

Daarna het ek vir baie jare die pub scene gedoen. Ek het oral in Pretoria in kroeë en kuierplekke opgetree. Dis seker ’n musikant se beste leerskool, want dis waar ek geleer het hoe om ’n entertainer te wees. Jy sing vir ’n klomp dronk mense wat nie regtig gekom het om na jou te luister nie; dus leer jy baie vinnig hoe om jou gehoor te “lees”. Jy weet naderhand wat hulle wil hoor en wat nie en hoe om hulle geïnteresseerd te hou. Maar as één ou weer vir my vra om Hasie te sing (kort vir Bad Moon Rising), gaan ek my humeur verloor!

Dit was nooit my bedoeling om bekend te wees nie.

Bekendheid is nogal ’n swaar las om te dra. Ek wou eintlik net suksesvol wees. Toe Dawie Roodt my nou die dag op Ontbytsake vra wat my definisie van sukses is, kon ek met oortuiging antwoord: om ’n verskil te maak, om mense se lewens aan te raak. As een van my liedjies jou kan laat lag of laat huil, het ek in my doel geslaag. Dan was ek suksesvol.

Vir my het musiek nog nooit daaroor gegaan om naam te maak of om op straat herken te word nie. Ook nie om geld te maak nie. As dit die geval was, sou ek nie tien jaar lank pap geëet het om ’n bestaan as kunstenaar te probeer voer nie. Al wat ek wil doen, is om oor dinge te sing wat vir my belangrik is. Ek wil ’n storie vertel oor iets wat mense se lewens sal aanraak. As mense daarvan hou en daarna wil luister, des te beter.

Om die waarheid te sê, ek is van nature ’n skaam persoon, en die hele bekendwees-ding laat my nogal verleë voel. Dis vir my vreemd as mense my handtekening kom vra of as hulle wil hê ek moet vir ’n foto poseer. Ek wonder instinktief wat hulle daarmee wil maak. Ek is dan net ’n gewone ou. ’n Ander ding is dat ek ernstige verhoogvrees kry. Destyds was dit nie so erg nie, want daar was net 20 mense in die gehoor. Vandag is dit anders. Alhoewel ek in my element is as ek voor mense kan optree, is ek mal-bang dwarsdeur die eerste twee liedjies. Ek sweet my dood! Daarna verdwyn dit gelukkig, en dan geniet ek die optrede.

’n Gewelddadige staking het my die waarde van die lewe laat besef

Dit was ’n paar jaar gelede toe ’n staking handuit geruk en ’n paar stakers op my motor afgestorm het. Hulle het my bakkie met knopkieries vol duike geslaan. Hoekom ék, weet ek nie. Ek was maar net een van ’n klomp mense wat in die omgewing in die verkeer vasgesit het. Gelukkig het ek ongedeerd daarvan afgekom. Sulke noue ontkomings laat jou besef dat jy voluit moet lewe. Jy moet jou eie drome droom en dit waar maak. Een van my grootste drome is dat Klara-Belle eendag haar volle potensiaal sal verwesenlik. Dat sy suksesvol sal wees en nooit sal sukkel of swaarkry nie. Ek werk vandag hard, sodat sy eendag alles sal kan wees wat sy graag wil wees. Ons sal waarskynlik nie nog kinders kan hê nie; daarom sal sy na die beste skole en universiteite toe kan gaan. Ons sal haar in ’n liefdevolle Christelike huis grootmaak, en ek sal graag by haar dieselfde liefde vir die natuur wil kweek as wat ek het.

As dit van my afhang, sal sy Wildsboer van die Jaar 2035 wees! Maar ’n paar dinge sal eers moet verander. Plaasmoorde maak my die happende hoenders in, veral as sleutelfigure in die polisie sê ons oorreageer. Daarom is ek aktief betrokke by ’n organisasie soos AfriForum. Dis my manier om te help veg vir ons boere se regte. Ons kan nie net agteroorsit en hoop dinge verander nie. Ek word ook kwaad vir die korrupsie in regeringskringe. En vir Eskom. En oor die feit dat die petrolprys bly styg, al daal dit wêreldwyd. Ek het egter ook op ’n stadium van my lewe gekom waar ek streef na rustigheid en vrede. Ek dink sterk daaraan om te begin afskaal. Die prys wat ek as kunstenaar betaal om my liefde vir sing uit te leef, is soms baie hoog. Dis nie maklik om 15 tot 20 optredes per maand te doen terwyl jou vrou en kind alleen by die huis bly nie. Dit klink dalk opwindend om elke aand op ’n ander plek te sing, maar om ’n duisend kilometer af te lê vir een optrede, en dan weer ’n duisend kilometer terug te ry vir die volgende een, is nie kinderspeletjies nie.

Ek droom daarvan om eendag my eie plaas te hê waar ek self kan boer terwyl ek steeds so tussendeur sing, want dit sal altyd my eerste liefde bly. Dit sal lekker wees om dieselfde tipe eksklusiwiteit te hê as wat ’n kunstenaar soos Theuns Jordaan het. Bygesê, ek glo nie daaraan om soos enigiemand anders te probeer wees nie. Dis juis ons uniekheid wat ons spesiaal maak. Waarin lê my uniekheid? Dalk in die woorde en stories van my liedjies. Of moontlik in die feit dat ek besef slegte gebeure en teleurstellings hoef my nie te definieer as mens nie. My filosofie? Kom daaroor, leer daaruit en gaan doen dan dinge anders, want só word jy ’n beter mens.