Al die goed

My kop is vandag net so vol dinge soos my omgewing.

Ek voel party dae asof skryf nie net ‘n opsie of ‘n passie is nie,  maar ‘n baie nodige manier om te ontlaai en te voel dat  daar darem nog so ietsie is waaroor ek beheer het. Om woorde neer te pen is vir my ‘n welkome ontvlugting van ‘n oorvol wêreld.

Ek voel ontnugter as ek dink aan alles wat ek met my saamdra. Goedjies, goedjies, en nog goedjies wat gewoonlik net in ‘n alreeds deurmekaar laai beland of êrens op ‘n rak staan sodat stofdeeltjies daar kan vergader. Maar ek kan mos nou lekker breed glimlag want my lewe is fraai versier. Tog bly die ontnugtering aan my knaag. Ek bly besig sodat ek nie so opgeskeep hoef te sit met my gedagtes en my goed nie.

Wat het ek eintlik nodig? Die antwoord op die vraag is glad nie eenvoudig nie. As ek  om my kyk, draai my kop asof ek ‘n hele paar glase sterk drank weggeslaan het. Hoe kan ek besluit wat is reg en wat moet weg as ek ‘n sekere waarde aan min of meer alles koppel? Dis my hele probleem. In my kop word alles aan alles gekoppel. Maar dit is juis dit – dis net in my kop. Ek sou daarvan hou as my kop vir my eerder ‘n spasie was wat ek kon inrig soos ek wil. Ek sal my eerder wil verbeel ek hoor die see of kyk uit oor die berge. Maar ek weet wel, ek het steeds ‘n keuse. Ek kan my gedagtes inrig soos my hart ookal wil.

Kies ‘n skoon lewe. ‘n Lewe sonder onnodige goed. Raak ontslae van goed waarna jy vir ses maande nie gekyk het of gebruik het nie. Raak stil en hou jou lewe eenvoudig mooi.  Want as jy wil dans, moet daar plek gemaak word vir ‘n dansbaan.