Al die groot dinge begin klein

166

Die meeste mense meet sukses aan ’n resultaat in plaas daarvan  om die proses te beplan en te bedink om daarby uit te kom.

As jou droom is om ’n gemaklike lewe sonder uitdagings te hê, kan jy maar nou al jou droom op jou maag skryf en met jou hemp afvee. ’n Betekenisvolle lewe is ’n lewe gekenmerk deur oorwinnings oor uitdagings en opwindende stories wat jy kan vertel.

Praat oor die dinge waarvoor jy hoop

Wanneer ons begin sê wat ons hoop, steek ons ’n vuur aan die binnekant aan wat geloof genoem kan word. Geloof is immers om seker te wees van dit wat ons hoop. Dit is die petrol wat ’n suksesvolle lewe aandryf. Hopeloosheid is die kenmerk van iemand wat opgegee het.

Jy kom elke dag voor die keuse te staan: Praat jy oor die dinge wat jy graag wil hê, of praat jy oor die dinge wat jy nié wil hê nie? Jy word soos ’n magneet vir dit waaroor jy kies om heeltyd te dink.

Ons moet leer (en ook ons kinders leer) om ons gedagtes en woorde te stuur in die rigting van ons drome – nie waarvan ons wil wegkom nie.

Wat jou ore herhaaldelik hoor, sal deur jou brein omgeskakel word in ’n opdrag aan jou liggaam om daarvolgens op te tree. Die prentjie wat jou brein na die res van jou liggaam stuur, is uiteindelik die prentjie van jou lewe. Jy kan kies: realiteit of geloof.

[MENTORKLAS VIDEO] Gryp vandag en laat gister agter…

Verwag sukses in plaas van om mislukking te vrees

Wanneer ’n mens alles reg wil doen, ontwikkel jy ongelukkig ook ’n perfeksionistiese benadering tot die lewe. Dan begin jy later ongelukkig ook om net dit wat nog nie perfek is nie, raak te sien. Dit beteken jy sal nooit tevrede wees nie, want niks is perfek in die wêreld nie.

Fokus eerder jou gedagtes op die klein dingetjies wat wel wonderlik is – sien raak wat kosbaar en goed is. Dit gee ’n ander geur en smaak aan die lewe.

Vir 30 jaar het ek soos ’n “slagoffer” gedink. Ek was vasgevang in ’n web van selfbejammering en oordeel (almal wat alles verkeerd doen en wegkom daarmee).

Op ’n naweekkonferensie saam met vriende het ek besef dit waarmee ek myself besig hou, maak my siek en miserabel. Ek het ’n besluit geneem om die “reus” binne my te verken en die “verloorder” in my te laat sterf.

Neem ’n besluit en gee die eerste tree

Die droom in my hart is wakker gemaak op die ouderdom van 30. Ek wou baie graag ’n boek skryf en my hoop het vlamgevat. Ná ses jaar se pogings het my eerste boek die lig gesien. Vandag het ek reeds ses boeke op die rak.

Niks sal gebeur as jy nie begin om iets te doen nie. Neem die eerste tree. Skryf jou droom op ’n papier neer en visualiseer dit. Dit is die eerste tree. Dan moet jy oor jou hoop en drome begin praat. Deel dit met daardie mense om jou wat jou drome sal ondersteun.

Hoe meer jy fokus op wat jy wil hê, hoe meer sal jy dít wat dit gaan verg om daar te kom, na jou toe aantrek. Hoe meer jy fokus op jou huidige realiteit, hoe meer word dit jou waarheid. Die keuse is joune. Kies om jou drome vlerke te gee. Onthou, drome het nie ’n vervaldatum nie. Begin net, en inspirasie sal jou vind.

Jannie Putter, Leierskaps- en persoonlike ontwikkeling en sportsielkunde

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Jannie.

Gebruik die afslagkode JANNIE om die boek VOLGENDE JAAR JONGER aanlyn te koop op voelgoedboeke.co.za teen 50% afslag. R99 R199