Al in die rondte

Ons sit vas in die laatmiddag verkeer in die middestad van Johannesburg. Die GPS het ons liederlik in die steek gelaat. Daar is geen sein nie.

Ons het nie ‘n idee waarheen om volgende te mik nie. Die bome, winkels en advertensieborde lyk vaagweg bekend. Nee wat, ons is defnitief al hier verby. Ons ry in sirkels. Dis uiters frustrerend. Só kan dit nie aangaan nie! Uiteindelik stop ons en ‘n vriendelike verkeersbeampte beduie ons in die regte rigting.

In ‘n klomp gesprekke hierdie week gesels mense met my oor die herhalende siklusse waarin hul hulself bevind. Vir party is dit vriendskappe wat gereeld beëindig word, vir ander is dit die verkeerde tipe lewensmaat wat hul aanhou kies. Party sukkel om nee te sê in die lewe en ander gun hulself nie die geleentheid om ja te sê vir ‘n slag nie. In watter tipe siklusse bevind jy jouself?

Ek lees ‘n aanhaling in hierdie week van Kim Ikel van die Neuro Coach Institute: ‘You’re not stuck. You’re just committed to certain patterns of behaviour because they helped you in the past. Now those behaviors have become more harmful than helpful. The reason why you can’t move forward is because you keep applying an old formula to a new level in your life. Change the formula to get a different result.’

Dit herhinner my ook aan die Israeliete wat in sirkels in die wildernis beland het omdat hul vertroue in God se leiding skaars was. Hul het aanhou verlang na die goeie ou dae in Egipte. Hul het die metodes wat gewerk het in Egipte probeer toepas in die wildernis en dit het nie gewerk nie. Nuwe opdragte sluit normaalweg nuwe strategie in. Die groot tragedie is dat hul nie hul beloofde land ingaan nie. Joshua en Kaleb is die enigste twee wat die belofte sien waar word.

Numeri 14:24 in die Message parafrase verklap ‘n geheim: ‘But my servant Caleb – this is a different story. He has a different spirit, he follows Me passionately. I’ll bring him into the land that he scouted and his children will inherit it.’

Nuwe seisoene vereis nuwe strategie en nuwe gewoontes.

Is jy gereed om God se plan vir jou huidige seisoen te volg?

Wat moet jy aanhou doen?

Wat moet jy ophou doen?