“Al wat Hý vra, is dat ons gehoorsaam is”

337
Dewald Gouws gospel sanger

Sy geloofspad het tydens ’n visvangnaweek in Hentiesbaai begin, en vandag is hy ’n visser van mense. Hy het gegroei van ’n ou wat op sy dag lekker kon kuier tot iemand wat God se hart deur musiek ontdek het. Dít is gospelsanger DEWALD GOUWS se storie.

Daar was groot sangdrome in my kop en ek was oortuig daarvan dat die Idols-kompetisie die eerste stap na groot dinge sou wees.

Maar toe is alles vroeg al oor, sommer in die tweede of derde ronde! Halfpad deur die liedjie het die woorde vasgesteek en kon daar nie ’n noot verder uitkom nie. Die Idols-droom was aan flarde.

Vandag is dit duidelik dat die tyd, en die ingesteldheid van my hart, nie reg was nie. Alles het oor mý gegaan.

Ná daardie teleurstelling het ek lank geglo dat my stem nie goed genoeg was nie. Ek het die Here geken en was met ’n wonderlike vrou getroud, maar daar was ’n leemte wat met pêlle en buitensporige kuiers gevul is.

Ek het weer een aand ná middernag by die huis gekom ná ’n lang kuier in die kroeg. “Ag, Liefie, só jammer …” het die gewone rympie uitgeborrel.

Nesta het regop in die bed gesit, haar skouers opgetrek en bloot gesê: “Weet jy wat, ek gee eintlik nie meer om nie.”

Haar woorde daardie aand was genoeg om my te laat besef dit kon nie so aangaan nie. Die drinkery en kuiery was besig om handuit te ruk.

’n Paar weke later kom die uitnodiging om in Hentiesbaai te gaan visvang. Een van die ouens in die groep het my dadelik opgeval. Daar was ’n rustigheid, ’n andersheid, omtrent hom.

Toe ons groepie een aand van die viswaters af terugstap woonstel toe, raak ons twee aan die gesels.

Hennie vertel toe hoe hy sy hart vir die Here gegee het en hoe God daarna elke aspek van sy lewe aangeraak het. Sy huwelik, sy besigheid en sy gesin.

Ek het my ore gespits en kon voel hoe my siel daarna hunker om meer te hoor. My hart was ontvanklik. In die woonstel het ons twee in die sitkamer gaan sit en verder gesels, en toe gebeur dit …

Op ’n tasbare manier het die Heilige Gees ons omring. Nie een van ons twee het geweet wat aangaan nie. Al wat ek weet, is dat die trane onophoudelik gevloei het.

Die een oorweldigende gedagte was dat Hy ’n werklikheid is. Toe dit na ’n rukkie kalmer raak, bel ek vir Nesta en al wat kon uitkom, was: “Liefie, Hy leef … Jesus leef!”

“Ek het jou mos gesê,” was haar antwoord. Sy was net so bly. Nesta het toe al jare lank haar knieë deurgebid vir haar hardkoppige man.

My ma was ’n baie gelowige vrou en sy het my kleintyd al na die Here toe gelei. Voor rugbywedstryde op skool het ek byvoorbeeld ons span bymekaar geroep en met die geloof van ’n kind gevra dat Hy ons moes help om die wedstryd te wen. Baiemaal het ons gewen.

Maar soos dit in die lewe gaan, was daar ook teleurstellings. ’n Beste vriend het selfmoord gepleeg. ’n Ander vriend het in die see verdrink.

My ma, wat so opreg in haar geloof was, is deur die kerk onder sensuur geplaas omdat sy haarself groot laat doop het.

Al hierdie dinge – die hartseer van die begrafnisse en die ontnugtering van my ma se sensuur – het ’n negatiewe beeld van die kerk geskep.

Dit het later gevoel asof dit net ’n plek vir ’n klomp skynheilige mense was. Ek was so vol van myself. In daardie stadium het ek nie besef dat mense juis kerk toe gaan omdat hulle gebroke is nie. Om te dink dat die kerk toe later ’n sleutelrol in my roeping sou speel …

Kort nadat ons teruggekom het van die visvanguitstappie af, is ons na ’n mannekamp uitgenooi.

Ná die mannekamp het daar ’n tweede ongelooflike ervaring gevolg. Ek het een nag in die bed gelê en slaap, en myself toe in ’n stadium met lofliedere wakker gesing. Met die hande omhoog, besig met lofprysing

As ek aan daardie oomblik terugdink, wil die trane net loop, want daardie dag het Hy my geroep om vir Hom te sing.

Die deure is deur Hom oopgemaak. ’n Paar dae later het ’n kennis van een van die omliggende kerke by ons huis opgedaag. “Ek hoor jy wil vir die Here werk,” sê hy. “Ons kerk het ’n praise and worship-leier nodig. Wil jy ons nie kom help nie?”

Die eerste gedagte toe was: Hoe op aarde sal ’n mens so iets aanpak? Maar die passie in my hart het te warm gebrand om “nee” te sê.

Die wonder was dat ek daardie Sondag voor die hele gemeente gaan staan het met ’n selfvertroue wat glad nie eie aan my was nie. Ek het gesing, gebid en getuig asof dit al jare lank gebeur. Dit was die begin van ’n splinternuwe, opwindende geloofsreis.

Die Here werk op baie maniere, selfs deur ’n telefoonlyn. ’n Boer, oom Nick, bel op ’n dag uit die OosKaap. Hy vertel hoe hy die vorige jaar by ’n Mighty Men-byeenkoms na my liedjie “Grace” geluister het, en gevoel het dat hy aangeraak word.

“Sien ons Oom weer by hierdie jaar se byeenkoms?” wou ek weet.

“Nee, Boet, die tannie wil my nie laat gaan nie. My lewer en niere is besig om op te pak. Maar ’n vriend van ons sal daar wees, met ’n groot sak lemoene om vir jou dankie te sê.”

“Dis reg, Oom, dankie.” En net daar, terwyl hy in die mielieland staan, bid ek oor die foon saam met die oom vir sy gesondheid.

Toe die Mighty Men-byeenkoms aanbreek, roep iemand my en sê daar is ’n oom met ’n groot sak lemoene wat agter die verhoog wag. Dit was seker oom Nick se vriend.

“Hallo, my seun,” sê die oom en steek sy hand uit. “Oom Nick. Ek is hier om vir jou te sê nadat jy daardie dag oor die foon vir my gebid  het, is ek genees.”

Sjoe, sulke getuienisse slaan steeds ’n ou se asem weg. Daar is net Een wat dit kan doen.

Mense dink dit gaan oor ’n klomp reëls, ’n klomp moets en moenies. Dis glad nie waar nie. Ek braai steeds in die lapa en geniet nou en dan ’n bier saam met vriende.

Al wat van ons gevra word, is dat ons gehoorsaam sal wees. Ons word elkeen op ’n unieke manier gebruik om Sy koninkryk te bou – ondanks ons tekortkominge, onvermoëns en wanbegrippe.

My humeur kan met tye nogal ’n probleem raak. As sakeman is ek nie lus vir lang stories of werk wat half gedoen word nie. Maar, met God se hulp, raak dit al hoe makliker om sulke situasies beter te hanteer. Ferm, maar in liefde. Hy gebruik my steeds, ten spyte van al die karakterfoute.

Daar is ook ’n paar geestelike beginsels waarvolgens ek leef: Soek Hom eerste en alles wat jy nodig het, sal vir jou gegee word. Moenie bang wees om jou vrou (of man) se hand te vat en saam met julle kinders te bid nie. Gebed het groot krag.

In ’n konfliksituasie, onthou dat ’n sagte woord die woede laat bedaar. En gee die deel van jou inkomste wat Hom toekom. Jy kan nooit meer gee as wat Hy reeds gegee het nie.

Dis ironies dat my geloofspad tydens ’n visvangnaweek begin het, want vandag is ek ’n visser van mense. Van verydelde Idols-drome tot ses gospelalbums (twee saam met Manne wat Glo) in vier jaar – net Hy kon so iets laat gebeur het.

Ek het besluit om my musiek gratis beskikbaar te maak en om gratis optredes te doen. My hart is om my musiek met die land te deel.

Met my radio-onderhoude gee ek my selfoon nommer uit, en vra vir elke persoon wat my musiek wil hê om my te kontak, en ek stuur dit aan. Indien iemand gebed of selfs net ’n oor nodig het, is ek daar.