Al wat oor is, is om te bid

Net gister skryf ek ’n nuusbrief vir my ouers se vriende:

Ek sit nou die foon neer. Ek weet nie wat om te skryf nie, want dit gaan nie nou lekker met Ma nie. Sy het vir die tweede keer verkoue en die hele liggaam is nie lekker nie. Sy is moeg. Haar gemoed is soos die weer daar in die SuidKaap, bewolk en koud – die son nie te sien nie. Maar as ons groet en die stemme raak te dun, dan sê sy die Here is goed – ons het nog ’n bed om in te slaap.

Ja, die curve balls raak nie minder as jy siek is nie. Inteendeel. Sy kon nie verlede week vir die 4de chemo gaan nie, want haar bloedtellings was te laag.

Die mediese fonds het ook laat weet dat hulle van nou af net die pynstillers gaan betaal en niks ander medikasie nie. Dit by die reeds hoë apteekrekening.

Pa sê nie veel nie. Hy is aan die stoei om die nat gewaste duvet op die draad te kry.

Mag ek vra dat ons saam vir hulle sal bid. Dat Hy sy genesende hand op haar skouers sal neerlê. Dat haar liggaam sterker sal word. Dat die verkoue sal weggaan en die bloedtellings sal verbeter.

Antwoorde het ons nie altyd nie. Ons verstaan nie hoe God se hande werk nie. Al wat ons kan doen, is om te bid.

Vir wie kan jy vandag bid?