Alles gebeur op die regte tyd

841

Jou doenlysie raak lank en dan word jy vinnig ongeduldig as dinge nie gou gebeur nie. Tog is daar slegs één tyd vir iets om te gebeur, sê Susan Coetzer.

Jy het heel agter in die ry gestaan toe hulle geduld uitgedeel het. Om te wag vir iets om te gebeur of dat iemand anders dit moet doen is net nie ’n opsie nie. Jy wil alles self doen! Omdat jy so is, voel dit altyd of jy op die punt van uitbrand is, of selfs dat God nie daar is of na jou luister nie. Want jy is nie bereid om te wag nie! Alles moes gister al gebeur het.

Is jy ’n natuurlike “gewer”, ’n besige Marthatjie? Besig met God se dinge – “goeie” werke vir die kerk, jou gesin, die skool, die hongeres, oral waar vlytige hande en energie nodig is?

Die wêreld het Marthas nodig – vroue wat nie wegskram om te help daar waar hulp nodig is nie. Jy kry hierdie hardwerkende vroue agter die skerms besig om sop te kook, skottelgoed te was, te organiseer en die kalf uit die put te trek.

Die Marthas van die lewe organiseer dinge om dit gemakliker vir ander te maak. Hulle dra die werklas, die kommer en die verantwoordelikheid. En die Here keur hierdie edel eienskap goed. Hy waarsku ook die hardwerkende Marthatjies om waaksaam te wees en nie hulle eerste prioriteit verkeerd te kry nie, naamlik om by Hóm uit te kom.

Ek bak graag my eie brood as ek tyd het. Dit is vir my wonderlik om al die regte bestanddele bymekaar te voeg, dit in ’n bak te meng en uiteindelik in die oond te druk. Dit verstom my hoe die tekstuur verander danksy tyd en die hitte in die oond. ’n Smaaklose stuk deeg word letterlik getransformeer tot ’n geurige goudbruin broodjie.

Ek moes al in die oond klim en lank (soms bitter ongeduldig en oorhaastig) daar bly. Ek moes toelaat dat God my louter en suiwer. Soms het ek gespartel in die warm oond, met my varkneus teen die oonddeur gebeur en gekerm om uit te kom. Maar God het elke keer Sy kop geskud en my gewys dat ek nog nie tot ’n suiwer “goudbruin” Godbroodjie gebak het nie. Sy oondtemperatuur en baktyd is volmaak – jy hoef nooit aan Sy resep te twyfel nie.

Ek is maar van nature ’n haastige, ongeduldige 100 m-atleet. Ek praat al oor die poeding, terwyl ander nog besig is om die hoofmaal met oorgawe te geniet.

Die lewe, het ek intussen agtergekom, is nie ’n 100 m-resies nie. Dis ’n eindelose marathon. Om die ware eindbestemming te bereik, moet ons leer om gereeld ’n blaaskans te neem, stil te staan en eers rustig op die Here te wag.

Die arende stel ’n baie goeie voorbeeld van balans aan die mens. Hulle gaan gereeld deur ’n seisoen waartydens hulle van die ou vere ontslae raak en letterlik passief moet sit en wag vir nuwe vere en nuwe vliegkrag.

In hierdie rustydperk soek hulle nie eens hulle eie kos nie. Ander “uitgeruste” arende kom voer hulle. Al wat hierdie “afgeboekte” arende mag doen, is wag. Natuurlik, soms met ongeduld, of selfs depressiewe gedragseienskappe.

En dan, op presies die regte dag, wanneer hulle uitgerus en gevoed is, begin die eerste nuwe veertjies uitgroei. Dis splinternuwe vere wat hul vlerke versterk met nuwe krag om daardie nuwe hoogtes te bereik.

Deesdae wag ek op die Here voor ek groot besluite neem. Ek vertrou Hom bo my (oorhaastige) self. Ek trek my handrem op – en wag. Ek wag tot ek Sy stem diep in my gees hoor. Ek wag tot ek nuwe Goddelike krag en insig het voor ek my vlerke oopsprei.