Alles is so kortstondig

0
13
stats.png

Ek lees gister ‘n artikel oor hoeveel jongmense tans besig is om weg te beweeg van verskeie sosiale media soos Facebook, Youtube en Twitter. Daar is verskillende redes daarvoor. Een van die redes is glo omdat te veel ouer mense by sosiale media soos Facebook aangesluit het. Jongmense het nie lus om deur hulle oumas en oupas ge- “stalk” te word nie. Hulle wil ook nie hê dat hulle ouers alles van hul doen en late weet danksy Facebook nie. Verder gebruik ouer mense al hoe meer Facebook om skoolreünies te reël. Dit maak onder andere Facebook al hoe meer ongewild onder die jongmense.

As ek sien hoe vinnig sulke “moderne uitvindings” hulle glans verloor, bly ek verbaas om te sien hoeveel jongmense steeds opgewonde word oor Jesus en oor God se Woord. Ek weet dat daar baie kerke is waar jongmense skaars is, maar daar is ook baie kerke waar daar steeds groei is onder die getal jongmense wat eredienste bywoon. Ek is tans by so ‘n gemeente hier waar ek Pinkster hou (Kenridge NG Gemeente in Bellville). Die gemeente het ‘n baie sterk komponent jongmense. As ek so rondom my kyk, weet ek net dat ons Koning nooit sonder onderdane sal wees nie. Dit is vir my so lekker om die groot getal jongmense hier te sien, en die borrelende lewe en energie te beleef.

Die Psalmdigter sê:  ‘n Mens, hoe verganklik is hy tog: sy dae gaan soos ‘n skaduwee verby (Ps 144:4). Lyk my die dae van Facebook en Youtube en Twitter is selfs nog meer verganklik as die dae van die mens.  Maar God is ewig. Daarom kan die Psalmdigter ook sê: Maar vir my is die Here ‘n veilige vesting. My God is die rots waar ek kan skuil (Ps 94:22).