Ander het altyd groter probleme

0
123

RSG se Martelize Brink voel nie altyd lus om te volhard nie, maar dit is dan dat jy óf moet rus óf moet besluit om positief te dink.

RSG se Martelize Brink voel nie altyd lus om te volhard nie, maar dit is dan dat jy óf moet rus óf moet besluit om positief te dink.

My gesondheidskwessies is die een ding wat my nogal moedeloos kan maak. Baie mense se gesondheid is redelik stabiel, myne is nie. My ystertekort vang my gereeld. Jy lê op ’n bank en voel of iemand bo-op jou lê. Dis frustrerend, want jy wil oefen om fiks en gesond te wees, en daar is al die geleenthede waarheen jy wil gaan. Al wat ’n mens eintlik wil hê, is ’n mate van normaliteit en gesondheid.

Dan byt ’n spinnekop my. Dit vat my vyf maande om reg te kom en ek sit met ’n wond wat elke dag versorg moet word. En net as dit twee jaar later heeltemal regkom, byt ’n spinnekop my op my toon dieselfde oggend van my verjaarsdagpartytjie. Twee dae of drie dae later moes ek vir myself sê: “Ag, sal jy nou dat ’n spinnekopbyt jou onderkry wanneer ander mense met kanker sit?” Dit is ’n ding wat my altyd laat deurdruk. Soms moet jy jouself deur die gesig klap en sê: “Skrik wakker, ander mense het ware probleme.”

Ek dink tog deursettingsvermoë het baie te doen met sosialisering – die voorbeelde wat jy gehad het en alles wat jy deurgemaak het in jou lewe. My familie is almal sterk mense en kan nogal deurdruk. En almal werk hard. Maar belangriker, die uitdagings in jou lewe gee jou meer en meer uithouvermoë.

Ek sit byvoorbeeld heeldag, nou al vir 24 jaar, en ek het elke dag pyn. Jy kan nie wegkom daarvan nie, en ek kan ook nie pynpille drink nie. Dit help ook nie ek sê ek gaan nou maar vroeg aftree en by die huis bly en lê nie. Jy moet jou eie beperkings ken om te besef wanneer dit jou gesondheid regtig sleg begin beïnvloed. Dan moet ek deurdruk totdat ek my werk klaargemaak het en by die huis kan gaan rus.

Die beste deel van om deur te druk met iets, is as jy aan die ander kant kom en die dividende daarvan sien. Dit is so bevredigend. Dis maar soos ’n dieet. Baiekeer word ek moeg daarvoor en wonder hoekom ander mense kan eet net wat hulle wil, terwyl ek elke dag moet oefen. Dan begin ek oefen, en kry dadelik daardie beloning van endorfiene.

Die alternatief van uithouvermoë is om op te gee. Daar is te veel mense wat in baie aspekte van hulle lewens opgegee het, en dit is die maklike pad. Jy dink jy is in jou gemaksone, maar eintlik is jy nie gelukkig nie.

Ek glo natuurlik dis baie belangrik om nou en dan te sê: “Gee my net ’n oomblik. Ek is nie lus om te volhard nie, ek wil net ’n bietjie wallow”. Gee jou liggaam en jou gees ’n kans om in te haal. Wanneer jy griep het of jou gestel af is, is dit dikwels jou liggaam wat wil hê jy moet jou battery herlaai.

Ongelukkig laat mense jou dikwels skuldig voel as jy verlof neem, selfs al is jy siek. Veral in my bedryf voel ek my mede-omroepers word in die steek gelaat. As ek dan na drie dae teruggaan werk toe, doen dit eintlik groter skade. Die moderne samelewing moet ophou om dit aan mense te doen. Iewers moet jy vir jouself kans gee om asem te skep. En dan moet jy weer aan die ander kant kom en besef dis genoeg. Tel nou jouself weer op en gaan aan.