Ander mense se opinie

0
40
Omar.png

Moet ‘n mens jou steur aan ander mense se opinies? Die afgelope naweek se fiasko rondom die omstrede Soedannese president Omar al-Basjir het my weer aan hierdie vraag laat dink.

Moet ‘n mens jou steur aan ander mense se opinies? Die afgelope naweek se fiasko rondom die omstrede Soedannese president Omar al-Basjir het my weer aan hierdie vraag laat dink.

Al-Basjir het die land verlaat terwyl daar ʼn hofbevel was wat dit verbied het. Van oraloor in die wêreld was daar druk op die regering om Al-Basjir gevange te neem, maar dit lyk of die regering, om watter rede ook al, die buitewêreld se opinies oor hierdie saak bloot geïgnoreer het.

Sonder om nou in te gaan op die meriete van bogenoemde saak, en na die reg of verkeerd daarvan, wonder ek wel dikwels oor die vraag tot watter mate ʼn mens jou moet steur aan ander mense se opinies. Soms is ek bly dat nou dat ek ouer is, ek dit regkry om my nie te veel te steur aan mense se ongevraagde opinies nie. Mense moet maar dink wat hulle wil. Ek gaan aan met my lewe en doen wat ek glo reg is.

Aan die een kant is dit ʼn goeie beginsel, want dit is in ek geval onmoontlik om almal rondom jou tevrede te stel. So trek aan wat jy wil, doen wat jy wil, en gaan aan met jou lewe. Maar aan die ander kant is dit tog belangrik om soms net stil te staan en te dink aan hoe jou vriende en mense rondom jou na jou kyk en jou beleef. Dit is belangrik om soms bereid te wees om deur die oë van ander na jouself te kyk, en net jouself af te vra of jy wel op die regte pad is, soos wat jy dink.

Paulus het nogal ag geslaan op ander mense se opinies. Hy wou nie mense rondom hom aanstoot gee nie, en  hy skryf soos volg oor die keuses wat hy maak in sy lewe:  Maak soos ek: ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word (1 Kor 10:33).

Hennie Stander