“Ander se seer het my motiveer”

551
Nantes Kelder

Nantes Kelder, koshuisvader van De Goede Hoop–koshuis in Pretoria, het saam met drie ander mans die hoogste berg in Afrika aangedurf om geld vir behoeftige studente in te samel. Sy gesin en die studente was die motivering agter dié 78 km–klimtog wat ’n oorlewingstryd geword het …

Met elke asemteug het ek na my asem gesnak. Die soeke na asem was aaklig. Hoog en ver weg van dit wat warm en bekend is.

Ek wou ’n verskil maak en manmoedig hierdie avontuur voltooi.

Die bopunt van Kilimanjaro het majestueus in die verte uitgetroon. Dié piek was net 1000 meter weg. Maar dit was ’n staptog van sowat 12 uur wat nog sou voorlê.

Voor hierdie avontuur het ek op ’n punt gekom waar ek bereid was om alles op te offer vir dit waaraan ek glo. Ek het gedink aan elke liewe koshuiskind en geglo dat die pyn die moeite werd is.

Daar is so baie studente met baie potensiaal wat nét nie koshuisverblyf kan bekostig nie. Sommige kon dit aan die begin nog bekostig, maar oor die jare sien ’n mens hoe hulle ouers hulle werk verloor en nie meer die onkoste kan dek nie. Dit is die realiteit van die lewe. Kinders is nie veronderstel om hulle oor finansies te moet bekommer wanneer hulle studeer nie …

Een so ’n geval was ’n meisie wat in ’n tent op ’n plot gebly het. Sy het ingenieurswese gestudeer. Ons wou haar help. Sy het in ons harte ingekruip. Haar verblyf in die koshuis het haar lewe verander. Sy het begin blom en ongelooflik baie as mens gegroei.

Ek en my vrou het haar een aand vir ete uitgeneem. Dit het aan ons harte geruk toe sy ons meedeel hoe die feit dat sy haar hare met ’n haardroër kan droogblaas, haar steeds oorweldig. Iets so eenvoudig soos die beskikbaarheid van elektrisiteit is ongelukkig nie vir almal ’n gegewe nie.

Sy was een van die hoofredes vir die klimtog.

Met elke tree, teen die hoogtes uit, het ek ons eie kinders se name opgenoem. Toe word die koshuisstudente se name opgenoem – van die eerste suite tot die laaste suite. Elke tree het ’n naam gehad.

Dit was die motivering.

Die feit dat hierdie klimtog nie sonder pyn en swaarkry gaan wees nie, het al op dag twee duidelik geword.

’n Reuseverlange na my vrou het my bekruip. Ons het jare lank saam in die polisie gewerk. Sy was altyd die eerste een om van ’n traumatiese toneel te weet. Sy was daar om die pyn te help verwerk.

Op die berg was sy hopeloos te ver weg. Ek wou haar in my arms hê. Haar hoor sê dat alles, die keer óók oukei gaan wees. My emosies het vlak gelê … Veral toe sy nie die eerste keer die foon antwoord toe ons die dag se stap afsluit nie. Vir ’n oomblik het dit gevoel of my lewe inmekaar tuimel.

’n Mens kan jou liggaam ook net so ver strek.

Tydens die laaste aand was die spierspasmas in my rug ondraaglik. Twee treë se loop en dan moes ek weer vir vyf minute rus. Ek het nie gestop nie, net teen hierdie pas voortgestu.

Ná 5000 meter se klim, het my liggaam begin swaarkry. Ek het toe reeds al pille vir hoogtesiekte gedrink. Sowat tien meter van Gilman’s Point af, ’n bekende baken op die berg, het ek vir die gids gesê dat my liggaam nie meer kan nie.

Die vorige nag het ek net sowat twee uur geslaap (maar ook nie geslaap nie). Die lug op daardie hoogte is so dun, jou asem is kort. Jou liggaam smag die heeltyd na meer suurstof. Daardie nagrus het nie veel beteken nie. Ons was 22:00 weer wakker. Teen 23:00 moes jy weer verder stap, met min of byna geen moed of krag nie …

’n Mens leer baie van jouself. En van jou liggaam. Bloed in my urine het my lam van vrees gehad. Ons gids, die dierbare Jackson, ’n Tanzaniër, het my gerusgestel.

Was dit nie vir sy hulp nie, sou my instinkte my al lankal genoop het om eerder om te draai. Hy het my aanhou moed inpraat. Dit pyn omdat ek nie kon asem kry nie, was ondraaglik. Ek was gefrustreerd met myself en my liggaam. Maar ek wou aanhou.

Soos wat elke student se gesig voor my geflits het, het die woorde van Psalm 91 my gedagtewêreld oorheers. Op eie krag kon daar nie meer staatgemaak word nie.

Daar was soveel ander mense wat jou vra om hulle figuurlike berge vir hulle te klim. Een was ’n kankerberg, ’n ander seun in die koshuis het genoem dat sy berg die slegte verhouding tussen hom en sy pa is. Ander se seer, motiveer jou om aan te hou.

Ek kon hulle nie in die steek laat nie. Hou aan, jy moet dit maak, het ek myself aangepor. Dit was moeilik …

Om aan iets anders as die moeilike staptog te dink, het ek die Here begin dank vir die seëninge in my lewe. Dankgebede het ook deel van elke tree geword.

Chris Chameleon, bekende vermaaklikheidskunstenaar, was ook een van die klimmers. Hy was van ons almal die fiksste. In ’n swaarkrystadium het Chris my stip in my oë kom kyk. Ons was doodstil. Daar was nie woorde nie, maar ek kon in sy oë sien “alles gaan oukei wees”.

Dit was vir my ’n keerpunt. Opgee was nie ’n opsie nie. Dié battle sou ek oorwin.

Ek werk elke dag met studente wat met hulle eie trauma en seer rondloop.

Soveel keer hoor ek: “Dankie vir die verskil wat oom in my lewe maak.” Hulle verander my … elke een, selfs die stoutgatte leer my iets.

Vir elkeen van die studente is daar ’n toekoms. Deur die swaarkry, is dit oor hulle gebid.

Ek het nooit die hoogste punt bereik nie. In daardie stadium het die klimtog nie soos ’n sukses gevoel nie.

’n Boodskap van een van die studente was so kosbaar: “Oom, as dit maklik was, het almal dit gedoen.” En ek het besef, dit was ’n lewensuitdaging. Vir hulle, sal ’n mens dit doen.

Hierdie ervaring was lewensveranderend.

Die gidse moes my afdra omdat my liggaam byna ingegee het. Later het ek vir hulle te swaar geword. In ’n stadium kon ek net teen die berg lê sodat hulle ’n ruskans kon kry.

Die gids se angswoorde was dringend: “Nantes, don’t sleep, don’t sleep. If you go to sleep you’ll die.” Sy woorde was aanhoudend.

Hierdie was seker een van die bangste oomblikke nog!

Die gids het basies gesê dat die dood ’n lang oogknip weg kan wees. Ek het na asem gesoek. As ek in daardie dun lug sou ontspan, kon my liggaam enige oomblik afskakel.

Dit was koud en ek was angsbevange. Jy besef dan wat geloof beteken. Geloof word getoets in moeilike tye. Dis maklik om die Here te dien as dit goed gaan.

My gedagtes moes wakker bly. Dit was my enigste kans tot oorlewing. Baie dinge het deur my kop gehardloop. My lewensdoel is op daardie oomblik weer onderstreep en ek het krag gekry om voort te beur.

As ek nou daaraan terugdink, besef ’n mens dat jy ontsteld raak oor dinge in die lewe wat nie eintlik saak maak nie. Sulke oomblikke verander jou lewensuitkyk.

Daar is nie tyd vir negatief wees as jy voel jy het nog ’n kans om ’n verskil in die wêreld te maak nie.