Anders, tog gelukkig

1345

Sangeres en liedjieskrywer CHRISTELLE COMBRINK (Stella) en haar man, Johan, is ’n lewende bewys dat teenoorgesteldes mekaar aantrek. Hulle het mettertyd geleer hoe om die perfekte balans te kry.

Dit gebeur dikwels dat twee persone wie se persoonlikhede baie verskil, met mekaar getroud is.

In teorie is dit die perfekte kombinasie, want dit sorg mos vir balans, of hoe? Balans in ’n huwelik kom egter nie vanself nie. Stella en Johan moes ook eers ’n paar keer van die branderplank afval voor hulle die perfekte balans kon vind om hulle huweliksgolf suksesvol te ry.
Stella is ’n musikant en haar man ’n boer. Haar werk gebeur meestal oor ’n naweek en ’n boer se werk hou nooit regtig op nie.

Met hierdie verskille het dit hulle nogal ’n tydjie gevat om hulle ritme te vind. Hulle het ’n paar duur lesse geleer oor wat werk en wat gesond is vir hulle huwelik.

“Wat ons persoonlikhede aanbetref, is ek ’n introvert, wat floreer in my alleentyd en in ’n klein span,” sê Stella. “My man is weer baie sosiaal en maak homself maklik tuis in enige omgewing. Dit is vir baie paartjies moeilik om persoonlikheidsverskille reg te hanteer.

Elkeen voel mos dat sy manier die regte manier is. Waar ek altyd die beste in mense raaksien, het hy die vermoë om reg deur iemand te sien en ’n situasie vinnig op te som. Ons het al telkemale vasgesit omdat ek nie sy waarskuwings teen sekere mense of situasies ernstig opgeneem het nie. Ek het egter mettertyd geleer om na hom te luister.”

Iets wat Johan teen die mure uitdryf, is die feit dat vroulief alles op die nippertjie doen. “As sy agtuur by ’n plek moet wees, sal sy nooit kwart voor agt al daar wees nie. Sy is óf net betyds óf net-net laat. Ek het al gedreig om haar by die huis te los as sy nie teen ’n sekere tyd in die kar klim nie…” “…en ek weet hy sal dit doen, so, dit help soms om my ’n bietjie te dreig.”

Die Combrinks is beste vriende en is gelukkig om ten spyte van hulle verskillende loopbane en persoonlikhede, dieselfde tipe avonture te geniet. Sy glo dat jy sekere opofferings moet maak sodat jou maat gelukkiger kan wees en sy persoonlikheid kan blom.

Hulle moet saam besluit oor wat elkeen nodig het en wat elkeen kan prysgee, wat hulle prioriteite en waardes is en om altyd met mekaar te praat sodat die dagboeke kan klop.

Hoe behou hulle daardie perfekte huweliksbalans? Eerstens vertroetel hulle hulle vriendskap en gee voorrang aan die dinge wat albei geniet. As kunstenaar moes Stella besef dat sy nie kan ja sê vir elke optrede nie en haar naweke mooi moet beplan sodat sy ten minste een vry naweek in ’n maand het. Johan los ook nou en dan die plaas om haar by optredes by te staan. “Ons maak ’n punt daarvan om deel van mekaar se uiteenlopende wêrelde te bly. Ek ry saam met hom op die plaas rond en hy help my CD’s verkoop.”

Vanuit hulle vriendskap kon hulle ’n ruimte skep waar albei die vrymoedigheid het om alles met mekaar te deel. Daardie ruimte kom nie vanself nie, meen Stella. Jy moet bereid wees om te luister en in jou maat se wêreld in te klim tot dit sy beurt is om in jou wêreld te klim. Dit verg geduld en selfbeheersing, maar die vrugte wat jy pluk, is ’n intimiteit wat elke hart begeer en nodig het.

“As jy en jou man op ’n plek kan kom waar albei daarna streef om mekaar gelukkig te maak, word die opofferings minder tegnies en meer spontaan. Julle balans lê juis in julle andersheid. Omhels dit.”