Andries Vermeulen: “Ek bring hoop saam met die lag”

7661

Storieverteller ANDRIES VERMEULEN se grootwordjare was allesbehalwe ’n grap, maar vandag gebruik hy dit om vir mense hoop saam met die humor te bring.

My sendingveld lyk baie anders as wat ek gedink het. Ek wou met alles in my ’n predikant word, maar hoe meer ek teologie wou gaan studeer het, hoe suksesvoller het ek op die verhoog geraak. Wat nou?

Toe druk die Here dit eendag baie duidelik op my hart: “Jy het hierdie gawe gekry om vreugde na mense toe te bring wat vasgevang is in gister se pyn en môre se worries. Gaan gee vir hulle vreugde, sodat hulle weer sal onthou wat dit is om te lag en gelukkig te wees, maar vat ook My woord saam met jou. Gaan beïnvloed lewens op hierdie manier; dan gaan jy baie meer mense wen.”

Elke aand voor ek op die verhoog stap, vra ek: “Maak die gehoor se harte en ore oop. Raak hulle aan, sodat hulle nie in opstand sal kom nie.”

In ’n volgepakte saal is daar maar altyd iemand wat sal opstaan en sê: “Ek het nie lus hiervoor nie. Hou op met hierdie kerkgoed en vertel eerder nog ’n grap.”

“Ja, ek sal nou weer daar uitkom…,” maar voor ek die volgende grap vertel, wil ek net eers koninkryksgoed deel. Mense smag daarna; na hoop en na waarheid. Hulle soek tools om ’n ander tipe lewe te leef. Ek sien dit in hulle oë. Tog het ek getwyfel of my vertonings die regte tyd en plek was. Tot een aand…

Die ouens het weer lekker gedrink en gekuier, en ek het my grappe vertel so saam met ’n dieper boodskap. Ná die tyd het ’n reus van ’n man na my toe gekom. Hy het gesnik soos ’n seuntjie.

“Ek het vroegoggend in my kar gesit,” het hy begin vertel. “Ek wou selfmoord pleeg, maar my rewolwer het twee keer geweier. Toe gaan sluit ek dit weg en besluit om teetyd terug te kom en myself dan te skiet. By die werk aangekom, sê my bestuurder hy het ’n tafel bespreek vir ’n manne-aand – om na jou te kom luister.”

Die reus reken toe: “Goed, ek sal vir oulaas ’n dop saam met my pelle drink, en my vannag kom skiet as ek terugkom. Maar toe verander alles…” sê hy en vee ’n traan af, “want vanaand het jy die koninkryk van God met my gedeel.”
Dit was my antwoord. Ek was vanaand gestuur vir hierdie een man… en dís hoekom ek moet doen wat ek doen. Dis hoekom ek my storie vertel.

As ek op die verhoog staan, lyk en klink ek suksesvol. Daar waar ek aand na aand voor ’n groot gehoor stories en grappe vertel, ís ek suksesvol. Nie net as vermaaklikheidskunstenaar en sakeman nie, maar ook by die huis as man en pa. Maar dis nie waar ek vandaan kom nie.

“Is dit regtig alles waar of maak jy net grappies?” vra ’n tannie my nou die dag.
“Nee, Tannie, van al die grappe wat ek al vertel het, is dit nie een van hulle nie.”
Die kaarte wat die wêreld vir my uitgedeel het, was agterstand, kinderhuiskind, straatkind, geen hoop, min liefde, weinig goedheid en guns.

Die wêreld was ’n plek wat my wou verrinneweer, maar ek was nog altyd vasberade oor oorlewing.
As ek vir mense die storie van my grootwordjare vertel, sien ek hoe hulle verstar. Hoe hulle sukkel om die Andries van vandag met die bedremmelde kaalvoetseuntjie van my verlede te versoen.

Van armoede kan jy my niks vertel nie. Ek weet wat dit is om water te drink van hongerte om jou maag vol te kry. Om deur die nag wakker te lê en te wag dat dit lig word, sodat jy kan gaan kos soek. Ek weet hoe dit voel om agter die vis-en-tjips-winkel te gaan krap vir iets om te eet, of om uit te hou en te wag vir Pick n Pay se weggooikos. Partykeer het ek sommer kortpad gevat en binne-in die vullisdrom gaan klim en daar gaan soek.

Dit was my lewe, en daarom wéét ek watse groot genade dit is om hier te kan wees. Om regdeur my stuk woestyn te kon loop, al die pad anderkant uit, tot op ’n plek waar ek nou simpatie en empatie met mense kan hê. Waar ek ander se pyn en swaarkry kan verstaan, en vir hulle ’n boodskap van lewe kan gee. Waar hulle na my kan kyk en kan sien hoe God se hoop en genade lyk.

Ek beleef my hele lewe in Deuteronomium 8, waar die Israeliete herinner word aan hulle swaarkry in die woestyn. Die hongerte, die manna, die uitkoms; en hoe hulle nooit moet vergeet Wie hulle hierdeur gedra het nie.
Dit geld ook vir my.

My grootste hunkering as kind was om deel van ’n gelukkige gesin te wees. Ek het sulke gesinne beny en gewens ons kon ook soos hulle lyk. Daardie rooskleurige prentjie wat ek oral om my gesien het: pa’s, ma’s en kinders met glimlagte op hulle gesigte. ’n Liefdevolle eenheid.

As ek terugdink aan ons armsalige sinkdakhuisie, onthou ek die hartseer wat maar van altyd af daar was. My pa se harde woorde en my ma, geteister deur depressie, wat net nie haar lewe op dreef kon kry nie.
Die vuil voete, leë mae en verslete klere. Die swaarkry wat net aan en aan gehou het.

Daar was nooit ’n tyd dat dit beter gegaan het nie. In my boublokke as kind was die lewe net een lang, uitgerekte stryd.
Ons was altyd afhanklik van ander mense. Die kerk of familie wat gehelp het met kos, klere of blyplek. Dan bly ons in ’n buitekamer en dan weer in ’n woonstelletjie, ’n spoorweghuis of in iemand se agterplaas. As niemand gehelp het nie, was daar ook niks.

Dit was ’n kringloop van swaarkry en armoede wat naderhand in jou murg gaan sit. Dit kleef aan jou menswees. Nou nog, as ek na foto’s van myself as kind kyk, onthou ek nog presies hoe daardie swaarkry gevoel, gelyk en geproe het.

Eers dink ’n mens dis maar normaal, tot jy begin fyner kyk en luister. Dan hoor ek hoe my klasmaats praat oor hulle huise en gesinne. Die pret oor naweke en vakansies – en ek hóór die liefde en omgee. In hulle oë sien ek die lag, gesels en kuier om ’n tafel wat kreun onder lekker kos en samesyn.
Eers toe het ek besef: Dis nie deel van mý raamwerk nie. Ek het gelyk na swaarkry en geruik na swaarkry. By ons huis was dinge anders.

Soms moet jy deur die woestyn gaan sodat jy kan weet wat manna is en dit kan waardeer. Dit tref my nou nog hoe losweg party mense oor tienduisend rand praat. Asof dit kleingeld is.
Dit was my en my tweelingbroer, Danie, en die ander arm kinders in die buurt se gunstelingtydverdryf om by winkelvensters verby te loop en ons te verbeel ons het soveel geld in ons agtersakke.

Dan fantaseer jy oor wat jy alles daarmee gaan koop. Sjokolade was heel bo aan my lys. Dan ’n motorfiets en al die ander mooi en lekker goed. Ek het myself ook altyd belowe dat ek nog eendag ’n paar ordentlike skoene gaan koop.
In ons huis was daar ’n bietjie lag en speel, maar ook harde houe en baie geskel.

Ek onthou die groot gevegte as my ma die kosgeld gaan uitdobbel het by die kafee. Of die kere wat sy my waskamer toe gestuur het tot my pa huis toe kom omdat ek stout was. Eers ure later kom hulle agter ek is nie daar nie. Soek-soek, en kry my dan waar ek opgekrul in die mandjie vol wasgoed lê en slaap.
Tog was dit by my ma dat ons die bietjie liefde wat ons geken het, gekry het. ’n Drukkie of sagte woord, want dit was al wat sy gehad het om te gee.

Dinge het nog slegter geraak die dag toe die Sondagskoolbussie vir Danie by die huis kom aflaai het. ’n Motor het hom in die straat getref en weggejaag, terwyl ons in die sitkamer gesit en kyk het hoe dit gebeur. Hy was daarna nooit weer dieselfde nie.

Nog vrees en trauma het gevolg toe my pa kort daarna probeer selfmoord pleeg het in ons garage. Die deur wat hard toeklap, en ons wat dink dis die geweerskoot…

Daar is baie mense wat nie sal wil deurgaan wat ek deurgemaak het nie, maar as ek terugkyk, is ek dankbaar. Dit was moeilike jare wat my gemaak het wie ek is. Ek kan nou waardeer wat ek het.

Vir mense wil ek sê: Moenie vaskyk in wat jy van my sien nie. Kyk na waar ek vandaan kom en skep moed. Uitkoms kom nie vanself nie, dit verg soms moeilike keuses. My eerste groot oomblik van kies was toe ek my pa en my halfsuster (my ma se lankverlore dogter, toe al ’n tiener), saam betrap het.

Sy het by ons kom bly, en mettertyd het sy en my pa ’n seksuele verhouding aangekoop. My ma het op die bank geslaap, terwyl haar man en haar dogter in die kamer ingetrek het. Hoe verwronge kan jy kry?

Die dag toe ek op hulle afkom, het ek besluit: Uit hierdie plek moet ek padgee. Met hierdie tipe lewe gaan ek breek. Ek het my sak gaan pak en geloop.

Deur al die slegte tye was die genade ook altyd daar. In elke seisoen het Hy gesorg vir mense wat my kon leer en op die regte pad help.

Dit het vroeg al begin toe die welsyn ons na ’n veiligheidskool oorgeplaas het. Op die eerste dag sit ek langs CP Louw en ons word beste vriende. Onafskeidbaar.

Naweke het ek by hulle gekuier en mettertyd het hierdie gesin ook my gesin geword. Hartsmense wat ek vandag nog ma, pa, broer en suster noem. As mense my vra waar ek vandaan kom, is my antwoord: “Van Redelinghuys af. My ouers boer daar.”

Hulle was nie ryk mense nie, maar hulle was koninkryksmense. Daar het ek geleer hoe ’n liefdevolle huis lyk. Wat dit is om ordentlik te wees, goeie tafelmaniere te hê, jou huiswerk te doen, en wat dit beteken om te glo.

In my ouerhuis is daar nooit oor die Here gepraat nie. Ons het die Huisgenoot gelees, nie die Bybel nie. My enigste onthou van geloofsgoed was my ouma Margaret, wat dikwels hardop gesing en gebid het. Dan het die res van die mense in die huis haar snaaks aangekyk.
As ek stil raak, hoor ek nou nog haar stem. Dit was deur haar invloed dat die saadjie ook in my hart geplant is.

My genesing het by vergifnis begin. Ek en my vrou is geseën met ’n kleuterseuntjie en ’n babadogtertjie. Dit was lank vir my ’n groot stryd om ons seuntjie te dissiplineer as hy stout was.
“Hoekom sukkel jy?” het ons predikant gevra.
“Want elke keer as ek die plak optel, vat dit my heelpad terug na my ouerhuis toe. Na die kere wat my pa my met die vuis plat teen die grond geslaan het.”

Hy sê toe: “Tot jy nie jou pa vergewe het nie, sal jy nooit die outoriteit in jou seun se lewe kan wees nie.” Dit beteken ek sal nooit waarheid in sy lewe kan inspreek, of selfs met gesag vir ander mense kan vertel hoe ’n koninkrykslewe lyk nie.

Toe besef ek ek móét my pa vergewe. Vir die kere wat hy my gemanipuleer het, gevloek het, vir elke keer wat hy nie opgedaag het as ek hom nodig gehad het nie. Ek moes hom vir alles vryspreek, én dankie sê dat hy my pa is. Tot ek dit nie gedoen het nie, sou ek nooit self die man kon wees wat ek bedoel was om te wees nie.

Ek moes ook my ma vergewe vir die kere wat sy nie ’n ma was nie, en dankie sê vir kere wat sy wel was.

Vir Danie moes ek ook vryspreek. My broer het gekies om sy grootwordjare as ’n verskoning te gebruik om verslaaf te raak aan dwelms. Ek onthou al die nagte wat die dokter my gebel het met die woorde: “Jou broer lê weer hier. Moet ons hom aan die lewe hou?” Die aande wat die polisie my gekontak het om te sê: “Ons het jou broer langs die straat opgetel. Kom haal hom.”

Jy stry daarteen. Dis jou mense. Dit maak baie seerder as wat enigiets anders kan maak, maar tot ek hulle nie kon vergewe nie, kon ek nie vir ander mense sê wat daar van hulle verwag word nie.

Al verloop dinge nie soos jy beplan nie, kies nogtans die regte pad. Om te vergewe het beteken dat ek eers in myself moes gaan krap. Eers moes besin oor hoe en hoekom ek dit wil doen.
Toe ek uiteindelik tot die daad oorgaan, was dit hartseer toe dit nie aanvaar is nie. Dan moet jy dit óók hanteer.

Ek het voor my pa gaan sit en gesê: “Kom ek help jou. Kom ons kry julle goed agtermekaar, gee julle die gereedskap om ’n gehaltelewe te lei. Maar voor ons daar kom, moet ek jou eers vra om my te vergewe. En ek vergewe jou.”

My pa se reaksie was soos altyd. Hy kyk vir my, maar sê niks. Dalk omdat hy nie weet wat om te sê nie of omdat hy niks gehad het om te sê nie.

Volgens hom moes die dinge wat in ons huis gebeur het, nie ’n uitwerking op ons gehad het nie. Vir hom was dit fine, so, wat is my probleem?

Ek het lank daarmee geworstel, tot die Here my op die skouer geklop het. “Jy het gedoen wat jy moes doen.” Hulle is almal steeds op my gebedslysie. Wat ék moet doen, is om te volhard in vergifnis. En as ek kwaad word, moet ek teruggaan na die keuse wat ek gemaak het en weer van voor af vergewe.

Ek het besef ons is gees, siel en liggaam, en om in lyn te bly, moet ek ook hierdie areas van my wese in lyn hou. My liggaam is die voertuig en my gees is verbind tot God se Gees. Maar met my siel neem ek die laaste besluit oor wat ek gaan dink, doen en sê.
Net soos ’n motor se wielbalansering reg moet wees om skade te voorkom, werk ek elke dag hard daaraan om hierdie drie dinge in balans te hou.

Ek word nie voorgetrek nie en dit gaan nie goed met my omdat Hy vir my gekom het en nie vir die res van my familie nie. Ek het nie uit die kringloop van my omstandighede losgebreek omdat ek beter is as hulle nie.

Ons is almal dieselfde gemaak en Hy het elke mens eerste gekies. Die oomblik toe ek Hom ook kies, het ek die volledige koninkryk tot my beskikking gekry – elke belofte oor voorsiening, beskerming, verhouding, verlossing. Dis so eenvoudig soos dit.

Beloftes soos: “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie” (Jeremia 29:11) en “Moenie bang wees nie, want Ek is by jou” (Jesaja 41:10). Ook dat ons oor niks bekommerd hoef te wees nie, maar dat ons moet bid oor alles (Filippense 4:6), want Hy luister na elke gebed (2 Kronieke 7:14-15).

As jy nie die keuse maak om Hom te kies nie, is jy ook nie in staat om jou struikelblokke te oorwin nie. ’n Mens kan slegs floreer as jy binne die Woord leef. Daar was ’n tyd toe ek dit vergeet het. Toe die vuur in my afgekoel het. Ek het die pad byster geraak en weggedwaal. Dom dinge gedoen.

Op ’n dag het ek opnuut besluit tot hier toe en nie verder nie. My sleutels, beursie, lisensies… ek het alles in die kluis voor my op die mat uitgepak en gesê: “Hierdie is my totale besittings, alles wat ek het. Ek verlang na U. Kom ons begin ons vennootskap van voor af.”

Hierna het Hy my uit my bankrotskap gehaal en gesê ek moet gehoorsaam raak. Dis reg, want soms praat ons te veel en luister te min. Om aan ons geloofsverhouding en foute te werk lyk na inspanning, en dan los ons dit liewer.

Ek het ook my tekortkominge, soos ’n baie kort humeur. Swak diens maak my verskriklik kwaad, maar dis steeds nie ’n verskoning nie. Elke slag as my bloed kook, gaan ek terug na die kruis toe. “Dis nie die moeite werd nie. Vergeet dit. Los dit. Loop weg.”

Hy het my geleer om myself summier te verwyder uit swak omstandighede. As ’n situasie nie goed is vir my siel nie, staan ek op, maak verskoning en gee pad.

Ons is in hierdie wêreld, maar ons hoef nie deel daarvan te word nie. Al weet ek vandag wat sukses en ’n goeie lewe beteken, sal ek nooit weer toelaat dat die wêreld my insluk nie. Jy is nie die gevangene van jou verlede nie, maar die argitek van jou toekoms.

My plek is by Sy voete.