Angelique oor boelies en affairs …

0
103
angelique_gerber.jpg

“Vra raad by Angelique!” Op Facebook het julle vrae ingestroom … En hier is die antwoorde. Met ’n graad in sielkunde en meer lewenservaring as wat jy op 31-jarige ouderdom sou verwag, antwoord Angelique uit haar hart uit.

Is dit moontlik om ’n affair te oorleef en indien wel, hoe doen jy dit?

Elma Opperman
Sodra owerspel binne ’n verhouding gepleeg word, is dit moeilik om weer aan te gaan asof niks gebeur het nie. Daar is wel baie huwelike wat so iets oorleef het, maar dan moet albei maats hulle opreg daartoe verbind om nuut te begin. Die een wat ontrou was, moet baie hard daaraan werk om die ander persoon se vertroue terug te wen. En die ander party moet baie hard daaraan werk om regtig te vergewe.

Jy sal in jou hart weet of dit tyd is om te gaan en of jy moet bly en vir die huwelik baklei. Niemand anders kan daardie besluit vir jou neem nie. Net jy weet wat werklik agter die toe deure tussen jou en jou maat gebeur. Jy is ook die enigste een wat weet wat in jou hart omgaan.

As julle saam besluit om weer te probeer, moet julle vir berading gaan en julle omring met vriende en familie wat julle kan vertrou en ondersteun. Dinge gaan nie oornag regkom nie.

My kind word op skool geboelie. Hoe kan ek haar help om dit te hanteer?

Christelle Smit
Baie kinders word geboelie. As klein dogtertjie het ek skielik selfvertroue verloor omdat ek oor my rooi hare gespot is. Ek was nooit skaam nie. Maar omdat ek so gespot is, het ek my later heeltemal onttrek en nie met ander kinders gesosialiseer nie.

Hierdie is ’n baie moeilike situasie, want jy kan nie self met die skuldiges praat nie. Behalwe dat die ouers vies gaan wees as jy hulle kinders direk aanval, kan die tergery nog erger word.

[Pagebreak] Gaan praat met ’n onderwyser wat jou kind vertrou sodat hulle daarvan bewus kan wees en daarna kan oplet. As dit erger word, sal jy boelies se ouers moet kontak sodat hulle daarvan kan weet.

Dikwels is dit net pure jaloesie. Jou kind moet net haar kop hoog hou en nie vir die boelies die bevrediging gee deur te reageer nie. As hulle geen reaksie kry nie, sal hulle gou verveeld raak en aanbeweeg. Bou jou kind se selfvertroue baie op. Vertel haar hoe spesiaal en uniek sy is. Ook dat die Here haar gemaak het soos sy is.

My pa is onlangs oorlede. Hoe help ek my dogter om haar oupa se dood te verwerk?

Landi van Niekerk
Toe ek agt jaar oud was, is my ouma aan kanker dood. Ek en sy het ’n besonder sterk band gehad en sy was baie betrokke by my lewe. Ek was ongelooflik lief vir haar.

Ek was ’n klein dogtertjie en het nie heeltemal geweet wat kanker is nie, maar ek het geweet my ouma was besig om dood te gaan. Die dag van haar dood het die hospitaal laat weet ons moet nou kom, dit gaan nie goed nie. Ons moes ver ry hospitaal toe, maar sy het aan die lewe geklou en geklou tot ons daar gekom het.

Mense sê tyd maak alles beter, maar dit voel vir my of ek meer na haar verlang soos ek ouer word. Daar is tye in my lewe dat ek wens sy was nog hier sodat ek haar kon bel. Ek weet daar is baie mense wat sê dat wanneer jy in die hemel is, jy nie meer gepla is oor wat hier aangaan nie, maar ek glo absoluut sy weet presies wat aangaan. Sy is soos my beskermengel.

As jy klein is, is dit moeilik om jou emosies te begryp of te verwerk. Om te sien hoe swaar my ma kry, was die ergste. Sy het opgehou kerk toe gaan en was baie bitter. Dit was vir haar erg dat my ouma so swaar moes sterf. [Pagebreak] My ouma is deur my oupa mishandel, en die soort kanker wat sy gehad het, is dié wat boksers kry. Sy is letterlik in kanker in geslaan. My ma was kwaad vir my oupa, kwaad vir die Here. Alhoewel ek my ouma gemis het, het die lewe aangegaan. Kinders kan emosionele goed beter hanteer as volwassenes. Daarom glo ek dit is belangrik dat jy as volwassene ook jou pyn en verlies moet hanteer. Stel jou kind gerus dat daar niks mee verkeerd is om te treur nie. Gesels met jou kind oor hoe julle hom mis. Mettertyd sal julle die goeie tye begin onthou.

Is daar enige raad en wenke wat jy vir enkelma’s kan gee?

Suzanne Leyden
Ek het sonder ’n pa grootgeword, maar my ma het alles gedoen om my te laat voel asof ek in ’n normale huis grootword. Daar was nie altyd geld nie, maar ek het nooit gevoel ek kort iets nie. Sy het my in alles ondersteun en liefde was altyd volop. Sy het ook nooit voor my sleg gepraat van my pa nie. My ma dink natuurlik daar is baie dinge wat sy anders sou gedoen het, maar myns insiens het sy my perfek grootgemaak. Maar ek het tog sekere goed gemis. Dit maak nie saak hoe ’n goeie ma jy is nie, party rolle kan net ’n man vervul. Dit help nie jy probeer ’n ma én pa wees nie. ’n Seun het ’n rolmodel nodig en ’n pa speel ’n groot rol in ’n dogter se lewe.

Dit is by hom dat sy haar waardes kry en haar selfbeeld vorm wanneer dit by verhoudings kom. As jy ’n enkelma is, stel ek voor jy vra ’n manlike vriend, familielid of selfs ’n lid van jou kerk – ’n man wat werklik ’n man van God is – om inspraak in jou kinders se lewe te gee. Iemand wat daar is om nou en dan na jou seun se rugbywedstryd te gaan kyk en wat jou kinders totale aanvaarding gee.