Annatjie Jansen van Rensburg

0
25
annetjie.jpg

Ek het geleer … … ’n haarstyl kan jou jonger laat lyk

OUDERDOM 51

EETPLAN Nativa New You

LENGTE 1.55 m

GEWIG 65.1 kg (was 81.3 kg)

VETPERSENTASIE 33.1% (was 39.9%)

Elke keer wanneer ek nog ’n kilogram minder weeg, wil ek op- en afspring van opgewondenheid. Dit is ’n heerlike gevoel as jy sien jou klere sit losser en mense jou nuwe voorkoms komplimenteer. Ek was egter ’n bietjie onseker oor een ding op hierdie reis. Het ek my verbeel, of lyk my plooie meer? Ek het al gehoor dat oorgewig vroue jonger lyk omdat al die vet in hulle gesigte sommer die plooie ook opvul. ’n Mooi, nuwe lyf is opwindend, maar ek het nie geweet of ’n ouer gesig in ruil daarvoor regtig is wat ek begeer nie. Ek wou so jonk lyk soos wat ek voel! My goeie vriend, Juris, het gesê ek verbeel myself. En my vriende kon nie uitgepraat raak oor hoe goed ek lyk nie. Maar steeds sien ek net plooie. Toe kry ek ’n nuwe haarstyl by ’n Gary Rom salon. En dit het my asem weggeslaan. Ek lyk nou vir myself jonger as ooit tevore! Die plooie het ook sommer verdwyn. ’n Nuwe haarstyl is beslis die ideale bykomstigheid vir ’n nuwe lyf. Ek smeer ook Bio-Oil aan my nek, en mense sê hulle kan nie glo ek is al 51 jaar oud nie, want my nek lyk bloedjonk! My nuwe voorkoms het beslis my selfvertroue ’n hupstoot gegee.  

Die sielkundige sê

Annatjie kon nog altyd haar seer goed wegsteek, omdat sy so vrolik voorkom. Sy het baie pyn ervaar omdat sy ’n kleinkind aan die dood moes afstaan omdat die hospitaalpersoneel ’n fout gemaak het. Sy het besef sy moes deur die pyn werk en vorentoe kyk. Hoewel dit steeds ’n traumatiese ervaring is, fokus Annatjie nou op die toekoms.  

My swakplek was … Pap

Ek was so lief vir stywe mieliepap met roereiers en tamatiesous. En dan het ek dit ook afgesluk met volroommelk. Aan die begin van die program was ek nog baie lus daarvoor. Deesdae eet ek dit glad nie en ek is ook nie meer lus daarvoor nie. Ek verruil dit eerder vir lekker gesonde sop en ’n broodjie daarby.