Annette Bening se dogter wil ’n seun wees

0
183
annette_bening.png

Moederskap het aan Annette Bening, wat in Girl Most Likely gesien word, besondere uitdagings gebied. Sy moes vrede maak daarmee dat haar dogter, Kathlyn, ’n geslagsverandering ondergaan het en nou bekend staan as Stephen Ira Beatty.

“Ek wil ’n geslagsverandering ondergaan.” Dit was die skokwoorde wat Annette Bening en haar man, Warren Beatty, by hulle dogter moes hoor. Sy was veertien jaar oud. ’n Mens kan jou kwalik die verwarring en verbasing in die ouerpaar se gemoed voorstel.

Dit gebeur steeds dat sy ouers Stephen per ongeluk op sy vorige naam noem. Die hartseer is dat hulle soms na hulle dogter verlang. ’n Ouer se houding teenoor ’n dogter is uniek en verskil van dié teenoor ’n seun. ’n Pa wil ’n dogter beskerm terwyl ’n ma iets van haarself in haar dogter soek. Annette en Warren moet dus ’n geweldige kopskuif maak, en dis nie maklik nie. Daar is nog wonde wat nie heeltemal genees het nie.

Die stof het nog nie behoorlik gaan lê oor Stephen se geslagsverandering nie toe Annette opnuut geskok is deur haar seun se aankondiging wat hy sonder skroom uitgeblaker het. “Ek wil babas hê,” het hy besluit. “En vir hulle wys hoe dit is om as ’n feministiese transseksueel te leef.”

Stephen het juis sy transformering na ’n man begin deur sy borste te laat verwyder, ’n radikale besluit wat aan sy ouers se harte geruk het. Annette het probeer om haar kind se keuses te respekteer, maar dit was pynlik.

Stephen het nou ’n vaste kêrel, wat moontlik daartoe bygedra het dat hy dit oorweeg om kinders te hê. Die laaste stappe om hom ’n man te maak, is dus vir eers op die lange baan geskuif. Snaaks genoeg, lyk dit ook of hy nou weer meer vroulik begin aantrek en optree.

Die Beatty-gesin eet gereeld in die openbaar saam, en is dit beskou as ’n nie-amptelike bewys dat die ouerpaar hulle seun se keuse aanvaar. Hulle wou wys dat hulle trots is op Stephen omdat hy die moed van sy oortuiging het om te wees wie hy werklik wil wees.

Dis duidelik dat sy ouers nooit opgehou het om vir hulle seun lief te wees nie. Daar was nooit enige sprake daarvan om hom uit die huis te skop nie. Volgens sielkundiges kry transseksuele mense maklik depressie en neig na selfmoord, maar wanneer hulle ouers hulle ondersteun, kan dit tot ’n gelukkiger lewe lei.

Daar is egter ook kritiek teen die Beattys se inskiklikheid. “Hoeveel weet ’n kind van veertien jaar oud?” word gevra. “Veral van seksualiteit?” In sekere kringe is daar geredeneer dat ’n tiener in ’n mate nog “soek na haarself” en nie ’n volwasse identiteit ontwikkel het nie. ’n Onomkeerbare besluit soos ’n geslagsverandering kan dus nie aan so ’n jong en onervare kind oorgelaat word nie.

Stephen se huidige oënskynlike besluiteloosheid word dan ook beskou as ’n bewys hiervan. Vir die meeste mense is die idee van ’n transseksuele, homoseksuele seun wat nou romanties verbind word met ’n man en wil probeer om swanger te raak, uiters verwarrend.

Die Beattys se verskillende gevoelens jeens hulle kind het aanvanklik byna tot die verbrokkeling van die huwelik gelei. Annette Bening het haar vriendin, Julianne Moore, in haar vertroue geneem. Julianne het Annette herinner aan haar liefde vir Warren en haar verseker dat hulle huwelik die storm sal deurstaan. Sy het tyd saam met Annette en haar man deurgebring. “God maak nie foute nie,” is hoe sy die Warrens probeer beïnvloed het om nuut te begin dink oor die situasie. Haar raad het daartoe bygedra dat hulle ’n beter begrip van Stephen se probleme kon kry.
 

DEEL
Vorige artikelSmouse word weggejaag
Volgende artikelKersfeesslaai
Voelgoed
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.