Arabiese vervolging stuit ons nie!

0
180
dissipelskap.jpg

Van dwelms en mishandeling na internasionale dissipelskap, hierdie twee mense se storie gee nuwe hoop.

Hy was haweloos en aan dwelms verslaaf. Sy was in die greep van mishandeling vasgevang. Nico Liebenberg en Corne Peens se reis is verstommend. Maar die verskil wat hulle nou wêreldwyd maak, sal jou hoendervleis gee.

NICO SE VERHAAL

“Rescue Centre 911. My huislose tuiste. Agt van ons slaap in wat eens ’n klaskamer was. Staan in rye vir kos… en om skoon te kom. Die warm water word summier afgedraai, en as jy nie betyds is nie, nou ja, geen stort vir jou nie. Jare gelede was dié sentrum ’n skool. Newlands Primêr. As hoofseun van ’n ander laerskool het ek aan baie sportbyeenkomste daar deelgeneem. Ek was immers die vinnigste in my skool! Min het ek geweet dat ek ’n bietjie meer as 30 jaar later haweloos met my hoed in my hand daar sou staan vir slaapplek.

“My lewe was baie suksesvol. Ek was ingenieursbestuurder by Engen Petroleum, een van Suid-Afrika se grootste maatskappye. Geen uitdaging was vir my te groot nie en ek was bang vir niks. Een aand tydens ’n sakereis in Kaapstad het ’n aantreklike vrou vir my kokaïen aangebied. Daardie aand het ek ’n besluit geneem wat my my gesin, my loopbaan en my selfrespek gekos het.

Ironies genoeg, het Nico midde-in die stryd in homself en die afdraande pad van sy huwelik, nauurs teologie begin studeer. Die jaar van sy uiteindelike egskeiding en finale vervreemding van sy kinders was ook die jaar waartydens hy sy teologiestudie voltooi het. “Ek was ’n gekwalifiseerde pastoor wat maar net nie uit die kloue van verslawing kon ontsnap nie. ’n Verblyf in verskeie rehabilitasiesentrums het nie veel sukses opgelewer nie. Terwyl ek in die Elimsentrum was, het ek verskriklik gebid en God se aangesig gesoek. Een nag het ek gedroom ek staan agter die kansel van ’n enorme kerk en preek vir duisende. In my droom het iemand vir my ’n 21-sleutel gegee. Ek het wakker geword met die wete: Ek is ‘mondig’ en gereed om die Goeie Nuus te verkondig!”

Nico het die oggend toe hy uit Elim ontslaan is, sommer net daar vir die eerste keer gepreek. “Dít was die deurbraak. Uit genade was ek ’n nuwe skepsel. Die ou dinge was vir goed verby.”

Die pad vorentoe was egter nie met rose bestrooi nie. Hy het werk gekry, net om dit weer te verloor. Toe kontak ’n internasionale maatskappy hom via Facebook en bied hom ’n betrekking as algemene konstruksiebestuurder in Iran aan. “Dinge het skielik drasties vir my verander. Ek het baie tussen Iran en Dubai gereis. Die toenemende spanning tussen Israel en Iran het later egter probleme met visums begin veroorsaak.” Op pad terug na Iran het ’n beampte op die lughawe hom vir Nico vervies, sy visum opgeskeur en hom gedeporteer. Hy kon nie teruggaan na Iran nie. Só is hy toe na Oman, ’n Arabiese staat in Suidoos-Asië. Dis waar hy Corne ontmoet het.

[pagebreak]

CORNE SE VERHAAL

Corne se storie is een van vasbyt en deurdruk te midde van baie trane. In 2008 het sy met haar sewejarige seun en 30 kilogram klere landuit gevlug. “Dit was die enigste manier om van my voormalige man en ’n gewelddadige huwelik af weg te kom, al was ons al geskei. Die volgende stap sou ’n hofinterdik moes wees. Ek wou nie daardie weg volg nie.

“Jacques-Franc was my sewende probeerslag na ses miskrame. En toe – die mishandeling in my huwelik. Ek kon nie anders as om wanhopig te voel nie. Soos ’n mislukking. Verder was die uiteinde van ’n reeks hormooninspuitings wat ek weens my miskrame moes neem, die weegskaal se naald wat op 315 kg vassteek. Ek het regtig net een wens gehad en dit was dat die Here my moes kom haal. Ek kon nie verstaan hoekom ek daardeur moes gaan nie.”

Sy het in Oman begin skoolhou. Daar het sy elke dag vir oefening begin stap. Sy vertel dat stap glad nie deel van die Arabiese kultuur is nie. “Motoriste het gereeld by my gestop en gevra of hulle my êrens kan gaan aflaai! Ek het lekker begin gewig verloor. Een middag het twee mans by my stilgehou. Die een het gevra of dit van al die stap was dat ek so maer word. Ek het ‘ja’ gesê en daar trek hy met skreeuende bande weg. Toe ek vir die ander vra waarheen hy dan so jaag, antwoord hy: ‘Hy gaan sy vrou haal’!

“Ek is glad nie ’n alleenmens nie en het die Here vir ’n maatjie gevra. Tydens ’n kuier in Suid-Afrika het ek op ’n vriend se Facebookbladsy op ’n foto van Nico afgekom. Ek het dadelik my ma geroep en vir haar gesê dit is die man met wie ek gaan trou! Toe stuur ek vir hom ’n vriendskapsversoek: ‘Hallo! Nog ’n mater in die woestyn!’ Nico was destyds in Iran. “Dit was veral sy geestelike boodskappe op Facebook wat my geraak het. Ek kon sien hierdie man se hart was op die regte plek!” Nico en Corne het via sosiale media hegte vriende geraak en mekaar moed ingepraat en ondersteun.

[pagebreak]

’N LIEFDESVERHAAL

Op 30 September 2011 het Nico en Corne uiteindelik op ’n stowwerige stuk niemandsland tussen Oman en Dubai ontmoet. “’n Vaste verhouding of trou was nie naastenby op my agenda nie. Toe ons wel by die Hatta-grenspos ontmoet, was dit nag! Ek was half onkant betrap. Terug in Iran kon ek aan niks anders as Corne dink nie. Die mater in die woestyn het stil-stil my hart gesteel! Ek het die Here gevra vir ’n vrou wat lief is vir my. Vir mý. Corne het my lus vir die lewe herstel. Jip, ek is woes lief vir haar!”

Nico het op 11 Desember 2013 ’n ring aan Corne se vinger gesteek. Hy het ’n werkskontrak in Oman gekry en daarheen verhuis.

“Ek het op daardie stadium Facebook as my bedieningsplatform gebruik. Ek is deur ’n man uit Rusland wat my op Facebook gevolg het, ’n pos as omroeper by ’n internet-radiostasie aangebied. Later het ek en Corne ’n Arabiese radiostasie begin. Een aand het ek en ’n baie goeie vriend van my – ’n Jordaniese pastoor – tot laat sit en gesels. Op ’n stadium het hy só opgewonde geraak oor God dat hy sy Arabiese Bybel gaan haal het en vir byna ’n uur en ’n half hartstogtelik op lug gepreek het. Die volgende dag het die doodsdreigemente begin. Ek moes die radiostasie sluit.

“Dit was die geboorte van Rainbow Gospel Radio. Ek en Corne het die oortuiging gehad om ’n Christelike internet-radiostasie begin wat 24/7 die Boodskap van Hoop verkondig. Corne het op die naam ‘Rainbow’ gekom – die teken van God se genade, asook verteenwoordigend van die nasies van die wêreld. Al wat ons uitsaai, is preke en gospelmusiek. In die aande is daar gewone sekulêre programme met ’n gospelinslag. ’n Internet-radiostasie val nie onder die mediawette van enige land nie. Met my skootrekenaar en 4G-modem kan ek enige plek ter wêreld uitsaai.”

Sosiale media soos Facebook en die internet is die interaktiewe ‘gom’ wat Rainbow en sy luisteraars as ’n wêreldfamilie saambind. “Ja, daar ís vervolging. Ek en Corne het byvoorbeeld op Whatsapp ’n boodskap uit Jemen gekry waar hulle dreig om ons koppe af te kap as ons nie staak waarmee ons besig is nie. Hulle het selfs ’n videosnit aangeheg van ’n persoon wat onthoof word.” Ook Corne se ouers in Suid-Afrika is met die dood gedreig. Die boodskap was: “Get them out of Oman or they will be killed!

[pagebreak] Nico en Corne het egter besluit om, sonder om roekeloos te wees, nie weg te kruip nie. “Ek kry elke dag boodskappe uit Iran, Pakistan, Sirië ensovoorts van luisteraars wat smeek: ‘Help ons, ons word vermoor!’ Daar is ook baie getuienisse. Een van ons luisteraars was byvoorbeeld op die punt om selfmoord te pleeg toe iemand by die radio inskakel en sy ’n gedeelte van my boodskap hoor. Sy het daarteen besluit om haar lewe te neem.

“Die Here is groot. En Sy genade… dis onbeskryflik. As ek terugkyk, sien ek net genade en ’n perfekte plan. Kyk net na Rainbow Gospel Radio. Dit is duisende se enigste kerk. Ons bid saam met dwelmverslaafdes, mense sonder uitkoms in hulle huwelik, haweloses en mense met selfmoordneigings. Ons kan help, want ons was self daar.

“Ek sien myself tone in die stof staan voor Rescue Centre 911. Ek sien die drie motorwrakke waarin ek net-net die dood vrygespring het. Ek onthou die pille wat ek gedrink het met die hoop om nooit weer wakker te word nie… die donker stege en dwelms se bedrieglike euforie. Ek dink aan my drie kinders wat nie veel van hulle pa dink nie. Dan onthou ek Romeine 8:28: Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dan sit ek my oorfone op, skakel die mikrofoon aan en roep al die nasies tot dissipels van Hom – die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Amen.”

*Webwerf: http://www.rainbowgr.com
Facebook: Rainbow Gospel Radio (Blad)